News

Kommandowurm uitbraak: Kan weiding betyds herstel voor winter?

Middelburg-boere het vinnig opgetree toe kommandowurms op die omgewing toesak. ’n Veld-ekoloog het kwelvrae beantwoord.

Nadat die byna landwye uitbraak selfs Middelburg se dorpsgebied binnegedring het, het die Middelburg Observer met De Villiers Arnoldi, ’n bekende veld-ekoloog van Ermelo gesels oor die moontlike impak wat die uitbraak op weiding sou hê gedurende die herfs- en wintermaande.

Na verskeie onderhoude met boere in die omgewing is dit bepaal dat veeboere gelukkig nie erg skade gely het nie, met die uitsluiting van twee boere wat tog bevestig het dat hulle byna ál hulle weiding verloor het.

Mnr. Arnoldi het antwoorde verskaf op kwelvrae wat onstaan het na die uitbraak:

Wat is die langtermyn impak van die kommandowurms op weiding, veral met herfs en winter wat voorlê?

“Die langtermyn impak op natuurlike weiding deur kommandowurms (Spodoptera exempta) sal verskil van area tot area, plaas tot plaas en selfs kamp tot kamp op ’n plaas. Daarom kan dit nie veralgemeen word nie.

Die impak sal egter afhang van verskeie faktore, insluitend die tydsberekening van die uitbraak, die intensiteit van die besmetting, die spesifieke grasspesies wat aangeval is, die hoeveelheid reënval ná die uitbraak en temperature.

Teen hierdie tyd van die jaar het die optimale groei en saadprodusering van grasse begin afneem, omdat die daglengte begin verkort en temperature begin daal in aanloop tot die kouer seisoene wat binnekort begin,” het Arnoldi verduidelik.

Korttermyn:

Die kommandowurms vreet die blare van grasse en laat gewoonlik wortels en die basale strukture soos risome en stolone onaangeraak. Dit beteken dat grasse met voldoende vog en optimale groeitoestande nog vinnig kan herstel.

Langtermyn:

“Indien die besmetting laat in die groeiseisoen plaasgevind het en die gras nie genoeg tyd het om te hergroei voor herfs en winter nie, kan dit ’n negatiewe impak op beskikbare weiding hê. Dit kan weidingsdruk verhoog en tot oorbeweiding lei as daar nie genoeg reserwes vir die winter is nie.”

Die kommandowurms het selfs die Kees Taljaard Stadion in Kanonkop se rugbyveld aangeval. (FOTO: Daleen Naudé)

Aangeplante weiding in die Middelburg/eMalahleni-omgewing en spesies wat erg aangeval word

“In die Hoëveld, insluitend die Middelburg/eMalahleni-omgewing, word aangeplante weiding dikwels gebruik om weidingskapasiteit te verhoog en ook om voorsiening te maak vir voedselreserwes in die wintermaande.

Hier is ’n lys van die mees algemene grasspesies wat aangeplant word:
Smutsvingergras (Digitaria eriantha); Oulandsgras (Eragrostis curvula); Tef (Eragrostis tef); Bloubuffelgras (Cenchrus ciliaris); Kikuyu (Cenchrus clandestinum); Raaigras (Lolium spp.); Rooigras (Themeda triandra) (natuurlike gras, maar belangrik vir bewaringsboerdery).

Die kommandowurms is algemene blaarvreters en verkies sagte, sappige blare. Dit beteken dat vinnig-groeiende aangeplante spesies soos Kikuyu en Smutsvinger die hardste getref kan word.”

Kikuyu se vermoë om te herstel voor herfs/winter

“Kikuyu is ’n sterk groeiende, aggressiewe spesie met ’n hoë vermoë om te herstel as daar genoegsame reën en hitte is. Die probleem is egter dat dit ’n chemiese verdedigingsmeganisme het: wanneer dit deur kommandowurms aangeval word, kan dit sianied-agtige verbindings vrystel, wat dit tydelik giftig vir beeste maak.

Indien die Kikuyu-veld swaar aangeval is, kan herstel stadig wees, veral as herfs intree en temperature daal.

Reënval kan help, maar as daar reeds ’n temperatuurafname is, kan die groeitempo verswak en die gras dalk nie genoeg hergroei om voldoende weiding vir beeste te bied voor winter nie.”

Effek op ander aangeplante grasspesies en hulle herstelvermoë

“Ander grasspesies soos Smutsvinger en Bloubuffelgras het ook ’n goeie herstelvermoë, veral as daar ná die aanval nog reënval is en ’n warm periode aanhou.

Indien gras egter te vroeg in die herfs of winter deur kommandowurms opgevreet word, mag dit sukkel om weer groei te toon voordat kouer temperature groei stop.

Vir eenjarige spesies soos raaigras, sal die skade meer permanent wees, aangesien hierdie grasse nie ’n sterk hergroeivermoë het sonder nuwe saadontkieming nie.”

Sal natuurlike weiding betyds kan herstel?

“Ja, solank daar genoeg reënval en ’n mate van groei oorbly, behoort natuurlike weiding te kan herstel.

Natuurlike grasse het diep wortelstelsels wat hulle help om vinnig te hergroei sodra toestande gunstig raak. Dus, indien daar voldoende reënval ná die aanval is, daar genoegsame dagtemperature is om groei te ondersteun en geen swaar beweiding plaasvind nie, kan dit die herstelproses van die grasse bevorder.

Die teendeel is dat indien daar die beskikbare grasreserwes ná die aanval laag is en boere nie bestuurstrategieë instel om veld te laat herstel nie, kan oorbeweiding plaasvind, wat langtermyn agteruitgang van weiding kan veroorsaak.

Dit is ook bevind dat die infestasie van kommandowurms groter is in veld kort nadat dit gebrand is as in veld wat nie gebrand is nie. Dit het blykbaar te doen met die sagte blare van hergroei van alle grasspesies gelyktydig.”

Effek van vroeë optrede deur boere en die natuurreservaat se probleem

“Dit is positief dat boere in die Middelburg/eMalahleni-omgewing vinnig opgetree het teen die kommandowurms, aangesien dit help om weidingsverliese te beperk. Die probleem is dat dit ’n groot finansiële uitwerking het, en dat die sukses van intervensie nie gewaarborg is nie.

In natuurreservate word alle gebiede nie ewe goed beskerm nie aangesien chemiese beheer gewoonlik nie toegepas word nie, en die kommandowurms kan dus vrylik voortplant en uitbrei, wat ’n impak op die natuurlike plantegroei en omliggende areas het.

Indien die besmetting daar erg was en grasse swaar aangeval is, mag dit langer neem vir daardie areas om te herstel, afhangende van reënval en temperatuurtoestande.”

• Mnr. Arnoldi is ’n weiveld-ekoloog en spesialiseer in die monitering van natuurlike plantegroei, met ’n besondere fokus op grasse en hulle ekologiese funksie.

Sy werk behels veldtoestand-ontledings regoor Suid-Afrika en ons buurlande, wat die volgende insluit:

Drakrag bepaal vir vee en wild.
Weidingsbestuurstrategieë ontwikkel om volhoubare benutting van grasvelde te verseker.
Ekologiese herstelprojekte adviseer waar natuurlike weiding agteruitgaan.
Gevare soos oorbeweiding en indringerspesies evalueer en oplossings voorstel met bewese sukses rekords.

• Arnoldi is aktief betrokke by die monitering van verskeie veldsoorte en gebruik wetenskaplike en ekologiese beginsels om volhoubare bestuurstrategieë te help implementeer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button