Van watter ouderdom af onthou ’n mens?
Onthou-onthou…?
Onthou pa se storie.
Maar onthou veral die trane nadat pa die storie vertel het.
Vir my kindergemoed die hartseer-pynigend om te verwerk.
Pa het vertel van ’n man wat op ’n treinbrug geloop het.
Sy seuntjie en dogtertjie was by hom.
Die volgende oomblik het ’n trein aangestoom gekom.
Het die angs aangevoel van pa se vertelling.
’n Pa en twee kindertjies wat moes vlug voor die swart gevaarte…
En toe?
Kan vaagweg onthou hoe swaar pa se gemoed was toe hy sê: “En toe skreeu hy vir sy seuntjie om te hardloop en gryp sy dogtertjie en spring met haar van die brug af…”.
Die kinders het albei oorleef, maar die pa het hom doodgeval.
Op sy grafsteen in die Middelburg-begraafplaas, het pa vertel, staan daar “groter liefde as dit kry jy nie… hy het sy lewe vir sy kind gegee”.
Die jare het aangestap.
Tyd het baie onthou uitgevee.
Maar nie pa se storie en die graf nie.
Word in 1982 redakteur van die Middelburg Observer en begin die graf soek.
Tevergeefs!
Is selfs een Sondag saam met polisieman Gerhard Oosthuizen en ons kinders die begraafplaas in om na die graf te soek.
Tevergeefs!
Het gewonder of pa se storie nie denkbeeldig was nie.
Later begin al meer mense soek.
Tevergeefs!
Tot een middag.
Joernalis Corine de Jonge het uitasem gebel: “Ek het die graf gekry!”
