Noodspanne jaag van ongeluk tot ongeluk
Dit was 'n besige dag van ongelukke op paaie om Middelburg,
Plaaslike noodspanne en insleepdienste het vandag al na verskeie ongelukke uitgejaag en is tans nog besig op ten minste drie tonele.
Die Traffic Alert WhatsApp groep het kort-kort motoriste in kennis gestel van ongelukke in die omgewing.
Die eerste ongeluk was in die middernagtelike ure, omstreeks 01:00 op die R555 (ou Middelburg/Witbankpad) waar ‘n bakkie gerol het.
Kort voor 08:00 was daar ‘n ongeluk waar ‘n trok en ‘n voertuig mekaar getref het op die R555, Stoffbergpad.
Om 10:00 tref drie voertuie mekaar by die drierigtingstop by die Cowen Ntulistraat verlenging, op pad na die ou Belfastpad.
Twee ure later is ‘n voetganger doodgery op die N4 tussen die Samora Machel- en Vandyksdrif-afritte. ‘n Vyfjarige passasier in die voertuig is beseer.
Lees ook: Voetganger doodgery, vyfjarige passasier beseer
Net na 16:00 is almal weer uit ‘n ongeluk op die R555 (Stoffbergpad) en vandaar is hulle na Walter Sisulustraat waar twee voertuie in mekaar vasgery het.
Omstreeks 20:00 is noodvoertuie ook gevra vir hulp na ‘n ongeluk op die N11 naby die Choppies sentrum by Hlalamnandi.
Minute later het Louwtjie Swart (ongeluk koördineerder) laat weet dat daar ook ‘n ongeluk is op die R35 (Bethalpad), net voor die Kego Myn (voorheen Polmaise myn). ‘n Voertuig het gerol, maar die twee vroue in die voertuig het gelukkig nie ernstige beserings opgedoen nie.
- Daar is pas verneem dat daar twee ongelukke was in die gietende reën op die N4, een naby die Middelburgdam en die ander een op pad na die Middelburg Tolhek, naby die Ultra City afrit.
