News

Johan word onthou vir sy lag en sy ongelooflike groot hart

Die geliefde man en pa, en bekende gesig as algemene bestuurder by Alzu Petroport, Johan Jansen van Rensburg, is Maandagaand oorlede aan ’n hartaanval.

Sy gesin het die volgende huldeblyk in herinnering aan Johan geskryf:

“Johan Jansen van Rensburg is op 27 Desember 1971 in Middelburg gebore en het sy kinderjare hier deurgebring. Hy het op laerskool by Koornfontein en Onverwacht skool gegaan, en sy hoërskoolopleiding voltooi by Hoërskool Middelburg.

Hy was ’n trotse inwoner van die Middelburg-gemeenskap en het sy hele lewe hier deurgebring. Johan het vir 16 jaar as algemene bestuurder by Alzu Petroport gewerk.

Een van die eerste dinge wat by my opkom as ek aan my pa dink, is sy lag en om ander te laat lag. My pa was, op die ou end, ’n absolute ‘klutz’, maar op die mooiste manier moontlik.

Hy sou altyd iets laat val, of oor sy eie voete struikel, veral tydens familiebyeenkomste of formele funksies — daardie soort geleenthede waar my ma in stilte sou hoop hy hou hom uit die moeilikheid uit. Maar dan gebeur dit: iets val, hy glip, en almal kyk… en dan begin daardie bekende lag. Só aansteeklik dat selfs my ma, ten spyte van haar verleentheid, nie anders kon as om saam te lag nie.

My pa was die definisie van hardwerkend. As algemene bestuurder by Alzu Petroport het hy elke dag sy alles gegee.

Hy was ’n regiete, soms streng baas — ’n man van dissipline en standaarde. Maar agter daardie strengheid was daar ’n ongelooflike groot hart. Hy het altyd tyd gemaak vir sy mense. Hy was gerespekteer, nie net vir sy posisie nie, maar vir sy wysheid, sy ondervinding, en veral sy raad.

En tog — en dit is wat hom so besonders gemaak het — het hy nie net gewerk om te lewe nie, hy het gelewe om te lag.

Daardie aansteeklike lag, daardie vonkel in sy oë, het altyd gewys dat daar vreugde was, selfs tussen die verantwoordelikhede.

Al het hy baie op sy skouers gehad, het hy dit nooit huis toe gebring nie. By die werk was hy ’n rolmodel, en by die huis was hy net dieselfde.

Hy was ongelooflik familie-georiënteerd — altyd die eerste een wat tyd gemaak het, wat opgedaag het, wat gehelp het. Niks was ooit te veel moeite vir hom nie (veral vir ons seuns). Hy was nie net my pa nie, hy was ’n voorbeeld van hoe om ’n goeie seun, broer en pa te wees.

En nou, Pappa… net eenvoudig: Dankie. Dankie, dankie, dankie — en ek is jammer as ek dit nie genoeg gesê het nie. Jy het vir my, my broers, vir mamma en vir almal om jou alles gegee wat ons ooit nodig gehad het — en nog soveel meer.

Daar was nooit ’n dag van onsekerheid oor jou liefde nie. Jy het ons so liefgehad — openlik, oorvloedig, sonder voorwaardes. En vir een laaste keer wil ek jou herinner: ons is, en sal vir altyd, jou liefhê.

Ons gaan vir Pappa ongelooflik mis. ’n Stukkie van ons harte het saam met jou hemel toe gegaan. Dit is rou. Dit is seer. Maar ons weet — ons wéét — dat jy nog altyd hier sal wees. In elke stap wat ons neem, elke besluit wat ons maak, elke lag wat ons lag.

Hierdie is nie ’n vaarwel nie. Dis net ’n sien jou weer. Rus sag, Pappa. Rus in vrede.”

Johan word oorleef deur sy vrou Christine en seuns, Luel, Hanru en Dehan.

Die begrafnis is op 9 Junie (Maandag) om 11:00 by die Hervormde Kerk, Kanonkop.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button