News

Video: ‘Blouligbende’ het waarskynlik ongeluk waarin man sterf veroorsaak

Blouligbende se kat-en-muis spel het dodelike nadraaie op N12.

Die silwer voertuig het gerol, omdat die bestuurder moes uitswaai vir ‘n swart BMW met blou ligte wat rem getrap het voor hom. Foto: Verskaf,

’n Man het gister gesterf in ’n ongeluk waar ’n swart BMW met flitsende blou ligte voor ’n VW Polo gerem het, en die Polo die pad verlaat en gerol het.

Die gevreesde Blouligbende wat al vir jare ‘n skrikbewind voer op die N12 en ander roetes in Gauteng, was gister na alle waarskynlikheid die oorsaak dat ’n man sy lewe verloor het.

’n Egpaar van Middelburg (wat anoniem wil bly) het gistermiddag in kort vertel wat gebeur het, omdat hulle geweldig getraumatiseer was met wat voor hul oë afgespeel het.

Videomateriaal vertel die verhaal

Die vrou het vanmiddag aan die hand van die videos wat sy geneem het, presies vertel wat gebeur het.

Hulle was vanaf Johannesburg op pad na Middelburg, toe hulle op die N12 opgemerk het dat ’n silwer VW Polo in die vinnige baan skielik stadiger ry. Die vrou het haar selfoon uitgehaal en die voertuig begin afneem. Op die videomateriaal kan ’n mens sien hoe die Polo van die vinnige baan af na regs beweeg en dit lyk asof hy gaan stop.

“Ek het nog vir my man gesê ons moet stop en kyk of ons hom kan help.”

Die VW Polo het egter nie doodgestop nie en skielik weer in die pad inbeweeg en vinniger begin ry. Op daardie tydstip het hulle opgemerk dat ’n swart BMW met flitsende blou ligte van agter af deur die voertuie op die hoofweg begin vleg en die VW Polo agterna sit. “Die BMW het links en regs deur die verkeer gevleg om by die VW Polo uit te kom.”

@middelburgobserver

More video footage has emerged showing the tragic accident yesterday in which a man lost his life after a black BMW with blue lights stopped in front of his VW Polo in the fast lane of the N12 near the Ogies offramp. The Polo swerved to avoid a collision, but rolled in the process. N12Accident, Ogies, PholaPolice, MiddelburgObserver

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

VW Polo probeer wegkom vanaf swart BMW

Die oomblik toe die VW Polo se bestuurder sien die BMW met blou ligte is agter hom, het hy dadelik vinniger gery.

Naby die Ogies-afrit het die BMW egter op ’n hoë spoed aan die linkerkant van die VW Polo verbygegaan en voor hom ingeswenk. Toe hy voor die VW Polo is, het hy dood rem getrap.

Die man en vrou het gesien hoe die bestuurder van die Polo dadelik na regs swenk om nie in die BMW vas te ry nie, maar het die voertuig heeltemal die pad verlaat, die staalversperring langs die pad én die brug se middelste pilaar getref en op sy kant tot stilstand gekom. Met die oorrol is die bestuurder uit die voertuig geslinger.

Die egpaar het hul voertuig tot stilstand gebring en uitgespring om hulp te gaan verleen. Die vrou het die joernalis van die Observer geskakel en gevra wie sy kan kontak om die polisie en ander nooddienste in die hande te kry, waarop ons vir haar die nodige nommers verskaf het.

Hulle het na die voertuig gestap en dadelik gesien dat die bestuurder nie in die voertuig is nie, maar eenkant lê, Hulle kon sien dat hy gesterf het.

Terwyl die voertuig besig was om te rol, het die vrou vir haar man gevra waar die ‘polisie’ is wat die ongeluk veroorsaak het, maar die BMW het net aangehou ry. “Hoe ry jy net aan as ’n voertuig langs jou begin rol! Die bestuurder van die BMW moes gesien het wat gebeur het langs hom en in sy truspieëltjie!”

Hulle het later besef dat dit beslis nie die polisie kon wees nie, wat hulle is oortuig daarvan dat ’n polisielid sou omgedraai het om hulp te verleen.

’n Ruk na die ongeluk het ’n voertuig gestop en het ’n man ontsteld aangestap gekom. Hy het vir hulle gesê dat hy die bestuurder van die VW Polo ken. “Hy het vir ons gesê hul kinders sou saam binnekort Durban toe gegaan het vir vakansie!”

Ander voorvalle met bloulig BMW’s

Deur die jare was al tientalle mense van die gevreesde Blouligbende op die hoofweë, waar mense gestop word deur mense met voertuie met blou ligte op en dan beroof of aangeval word.

• Twee lesers het laat weet dat hulle op 27 September in soortgelyke voorvalle was en dat hulle gelukkig weggekom het.

Die een leser sê hulle het die aand op die N4 naby Belfast gery en het ’n swart BMW met blou ligte van agter af gekom en langs hulle inbeweeg. Terwyl hulle gery het, het die bestuurder van die BMW met ’n flits vir die bestuurder van die ander voertuig gewys hulle moet aftrek. Die man het egter vir hulle beduie dat hy nie gaan stop nie en het aangehou ry. Die BMW het ’n ruk voor hulle gery en daarna ’n U-draai op die N4 gemaak en in die teenoorgestelde rigting weggery.

Dieselfde aand om 23:00 het ’n man en sy dogter vanaf Rietkuil Raceway gekom en by die Arnot-afrit op die N4 afgekom. Die volgende oomblik het ’n wit BMW met blou ligte langs hulle ingekom en vir hulle met ’n flits, wat hy in die bestuurder se oë geflits het, gewys hulle moet stop. Die man wou nie sy dogter in gevaar stel nie en het vir hulle gewys hy gaan nie stop nie. ’n Paar kilotermeter verder het die BMW stadiger gery en hulle nie meer gevolg nie.

No ’n leser het kommentaar gelewer op die berig en gesê dat hulle ’n soortgelyke voorval gehad het vier jaar gelede. “Hul poging het misluk, dit was genade.”

  • Die polisie se provinsiale mediakantoor het gevra dat ooggetuies van die ongeluk die Phola polisiestasie moet kontak en alle inligting aan hulle moet deurgee.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Check Also
Close
Back to top button