News

Plaasaanvallers het spesifiek boer se naam genoem

Die plaasaanvallers wat 'n vrou aanmekaar deur die gesig geklap het, het spesifiek haar man se naam genoem tydens die gebeure.

Die twee rowers wat Dinsdag toegeslaan het op die plaas Gelukspoort buite Roossenekal, het spesifiek gesoek na Sakkie Maartens.

“Dit moet iemand wees van die omgewing, want hulle het vir Wilma gevra: ‘Waar is Sakkie?”

Hy was egter nie tuis nie en het die twee aanvallers toegeslaan op sy vrou, Wilma (63). “Dit moet iemand van die omgewing wees wat my ken.” Die egpaar bly reeds meer as 20 jaar op die plaas.

Die egpaar is vanoggend na die Groblersdal Hospitaal sodat ‘n dokter ‘n verslag kan saamstel met haar beserings wat deel sal uitmaak van die polisiedossier.

Mnr. Maartens (71) sê hy was Dinsdag nie tuis tydens die aanval nie, aangesien hulle besig is om ‘n huis te bou op sy broer se plaas, net buite Groblersdal. Hy het gaan kyk of alles in orde is met die bouery. “Ons het Gelukspoort verkoop en trek die einde van die jaar Groblersdal toe,” vertel hy.

“Ons het al die veiligheidsmaatreëls in plek op ons plaas, elektriese omheining, alarms, maar ons het die plek gekry waar hulle oor die hek geklim het.”

Wilma, ‘n onderwyseres van Laerskool Roossenekal, is laatmiddag na buite om die katte kos te gee en toe sy omdraai het die eerste aanvaller reeds om die hoek gekom. Hy het haar gegryp en by die huis ingesleep.

Mnr. Maartens vertel dat sy vrou gedwing is om beide kluise oop te sluit. Daar was egter niks van waarde in die kluise nie.

Terwyl hulle haar geklap het deur die gesig, het hulle aanmekaar gevra: “Waar is Sakkie?” in vlot Afrikaans. Hulle het ook gedreig hulle gaan haar doodskiet. Die rowers was gewapen met ‘n jaggeweer en ’n pistool.

Hulle het haar op ‘n stoel laat sit, daarna haar hande agter haar rug vasgemaak agter die stoel en ook haar voete vasgebind. Daarna is sy in ‘n kas toegemaak.

“Sy kon haar voete losgewoel kry en het opgestaan. Die aanvallers het alles uitgegooi in die kamer en toe hulle weg is, het sy die skêr gesien en kon sy haarself lossny.

Net daarna het mnr. Maartens op die plaas aangekom en het sy uitgehardloop om hom te waarsku dat daar rowers was. Hulle was egter reeds weg.

Buiten die erge trauma, het me. Maarten nie ernstige beserings opgedoen nie. “Haar skouers is egter vanoggend seer. Dit is oor die manier wat hulle haar hande agter haar rug vasgemaak het!”

Kort na die aanval het dit gelyk of net die kontant, haar selfoon en ‘n skootrekenaar gesteel is. Hulle is egter steeds besig om alles deur te gaan en word ‘n verkyker en twee flitse ook vermis. “Hulle het vir spesifieke goed gekom wat hulle kan gebruik vir wat hulle doen!”

Beide die rowers se gesigte was bedek, een met ‘n balaklawa en die ander een met ‘n stuk lap. Hulle het ook dik klere en handskoene gedra en kon me. Maartens dus nie enige fisiese beskrywing gee van haar aanvallers nie.

Sy kon egter wel verduidelik dat die een lank en die ander een korter was, dat hulle in haar laat 20’s of vroee 30’s was. Een het swart Nike-tekkies gedra. Daar is beskryf dat een van die aanvallers ook ‘n donkerblou broek aangehad het.

Enige persoon wat inligting het wat kan help in die ondersoek, kan Sakkie Lourens (Bosveld Misdaadondersoeke – BMO) by 071 798 7954 skakel, of James Language (voorsitter van die Veiligheidsafdeling van die TLU, asook voorsitter van Landelike Veiligheid, Oosstreek) by 079 129 5320.

  • Daar is uitgereik na die polisie se provinsiale mediakantoor (Limpopo) rakende die aanval, maar hulle het nog nie enige verdere inligting bekend gemaak nie.
  • Die aanvallers is steeds op vrye voet.

 

 

 

 

 

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Check Also
Close
Back to top button