News

Pa spring met dogtertjie van brug toe trein aankom

“Groter liefde het niemand as dit…”

Op 16 April 1950 ry ’n onderwyser van Botshabelo Sendingstasie, Ferdinand Bukes, saam met sy gesinnetjie op die Belfastpad uit, tydens ’n Sondagmiddaguitstappie.

By hom in die kar is sy vrou Cillie, sy dogtertjie Suzette, wat vier dae vantevore haar vierde verjaardag gevier het, en Ferdie (11).
Die gesin het oorkant Laerskool Middelburg gewoon en Marita (8) het besluit om tuis te bly.

Sowat agt kilometer buite die dorp het Ferdinand gestop en na die staal spoorwegbrug saam met sy seun en dogtertjie gestap. Cillie het in die kar bly sit.

Die drie was op die reuse brug toe ’n stoomtrein, waarskynlik ’n 15CA, skielik vanuit die nuut aangestoom kom.

Ferdinand, wat nooit ’n kragwoord gebruik het nie, het uitgeroep: “O, my God!”
Angswoorde wat tot vandag jou siel laat sidder.

Hy het vir Ferdie geskreeu om na veiligheid te hardloop, Suzette in sy arms opgeraap en van die brug gespring.

Suzette as jong dogtertjie. FOTO: Verskaf.

In die momentum het hy Suzette tussen die staalstruktuur ingeslinger.

Ferdinand het hom doodgeval.

Suzette het ’n ernstige lip- en rugbesering opgedoen.

Op Ferdinand se graf in die ou begraafplaas staan daar: “Groter liefde het niemand as dit… hy het sy lewe vir sy kind gegee.”

Die jaar 1950 by die graf van Ferdinand Bukes. Kinders Ferdie, Suzette en Marita saam met hulle ma, Cillie en hulle pa se oudste broer, Alkie Bukes. FOTO: Verskaf.

Marita Bekker (Bukes) het later vertel dat Suzette se lipbesering so erg was, dat dokters gesê het sy mag nie huil nie.

Wanneer hulle haar in die hospitaal besoek het, het sy dapper teen die trane geveg. Wanneer hulle deur die gordyn geloer het, het hulle gesien hoe hartroerend huil sy.

Het vroeg in die jaar 2000 toevallig met Suzette, toe Botes, in Bloemfontein gepraat, toe ek na blyplek gesoek het vir my seun Tobias wat by die Universiteit van die Vrystaat gaan studeer het.

Sy het vertel van die ‘ongeluk’ waarin hulle was.

Ferdie Bukes by die huis in Joubertstraat oorkant Laerskool Middelburg. FOTO: verskaf.

Suzette is op 19 April 2004 oorlede, na ’n operasie aan haar rug. Dieselfde rug wat sy beseer het op 16 April 1950.

Het vir jare na Ferdinand se graf gesoek, totdat kollega Corine de Jonge eendag bel. “Jou graf is in blok vier, ry een, net na die rusbankie, in die middel van die ry.”

En nou, 63 jaar nadat my pa die storie vertel het van die man wat met sy twee kinders op die brug gestap en hom dood geval het, gaan die verhaal verewig word op ’n blou bordjie wat by sy graf aangebring gaan word met QR-kode.

Gaan skandeer net die kode en lees die volle verhaal met ’n reeks foto’s…

Suzette se seun, Erik Botes, ’n prokureur in Pretoria, het foto’s van die gesinnetjie beskikbaar gestel.

Ferdie Bukes by sy pa Ferdinand se graf. FOTO: Verskaf.

Theo Ligthelm van die Middelburg Erfenisvereniging het ook verdere navorsing gedoen.

Is verlede week saam met Rudi van Wyk, voorsitter van die vereniging, na die brug.

Vir jare daar verbygery en gewonder hoe kon Ferdinand hom doodgeval het: “die brug is dan nie so hoog nie?”

Ons het oor die reuse staalkonstruksie gestap.

Die brug is vreesaanjaend hoog.

Jy voel Ferdinand se angs.

Hoe sy uitroep eggo, tot waar Cillie angsbevange toeskouer is van die tragedie: “O, my God!”

En jy huil…jy huil weer, weer soos 63 jaar gelede

@middelburgobserver

“Groter liefde het niemand as dit…” – Pa spring met dogtertjie van brug toe trein aankom

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button