News

Video: Breinskade weens heroïengebruik: ‘Te laat vir my, maar nie vir julle nie’

Die 31-jarige Nico Boshoff vertel jongmense hoe heroïenverslawing sy lewe verwoes het.

Nico Boshoff kan nie behoorlik woorde vorm nie, hy het geen koördinasie nie en hy is tans aan ’n stoel vasgekluister – alles die nagevolge van sy verslawing aan heroïen.

Nico in die dae toe hy nog ‘n gesonde jong man was.

In ’n kort Tik Tok video, wat ’n mens byna nie kan volg nie, waarsku hy: “Ek haat die dag wat ek begin heroïen gebruik het. Jy moenie eers begin nie, want jy gaan nie kan ophou nie. Sien wat dit aan my gedoen het. Vir my is dit te laat, maar nie vir julle nie.”

Op 18 begin

Op 18 het hy heroïen begin rook en later ’n goed betaalde dwelmmuil vir handelaars geword.
Soos vele ander het hy geglo hy kan dit enige tyd los, nou is hy 31, hy moet dink as hy sluk en asemhaal en sy ma moet hom bad en 24 uur ’n dag oppas, want hy mag dalk stik.

Hy hou van sy ‘Vape’, maar kan dit nie sonder hulp optel nie, want sy koördinasie is weens die skade aan sy brein aangetas. Sy ma moet dit vir hom in sy hande sit.

Elke dag doen Nico vier ure rehabilitasie en is sy liggaam rukkend moeg as hulle klaar is – alles met die hoop dat hy dalk eendag weer normaal sal kan wees.
“Ek glo op 40 sal hy kan terugkyk op sy lewe, weer kan loop en alles vir homself kan doen. Vir nou…werk ons daaraan,” sê sy ma, Marietjie positief. Marietjie vertel ook trots dat Nico intussen sy hart vir die Here gegee het en ook gedoop is.

Vasgevang in ‘n liggaam wat nie wil saamwerk nie

Nico is vasgevang in ‘n liggaam wat nie wil saamwerk nie, omdat hy erge skade op die brein opgedoen het.
Verlede jaar het hy ook ‘n ernstige longoperasie ondergaan en het hy by die dood omgedraai.

Hy knik instemmend as die joernalis vra of hy alles verstaan, maar die brein wil nie saam met sy mond werk om die woorde duidelik uit te spoeg nie en hy kyk hulpsoekend na sy ma dat sy verduidelik wat hy hortend probeer uiter.

Marietjie vertel met trane in haar oë hoe hulle deur die jare vir Nico probeer help het, hom selfs ‘toegesluit het by die huis’ en by ‘n rehabilitasiesentrum gehad het. Soms het dit beter gegaan en het hy, wat ‘n gekwalifiseerde passer en draaier is, selfs weer gewerk.
As die dwelmlus hom egter gepak het, het hy weer sy werk verloor.

Was ook ‘n dwelmmuil

Nico was op ‘n stadium selfs ‘n dwelmmuil en onthou Marietjie dat hy aan haar verduidelik het hoe ‘n handelaar saam met hom gery het vanaf Benoni tot in Mhluzi. Ook dat mense, wat polisie-uniforms gedra het, hulle op die pad vergesel het (die inligting is aan die polisie se provinsiale mediakantoor deurgegee).

As dwelmmuil het hy altyd genoeg geld gehad om sy verslawing te voed en as hy dit vir rukke gelos het om ‘skoon te kom’, het die handelaars dit sommer sommer verniet vir hom gegee om hom net weer terug te lok.

Sy siekbed die afgelope twee jaar het die hele gesin geruk en hul lewens vir altyd verander. Hy het skielik agteruit gegaan. Breinskanderings het die skade weens die heroïengebruik aan sy brein gewys (toxic induced leukoencephalopathy). Dit het veroorsaak dat hy nie meer kon loop, behoorlik praat of sy hande gebruik nie.

Nico terwyl hy baie siek in die hospitaal was.

Hy kyk jou reguit in die oë as hy weer ter afsluiting sê: “As jy net één keer probeer, is jy verslaaf. Moenie asseblief, dis te laat vir my, maar nie vir julle nie.”

• Almal kan Nico se vordering begin volg op sy persoonlike TikTok skakel: @nico.journey.xaddict

@middelburgobserver

Die 31-jarige Nico Boshoff van Middelburg, Mpumalanga, het breinskade opgedoen omdat hy heroïene gebruik het. Hy waarsku jongmense om nooit te begin nie. Sy spraak is ook aangetas en kan die sterk boodskap wat hy uitdra, in die byskrifte gesien word.

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button