
Dit is seker ’n oomblik waar jy nie op internasionale televisie wil wees nie.
Die Hoërskool Nelspruit leerling, Megan Botha (18), het aan die wêreld fietsry kampioenskappe in die afdeling vir junior dogters deelgeneem.
Die kampioenskappe is verlede week in Rwanda aangebied.
@middelburgobserver Megan Botha starts in style at World Cycling Championships in Rwanda. MeganBotha, Cobble, Rwanda
Megan het goed gery en was in die bondel tydens die padwedren, reg vir haar aanslag wanneer dit nodig was.
Die volgende oomblik wys die televisie kamera hoe sy aan die kant van die baan op haar bors slaan en benoud na asem snak.
Die omroeper sê dan dit lyk asof sy ’n asma-aanval kry.
Die kamera wys Megan weer in die agtergrond met die voorste bondel wat voortsnel.
Die televisie kommentator sê dan weer hy hoop sy is ok en dat iemand na haar sal omsien.
Megan se pa, Danie, sê as ouer kan jy maar net magteloos sit en toekyk “jy kan niks doen nie”.
Oor haar wedren vertel Megan sy het twee dae voor die wegspring met ’n maagaandoening gesukkel en sy het nie lekker gevoel nie.
“Ons het gedokter en ek het reg gevoel. Ek het so gemaklik in die bondel gesit en beweeg waar ek moes wees. My bene was sterk.”
Met die eerste klim was sy steeds in beheer.
“Ons het die cobble geklim en ek het so baie ryers gelos. Ek was so sterk gewees.”
Dit was toe wat die noodlot toeslaan en Megan nie kon asem kry nie. Sy was vir ’n paar sekondes flou en is met ’n ambulans na die beginpunt geneem, waar sy verder behandel is.
“My bene was daar, maar my lyf kon nie.”
Sy het in die individuele tydtoets 30ste geëindig in 29:48:68 met ’n gemiddelde spoed van net meer as 36 kilometer per uur.