News

Video: Uil met gat in vlerk gered

’n Pragtige gevlekte oor-uil met ’n gat in sy vlerk, is vanoggend gered.

Inwoners in Colleystraat (Dennesig) het vanoggend ’n gevlekte oor-uil, wat in ’n hoekie langs ’n motorhuis gesit het, gered en is hy op pad na die Birds of Prey rehabilitasiesentrum in Dullstroom.

Me. Lanie du Plessis vertel dat haar man, Stiffie, net na 06:30 die uil opgemerk het waar hy langs die motorhuis in ’n hoekie sit.

Sy het dadelik hul bure Maria de Beer en Abel Erasmus, gekontak, omdat die egpaar met voëls teël en dus ook ’n vangnet het om die uil te vang.

Abel en Maria se seun, JP, het die uil met die net gevang en hom versigtig in ’n hok gesit. Abel en Maria se seun, JP, het die uil met die net gevang en hom versigtig in ’n hok gesit.

Op die video (wat hulle goedgunstiglig beskikbaar gestel het) kan ’n mens hoor hoe een van hul papegaaie omgekrap gesels oor die onbekende ‘dierasie’ in die vanghok.

Die gevlekte oor-uil pas nadat hy gevang en veilig in die vanghok gesit is.

Die gesin het die Veediefstal en Bedreigde Spesie-eenheid kort nadat hulle hom gevang het, laat weet.

Die eenheid het in samewerking met die Middelburg Herpetologiese Vereniging die uil gaan haal en na die Kanonkop Dierekliniek toe geneem.
Volgens dr. Fransuné Nortjé het drs. Clarissa du Toit en Belinda Kok die uil ondersoek en gesien dat daar net ’n klein gaatjie in die uil se vlerk is. Dit lyk of die uil dalk gebyt is of in iets vasgevlieg het.

Omdat die wond al ’n dag of wat oud was, was dit nie nodig vir steke nie en is antibiotika en pynmedikasie toegedien. Daar was geen ander beserings nie en die uil se pote is ook gesond. “Ons glo hy sal volkome herstel,” sê dr. Nortjé.

• Die Veediefstal en Bedreigde Spesie-eenheid het gereël dat die uil vandag nog na die Birds of Prey sentrum in Dullstroom sal gaan, waar ’n veearts na hom sal omsien tot die wond gesond is en hy waarskynlik binnekort weer losgelaat sal word.

• Beide die Veediefstal en Bedreigde Spesie-eenheid en die herpetologiese vereniging bedank die inwoners van Dennesig en die dokters van Kanonkop Dierekliniek vir hul hulp met die uil.

• In Januarie 2024 is ’n gevlekte oor-uil in Coalstraat opgemerk waar dit eers op ’n lapa se dak gaan sit het en daarna almal grootoog aangegluur het vanuit ’n boom.

Johan van Rensburg (voorsitter, Middelburg Voëlklub) het op navrae destyds gesê dat dié uile ‘verbasend gemaklik’ is met die teenwoordigheid van mense in hul onmiddellike omgewing.

Lees ook: Hoe-hoe, wie loer daar?

Dié uile word in die aande gereeld in Kanonkop en Dennesig gesien.

• Persone wat graag betrokke wil raak by die Middelburg Voëlklub se werksaamhede, kan Johan skakel by 082 372 3920.

@middelburgobserver

Beseerde gevlekte oor-uil in Middeburg gered, gevat na Birds of Prey rehabilitasiesentrum in Dullstroom.

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button