News

Man bly koelkop, skuil in lang gras na ysterpenlokval

’n Plaaslike man sê dat hy Saterdag sowat 20 minute tussen lang gras moes skuil na ’n pap karwiel op die R35, wat hy toegeskryf het aan ’n moontlike ysterpenlokval deur kriminele.

Die man, wat verkies om anoniem te bly, sê dat hy kort voor 11:00 moontlik oor die ysterpenstrook gery het op pad na ’n vriend in Bethal.
Die voorval het naby die Komati Kragstasie-aansluiting gebeur.

Hy sê dat hy bestande voorbande het, maar dat sy agterbande normale bande is.

Toe hy die ‘klak-klak’ van die pap band aan die linkerkant van die voertuig gehoor het, het hy gestop om ondersoek in te stel.

Gelukkig ry hy rond met Tyre Jack in sy bagasiebak en het dadelik na die blikkie gegryp om in die pap band te spuit.
Toe die skuim egter by die band uitpeul, het hy besef dat hy moontlik die slagoffer van ’n ysterpenlokval was.

Die man sê dat hulle ’n ruk gelede ’n polisielid by hul werk gehad het wat deur bestuur gereël is, om vir hulle misdaadwenke te gee.

Die praatjie oor spykerstroke en hoe om jouself te beskerm, het dadelik in sy geheue opgekom en hy het sy beursie en karsleutels op die voertuig se dak gesit, oor die pad gestap en sowat 50 meter verder tussen langs gras gaan skuil, soos die polisielid voorgestel het.

Intussen het hy AA se sekuriteit en padhulp afdelings geskakel.

Hy het ook die N4 Alzu to N12 Petroport ysterpenlokval-groep op WhatsApp van die voorval laat weet, en lede het hom dadelik te hulp gesnel.

Na meer as 20 minute in die lang gras het hy gesien dat daar geen beweging by sy kar is nie.

Hy het uitgeloop en veiligheidsdriehoeke voor en agter sy voertuig gepak, waarna ’n lid van die N4-WhatsApp- groep opgedaag en hom gehelp het om die pap band te ruil, omdat hy nie self goed met ’n gewig bo 5 kilogram kan optel nie, weens ’n buikbreuk.

Die AA het ook opgedaag en daar is ’n tydlank agter hom aangery op sy reis Bethal toe.

Hy sal aan die einde van die maand ’n donasie aan die N4-WhatsApp groep maak, het hy gesê.

“Mense kan dankbaar wees vir die hulp wat hulle verleen, want as iemand in die moeilikheid is, is hulle daar!”

• Hy sê hy was dalk ’n rooftog gespaar omdat hy later besef het dat hy ongeveer sewe kilometer verder kon ry voordat hy moes aftrek.

Lees ook:

‘Here se genade’ dat wiele hou na voertuig oor staalpenne ry

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button