News

Legendariese oud-rugbyspeler, Toy Dannhauser, sterf by dogter se huis

Toy Dannhauser was ’n besondere omgeemens.

Toy Dannhauser (87), die legendariese oud-rugbyspeler, wat in die 1960’s as die kaptein en slot van Transvaal ’n totaal van 50 wedstryde uitgedraf het, is Vrydagoggend rustig by sy dogter, Marna Engelbrecht, se huis in Springbokstraat (Middelburg) oorlede.

Marna het aangedui dat hy op 21 Mei met terminale kanker gediagnoseer is en het hy na ’n kort siekbed gesterf.

Sy rugbyloopbaan het begin by Wes-Transvaal, maar hy het later vir Transvaal gespeel tot hy Natal toe verhuis het en die Noord-Natal sub-unie gestig het.

Middelburgers sal almal vir ‘oom Toy’ onthou wat elke rugbywedstryd van sy naamgenootkleinseun, Toy Engelbrecht, by HTS Middelburg bygewoon het. Oupa was ook langs die veld toe hy as kaptein verlede jaar vir die Pumas in die Cravenweek gespeel het en van hierdie jaar af vir UJ uitgehardloop het.

Toy Dannhauser (links) met die bal toe hy kaptein was vir die Transvaalse span en sy kleinseun, Toy Engelbrecht (regs), met die bal as kaptein van die Pumas tydens die Cravenweek verlede jaar.

Die jong Toy is trots daarop om in sy oupa se voetspore te volg en het hierdie week in ’n huldeblyk gesê dat sy oupa se hero was en dat hy hom baie sal mis.

Toy Engelbrecht en sy legendariese oupa verlede jaar saam afgeneem.

Oom Toy se familie het hom ’n mense-mens beskryf wie altyd vrede tussen almal bewerkstellig het.

Marna het allerlei staaltjies oor haar pa vertel, soos waar sy naam vandaan kom.
“Daar is gehoop vir ’n dogtertjie, omdat daar drie seuns was, maar toe hy gebore is, het sy ma hom so gekyk en gesê, hy lyk soos ’n ‘Toy’, ’n speelding, en hy het sy hele lewe lank tot met sy dood, daardie naam gedra.” Sy geboortename was eintlik Cornelius Claassen.

Tydens sy kort siekbed het boodskappe van oraloor af ingestroom en het Marna een van die boodskappe wat ’n vriendin, Anita Fourie, kort voor sy dood gestuur het.
Oom Toy en Anita se man, Bok, was jarelange vriende en het ook saam gestudeer by die Pukke.
“Wat sy gesê het, beskryf so mooi wie my pa was,” het Marna trots gesê.

In die stemboodskap het Anita gesê dat as sy dink aan Toy Dannhauser, “dan gaan die hele wêreld voor my oop. Toy was nie net Bok se hartsvriend nie, hy was sy pel, Toy was álmal se pel.”
Sy het melding gemaak van al die boodskappe op die groepie wat begin is met sy siekte.
“As ek na die boodskappe kyk, dat weet ek presies wat Bok gesê het, Toy het geen vyande gehad nie, elkeen wat hom ontmoet het, het sy pel geword. Bok het ook gesê die rede waarom Toy so baie pelle gehad het, was omdat hy ’n pel is van elke ou wat hy ontmoet het. ’n Mens maak moeite en gee om vir pelle en daarom was hy daar vir jou.”
Sy het ook gesê hoe spesiaal dit was dat hy haar gereeld nog geskakel het na Bok se dood om te hoor hoe dit met haar gaan. “Dit is wie jy is Toy, om jou te ontferm oor ander.
“Ek weet dat jy die vrede van die Here in jou hart het, dat jy ’n gelukkig man in jou hart is. Ek weet dat Toy in sy oupa se voetspore gaan volg, want dit is die nalatenskap wat jy vir almal agtergelaat het.”

Marna het daarby aangesluit deur te sê dat is wat hulle so trots op hul pa gemaak het, sy omgee vir ander…

• ’n Roudiens word Donderdag om 11:00 by die Usambara Venue in Krugersdorp gehou. Dis is dieselfde dorp waar hy verlede jaar langs die veld was toe Toy Cravenweek gespeel het. “Monument het die spotlight op hom geplaas toe hy verlede jaar daar was.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Check Also
Close
Back to top button