Video: Swartmamba wat as baba in bottel gekry is, nou groot en losgelaat!
’n Swartmamba wat as jong slangetjie in ’n bottel afgegee is, is die naweek veilig losgelaat.
Bykans twee jaar nadat ’n baba swartmamba in ’n Cokebottel by die Middelburg Herpetologiese Vereniging afgegee is, is hy die naweek veilig losgelaat.
Victor Boshoff (voorsitter Middelburg Herpetologiese Vereniging) het foto’s vir die Observer gestuur waar hy en sy seun, Darren, die swartmamba die naweek uit die slanghok gehaal en hom later in ’n veld, waar dit swartmambas se natuurlike habitat is (ver van Middelburg), losgelaat het.

Die klein slangetjie is in Julie 2023 by hulle afgegee, maar was hy só klein dat hy nie juis ’n kans gehad het om te oorleef, sou hulle hom dadelik loslaat nie.
Hy is nou sowat 1.3m lank en behoort goed aan te pas in die veld.
Dit is onseker waar die swartmamba destyds gevang is, maar alhoewel dié dodelike slang nie natuurlik in ons area voorgekom het nie, is daar die afgelope paar jaar al ’n hele paar swartmambas in Middelburg gevang. Verlede jaar is twee binne twee weke in ons omgewing gevang.


Al hoe meer slange kom in huise en besighede in die dorp voor, omdat die slange vlug vir die baie reën na droeër areas en ook omdat hulle nou kos vang voor die winter. Verlede week is daar ’n pofadder onder ’n kantoortafel gekry.
Lees ook: Video: Pofadder onder kantoortafel laat man spring
Vir navrae oor die LimPuma Herpetologiese Vereniging (waarvan Middelburg deel is) en om slange te verwyder, skakel die ondervoorsitter van Middelburg Herpetologiese Vereniging, Mark Salzwedel by 082 898 5242.
@middelburgobserver Swartmamba in veilige area losgelaat nadat hy bykans twee jaar gelede as baba slangetjie in ’n Cokebottel by die Middelburg Herpetologiese Vereniging afgegee is.
