Man erken glo hy het by ouetehuise gesteel
Die man wat deur die polisie op Roossenekal vasgetrek is na verskeie diefstalle by ouetehuise, het glo ’n bekentenis gemaak.

Daar word verneem dat Emerson John Pretorius kort nadat hy gearresteer is, ’n bekentenis gemaak het.
Ouetehuise (waarvan die polisie weet) van onder andere in Middelburg, Belfast, Groblersdal, Paulpietersburg en Howick het die afgelope sowat ’n jaar deurgeloop onder twee diewe wat hulle voorgedoen het as matwassers.
Hulle sou toegang tot die bejaardes se woonstelle kry, waartydens hulle kwansuis matte ‘goedkoop’ vir bejaardes sou was. Terwyl een van die mans die bejaardes buite hul woonstelle besig hou, het die ander een ingegaan en selfs ’n mat of ’n bank gewas.
Eers later sou die bejaardes dan agterkom dat daar van hul waardevolle artikels, soos juwele, gesteel is.
Lees ook: https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2024/10/06/mans-was-nie-matte-maar-steel/
Met knap ondersoekwerk van die polisie, is Pretorius laat verlede week in Roossenekal gearresteer. Alhoewel ’n tweede persoon ook ’n verdagte was, het Pretorius klaarblyklik erken dat hy die meesterbrein agter die diefstalle was en is die ander persoon laat gaan.
Pretorius is in aanhouding en sal weer volgende week in die hof verskyn vir formele borgaansoek.
• Daar is ’n medianavraag aan die provinsiale mediakantoor gerig om te bevestig of Pretorius wel ’n bekentenis gemaak het. Sodra ons ’n antwoord kry, sal ons daaroor berig.
• Die mediaberig wat die polisie die naweek uitgestuur het, het aangedui dat Pretorius se eerste naam ‘Innocent’ is, maar sy eerste naam is eintlik Emerson.
• Die Middelburg Observer en Observer Daller het die afgelope paar maande beide berigte gedoen oor bejaardes wat besteel is. Lees meer hieroor ook in die komende Vrydag uitgawe van die Observer Daller.