Snydende kommentaar na ongeluk, maar daar is tog ook ‘God se genade’
Talle mense het snydende kommentaar gelewer oor die ongeluk in Dennesig, sonder om te weet wat werklik gebeur het.
Afgestomp deur die brutaliteit van sosiale media.
Sondagoggend is daar ’n boodskap op ’n WhatsApp-noodgroep: “Man het in Harry Gwalastraat in ’n boom vasgery, hy sit vas, stuur nooddienste”.
Dit is om die hoek waar ek bly en besluit om te gaan hulp verleen.
In die bakkie sit ’n man met ’n sigaret tussen sy vingers, hy kla sy nek en rug pyn verskriklik.
Hy het nie ’n aansteker nie.
Mense ry verby, kyk net na die toneel en skud hulle kop.
Niemand help nie.
’n Lid van ’n sektorgroep stop ook later om die hoek, sit net daar.
Die insleepdienste is eerste op die toneel.
Ry gou om vir die man ’n aansteker te gaan haal.
Bel vriende om sy besittings te kry.
ER24 daag op en hanteer hom met deernis.
Later die oggend berig die Middelburg Observer op sy webblad: “Slag toe bakkie ’n boom tref ruk almal in die omgewing wakker”.
Lees ook: Slag toe bakkie ‘n boom tref ruk almal in omgewing wakker
En toe wys die mensdom hoe afgestomp hy is.
Ridders van sosiale media braak hulle verfoeilike gif in dik strome.
Hulle is meer bekommerd oor die boom as die mens.
Hy wat op pad was na Groblersdal en vir ’n voertuig in sy baan uitgeswaai en toe die boom getref het.
Wat doodnugter in in die bakkie gesit het.
Donderdagaand bel hy om te sê dankie vir die hulp maar die kommentaar na die berig maak seer.
Hy het nog pyn.
Wil nie sy naam noem nie na die snydende kommentaar.
Kommentaar soos dié van Mona van Niekerk: “Die boom het seker voor hom ingeloop”.
Alex Kriel: “Hy was seker gesuip”.
Louis van Deventer: “Boom was seker gesuip”.
Anton Pretorius: “Ek wil eendag soos my oupa stil heengaan nie skreeuend soos die mense agter op sy bakkie nie”.
Hester Rheeders: “Seker weer gesuip”.
Manie Strydom: “Innige simpatie aan die boom”.
Derick Smith: “Die boom gaan nou die skuld kry”.
Pam Roux: “Is baie bly die boom is ok”.
Juandre Leroy Benadie: “Het die boom net voor hom ingespring?”.
Thea van der Walt: “Het bietjie te ver links gehou maar dit is wat brandewyn doen”.
Gert Odendaal: “Middelburg se mense het ’n probleem met dehidrasie, julle sal meer moet drink”.
Daar was darem menslikheid al was dit in die minderheid.
Jaco Sampson skryf: “Net God se genade” en Lane Clara skryf “is bly dit kon so anders gewees het, dank God”.
Ironies speel Ozzy Osbourne se liedjie, Changes, toe ons Sondag huis toe ry van die ongelukstoneel af:
I feel unhappy
I am so sad
We’re going through change
But I found my way
You know the world
Is an evil place?
