Nie vir sensitiewe lesers: Man sterf alleen onder vuil kombers op sypaadjie
’n Man wat gister behandeling geweier het, is vanmiddag op ’n sypaadjie oorlede.
Net ’n dag nadat ’n man geweier het om per ambulans hospitaal toe te gaan, het hy op ’n sypaadjie onder ’n vuil kombers gesterf.
Die man het gister reeds onder die kombers op die hoek van Jeppe- en Parkstraat (Sentraal) gelê en het verbygaande motoriste bekommerd ’n ambulans geskakel. Hy het egter behandeling van die hand gewys.
Vanoggend omstreeks 08:30 het ’n inwoner die Observer geskakel en gesê dat hy steeds daar lê. “Hy beweeg nie en daar kom skuim by sy mond uit!” is bekommerd gesê. Ons het vir hulp geskakel, maar hy is kort daarna dood verklaar.
Daar is bespiegelings dat hy al ’n geruime tyd op straat is en is daar ook ’n bewering dat hy aan dwelms verslaaf was. Die oorsaak van sy dood kan egter eers bepaal word wanneer ’n lykskouing gedoen word.
- Dit is die soveelste persoon wat op straat gesterf het. Twee jaar gelede het ’n man ook onder ’n kombers op ’n sypaadjie gesterf terwyl vriende tevergeefs sy lewe probeer red het.
- In dieselfde jaar berig die Observer oor ten minste 18 verslaafdes wat al weens die dwelmdraak gesterf het. In die berig vertel ons onder andere van Jarrid O’Connor (20 Februarie 2023), Gerhard Venter (6 Januarie 2022), Pieter Erasmus (7 Junie 2022) en Jesse Bhyat (13 Januarie 2022) wat deel was van ’n baie hartseer lys.
- ’n Man met die straatnaam ‘Egor’ is beskuldig dat hy talle plaaslike verslaafdes aan heroïne bekend gestel het.
