Familie hoop geregtelike ondersoek bring antwoorde na Maryka se dood
Presies ses jaar nadat Maryka Kleinhans (31) in Kranspoort gesterf het, is Awie Geldenhuys, saam met wie sy die nag van haar dood was, weer in die kollig weens die geregtelike ondersoek.
Maryka Kleinhans se familie soek net antwoorde oor wat die nag van haar afsterwe gebeur het.
Op 27 Januarie 2019 het Maryka onder vreemde omstandighede in Kranspoort gesterf.
Die volgende oggend het die familie verneem dat sy oorlede is, nadat iemand hulle per Facebook in die hande gekry het.
Daar is later gesê dat sy uit die voertuig geval of gespring het.
In 2022 het Maryka se familie verneem dat die Onafhanklike Polisie Ondersoek Direktoraat hul ondersoek voltooi het en dat die Nasionale Vervolgingsgesag nie vir Geldenhuys gaan vervolg nie.
Met die geregtelike ondersoek kry hulle weer bietjie hoop om die sluier te lig oor wat daardie nag gebeur het, omdat daar soveel onbeantwoorde vrae is.
Winnie Bezuidenhout, Maryka se suster, het bevestig dat hulle by die Middelburg Landdroshof was laat in Desember.
’n Landdros het beslis dat ’n formele geregtelike ondersoek gehou gaan word.
Dit is om te bepaal of iemand verantwoordelik gehou kan word, en of enige handeling die nag van haar dood neerkom op ’n misdryf.
Alhoewel Maryka se familie by die hof was tydens die verrigtinge, was Geldenhuys nie daar nie. Daar wat verneem dat hy laat weet het dat hy ’n familiekrisis het en nie die verrigtinge kon bywoon nie.
“Ons weet glad nie wat dit beteken dat daar ’n geregtelike ondersoek is nie. Die dossier is die dag vir ons gegee, maar ons het glad nie daarna gekyk nie. Hierdie ruk weer al die ou wonde oop.”
Sy het egter gesê dat hulle hoop dat die GO hulle nou geleentheid sal gee om antwoorde te kry oor Maryka se dood. “Ons het geweet daar is ’n ondersoek en dat hy nie vervolg gaan word nie, maar die presiese detail is nooit met ons gedeel oor wát gebeur het nie.”
Van die vrae wat hulle graag antwoorde sou wou kry, is hoe laat Maryka presies dood is. “Dit is 9km vanaf Loskop tot by die plek waar hulle gesê het sy gesterf het. Hulle is om 19:02 by Loskop weg. Twee ure later is sy klaarblyklik eers dood. Wat het gebeur?”
Nadat hulle gehoor het waar sy gesterf het is hulle die volgende oggend na die toneel toe. “Sy het ’n kopwonde gehad, maar daar was nie baie bloed nie. Die palms van haar hande het nie ernstige wonde gehad nie. As jy uit ’n kar uit spring of val, dan sal jy tog probeer keer? Sy het wonde op haar voorkop en agterkop gehad. Dit maak net nie sin nie.”
Hulle weet ook nie of daar ooit ’n strafbare manslagsaak ondersoek is nie. “As jy ’n voertuig bestuur en iemand sterf, is dit nie so dat daar ’n strafbare manslagsaak ondersoek word nie? Ons weet ook nie of sy opslag dood is en hoe lank sy daar gelê het nie. Hoe kan ons berusting kry as ons niks weet nie?”
Linda Serfontein, die familiewoordvoerder het aangesluit by Winnie se vrae. “Daar is soveel gate in die saak, dinge wat nie sin maak nie, klein goedjies wat ons nie verstaan nie.”
• Geldenhuys het tydens ’n vorige oproep na hom toe, gesê dat hy nie kommentaar gaan lewer oor die bewerings teen hom nie.

• Geldenhuys is in September 2019 afgedank na ’n departementele verhoor. Die polisie wou nooit amptelik kommentaar daaroor lewer nie.
Lees ook: Berugte kaptein Awie Geldenhuys afgedank
Lees ook: Polisie sê “nee” vir heraanstelling van berugte kaptein
Dit is onduidelik of Geldenhuys intussen heraangestel is, want daar word verneem dat Geldenhuys ook dié appèlsaak gewen het.
