Lilie sê dankie met drukkies vir hospitaalpersoneel
Op die dag van haar ontslag uit die hospitaal het klein Lilie Fouché vir elke suster ’n drukkie gegee.
Lilie (Lemay) Fouché het Dinsdag van suster tot suster geloop vir drukkies om dankie te sê vir hul ongelooflike versorging in die pediatriese intensiewe eenheid van die Alberton Netcare Hospitaal.
Haar ma, Marna, en Marna se verloofde, Jacque Ferreira, het ook vir hulle ’n koek oorhandig.
@middelburgobserver Die agtjarige Lilie Fouché (van Middelburg), wat ernstig beseer is in ’n ongeluk, sê dankie vir hospitaalpersoneel van Alberton Netcare Hospitaal wat ’n maand na haar omgesien het. Sy is hierdie week ontslaan.
Lilie was ’n maand in dié hospitaal na ’n ernstige ongeluk op 19 September, waarin haar pa, Mornay, gesterf het. Haar oupa, Johny, is twee weke later weens nagevolge van die ongeluk oorlede.
Die hele gesin het hierdie week ook elke persoon bedank wat hul hare afgeskeer het ter ondersteuning van Lilie, wie se hare afgeskeer is vir die breinoperasie.

’n Groot dankie gaan aan elke Middelburger, asook mense wêreldwyd wat vir Lilie gebid het en steeds vir haar bid en vir hulle boodskappe stuur.
• Kort na die ongeluk is daar ’n gebedsbyeenkoms gehou bokant Laerskool Kanonkop (waar Lilie ’n leerling is) waar die gemeenskap vir Lilie gebid het. Haar toestand was op daardie stadium baie ernstig.
Lees ook: Video: Gebede en ballonne gaan op vir klein ‘Lilie’
• Daar word tans ’n dankseggingsgeleentheid beplan, waartydens Lilie self die bordjie waarop daar vir gebede vir haar gevra word, van die skoolheining sal afhaal. Sodra al die reëlings gefinaliseer is, sal ons dit publiseer.
