Strooptog van watermeters duur voort
Met vier verdagtes steeds in aanhouding, blyk dit egter of die stryd teen watermeterdiefstalle nog nie verby is nie.
Watermeterdiewe gaan net voort met hulle strooptog en daar is ’n string gevalle in Aerorand gerapporteer.
Volgens Piet Steyn, ’n lid van die gemeenskapspolisiëringsforum sektor 3.1, is daar minstens sewe gesteelde meters gisteraand gerapporteer.
“Dit blyk dat Aerorand hulle nuutste teiken is en ons wil graag inwoners waarsku om waaksaam te wees,” het Steyn gesê.
Die sewe watermeters wat deur die nag gesteel is, is in die volgende strate aangemeld:
• Twee op die hoek van Oranje- en Soutpansbergstraat.
• Twee op die hoek van Bothasberg en Soutpansbergstraat.
• Twee in Damstraat.
• Een in Soutpansbergstraat.
“Hierdie probleem sal nie opgelos word totdat die polisie toeslaan by die skrootmetaalhandelaars wat dit oorkoop nie,” het Steyn gewaarsku.
Steyn het bygevoeg dat die munisipaliteit reeds oorweldig is met pypbarste, en dit hulle ’n geruime tyd gaan neem om al die meters te vervang.
Sekere inwoners sit ook tans sonder water, en gedeeltes sal afgeblok moet word vir die vervanging van meters.
Duisende liters water word ook vermors.
• Die vier verdagtes wat in Oktober gearresteer is vir die beweerde diefstal van watermeters is steeds in aanhouding.
Lees meer:
