Kommando-wurms vind groener weivelde op Middelburg
Die kommando-wurm plaag is nou nie meer net op plase nie, maar het hierdie week in duisende op Dennesig en Kanonkop toegesak!
Hulle is nie net in ’n paar strate en by die stortingsterrein in Dennesig gesien nie, maar is ook opgemerk by die Kees Taljaard Stadion.
Dennesig inwoners was vol lof vir die Steve Tshwete Munisipaliteit wat reeds Sondag ingetree het om die uitbraak in Dennesig met gif te bestry.
Volgens mnr. Lappies Labuschagné, het hy die wurms Sondag in Dennesig opgemerk en het hulle versprei tot by Harry Gwala, die veld bokant Leyds-, Buller- en Verkennerstraat.
Mnr. Thinus Herbst het ook videomateriaal beskikbaar gestel wat hy Sondag geneem het by die Dennesig stortingsterrein.
Die Middelburg Observer het verder bevestiging gekry dat die kommando-wurms hulle op die Kees Taljaard sportvelde tuisgemaak het.
Dr. Gerhard Verdoorn, direkteur van die Griffon Gifinligtingsentrum en ’n konsultant vir die landbou-chemiese bedryf, het in ’n onderhoud verlede week gesê dat die uitbraak die tweede grootste in 30 jaar is, waarvan hy weet.
Hy het aan boere voorgestel dat die wurms met sipermetrien bestry moet word.
Dr. Verdoorn het bevestig dat die uitbraak groot gedeeltes van Natal, Gauteng en Mpumalanga affekteer, en dat die kommando-wurm ’n groot gevaar inhou vir weiding en aangeplante vee-voer.
Intussen het dr. Verdoorn boere aangemoedig om met hom kontak te maak, indien hulle hulp nodig het met die identifikasie van wurm-spesies.
“Party boere raak soms verward tussen die kommando-wurms en ander soorte wurms, en mense is welkom om ’n duidelike foto van die wurm op WhatsApp na my te stuur. Hulle moet ook net laat weet in watse omgewing die foto geneem is.”
Volgens dr. Verdoorn is die kommando-wurm se lewenssiklus die tipiese wurm wat verander na ’n papie en dan ’n mot.
“As die reënval só aanhou, dan is dit moontlik dat daar in die derde week van Maart ’n tweede uitbraak kan wees.”
Boere is welkom om hulle foto’s vir dr. Verdoorn te WhatsApp na 082 446 8946.
@middelburgobserver The African Army Worm infestation has reached Middelburg with the following videos being captured at the Dennesig Waste Transfer Site and in Leyds Street. The municipality can be seen fumigating the areas on Sunday.
Lees ook: Video: Boere verklaar oorlog teen kommando-wurms
