News

Blouligbende en kapers het hoofweë in oorlogsone verander

Die hoofweë het oorlogsones geword met die “Blouligbende” waar kapers hulle voordoen as polisiemanne en mense van hul voertuie beroof.

Met vele van die kapings, het van die rowers klippe of skerp voorwerpe op die N4 en N12 gepak, waartydens die voertuie genoodsaak was om te stop en die mense dan aangehou word vir selfone en juwele, of hul voertuie geroof word.

Elani Wilkens: 10 Maart 2023

In die jongste voorval is me. Elani Wilkens met drie kinders gekaap naby Delmas en in die veld aangehou.
Hulle was nog in die veld, toe die kapers met nóg ’n egpaar met twee klein kindertjies daar aankom.

Me. Wilkens was met die kinders Vrydagaand vanaf Klerksdorp op pad na Middelburg waar die kinders die volgende dag aan ’n sportdag by Hoërskool Middelburg sou deelneem, toe hulle gekaap is.

Die kapers het haar met ’n blou lig afgetrek en die persoon wat by haar venster kom staan het, het hom voorgedoen as ’n polisieman, in volle polisie-uniform.

Sy makker het aan die ander kant van die venster gaan staan en toe sy in sy rigting kyk, het die een aan die bestuurderskant blitsig sy hand deur die skrefie, waar die venster oop was om met hom te praat, gedruk en die kar oopgesluit.

Die kapers het met hulle gery tot by ’n grondpad waar drie uitgeklim en sewe by hulle ingeklim het.

Me. Wilkens het gemeld dat die rowers bo-op hulle geklim het.

Sy het beserings opgedoen in die geveg teen die een kaper en het later behandeling in die Life Midmed Hospitaal ontvang.

Was dit nie vir haar vriendin wat hulle gevolg het met “WhatsApp Live Location” nie, sou hulle waarskynlik nooit by ’n gruisgat in die veld gevind geword het nie.

“Die mense wat na ons gesoek het, het op ’n stadium die ander mense wat gesoek het na die paartjie wat ook soontoe gebring is, op die pad gekry!”

Lees ook:

https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2023/03/13/vrou-teen-kop-geslaan-kinders-gedreig-in-n12-kaping/

Twee blitspatrollielede aangeval: Januarie 2023

Twee lede van die blitspatrollie is in Januarie hierdie jaar aangeval op die N12 toe hulle gestop het by ’n motoris wat probleme met sy kar ondervind het.
Hulle was net ’n klein rukkie daar toe ’n voertuig stop.

Een van die lede het na die tweede voertuig gestap om te vra waarom hulle stop, toe hy klippe op die hoofweg opmerk.

Op hierdie selfde oomblik het sewe rowers op hulle losgebrand.
Die een polisieman is in die maag gewond.

Kort daarna is verdagtes in Barberton gearresteer.

Lees ook:

https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2023/01/23/vicious-attacks-on-n12-intensify/

Paul Goldschagg en Estie Kruger: Desember 2022

Die paartjie was op pad na eMalahleni, toe hul voertuig net verby die Delmas afrit op die N12, iets tref.
Hulle was besig om alles gereed te kry om die wiel te ruil wat gebars het, toe die skote om hulle begin klap.

Mnr. Goldschagg het geskee: “Jesus help ons!” en het hulle begin hardloop.

Alhoewel nie een van die skote hulle getref het nie. kon hulle nie ver hardloop nie, aangesien die rowers mnr. Goldschagg gepootjie het en me. Kruger op die grond neergegooi het.

Die rowers, wat almal swart balaklawas en klere gedra het, het hul selfone, juwele en kontant geëis.

Een van die rowers het mnr. Goldschagg aangesê om sy armketting af te haal, omdat hy gesukkel het om dit af te ruk.

Iets het die rowers gepla, want die volgende oomblik het die een rower die beursie teruggegee en begin hardloop.
Die egpaar glo dat “die Here engele gestuur het” om hulle te help, aangesien hulle die hele tyd gebid het.

• Terwyl die gebeure afgespeel het, het ’n polisieman van die Middelburg K9-eenheid op patrollie aan die oorkantste hoofweg verby gery en onraad vermoed.

Hy het rem getrap en ’n U-draai gemaak om die paartjie te help, waarop mnr. Goldschagg hom tegemoet geloop het met sy hande in die lug. Hy het verduidelik dat hulle beroof is.

Die polisielid is die bosse in om die booswigte te soek, maar hulle het die nag in verdwyn,

• ’n Uur later het dieselfde polisieman weer op ’n soortgelyke toneel sowat ’n kilometer van waar die vorige rooftog plaasgevind het, afgekom.
Insittendes van ‘n taxi het gestop om bene te rek, toe hulle deur dieselfde rowers oorval is.

Daar is op die polisieman geskiet toe hy sien wat aan die gebeur is en sy voertuig omgedraai het om te help.

Nie hy of sy voertuig is raakgeskiet nie en die rowers het weer die bosse in gevlug.

Lees ook:

https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2022/12/29/desember-hoogtepunt-n-ware-wonderwerk-tussen-skote-wat-klap/

30 November 2022:

Op 1 Desember 2022 word mense gemaan om versigtig te wees nadat daar twee aanvalle was op mense op die N12 die vorige aand nadat skerp voorwerpe op die hoofweg hulle genoodsaak het om te stop.

Lees ook:

https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2022/12/01/two-spike-gang-attacks-on-n12/

Onderwysers beroof en aangehou: Februarie 2022

• Die groep onderwysers was vanaf Midstream na Ermelo op pad na ’n atletiekbyeenkoms. Hulle is tot stilstand gedwing, nadat hulle ’n pap band op die N4 gehad het.

Daar word vermoed dat die pap band veroorsaak is deur skerp voorwerpe wat op die pad geplaas is.

Kort nadat hulle van die pad afgetrek het, en terwyl die manlike onderwysers besig was om die band om te ruil, is die groep oorval deur rowers.
Alhoewel skote afgevuur is en ’n geweer wat op ’n manlike onderwyser se bors gerig is, is niemand beseer nie.

Die voorval het net ná 23:00 gebeur, sowat 30 km buite eMalahleni.

Lees ook:

https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2022/02/18/at-night-the-zombies-come-out/

Piet du Toit, Oktober 2021

• In Oktober 2021 was boer en sakeman van Middelburg, Piet du Toit, die slagoffer van die blouligbende.
Hy het teruggevlieg vanaf ’n fietstoer in George en is by OR Tambo Lughawe deur ’n bestuurder opgelaai.

Net na 20:00 is hulle verby ’n polisie padblokkade waar ou tipe polisie bakkies voertuie met Mosambiekse registrasienommers afgetrek het.
Die volgende oomblik, ’n paar kilometer na die Petrostop op die N12, het ’n Audi Q7 van agter gekom en sy bakkie van die pad gedwing.

Die vier mans wat uitgeklim het was in volle polisiedrag geklee en mnr. Du Toit het vir sy drywer, Leonard Mahlangu, gesê om te te ry, omdat hy ongemaklik gevoel het.

Dit was egter te laat en die “polisiemanne” het by hulle in die voertuig gespring.

Mnre. Du Toit en Mahlangu is na ’n stortingsterrein anderkant Carnival City geneem, waar hulle vir ure met vuurwapens aangehou is en hulle pinnommers moes verskaf.

Albei se skoene is gevat.

Die kapers het na die Tracker in die bakkie gesoek.

Mnr. Du Toit het vir die man, wat hom gedreig het dat hy hom gaan doodskiet as hy nie die korrekte pinnommer gee nie, gesê: “Skiet my maar my lewe is reg, maar dan verloor ons albei.”

Hy moes ook by die mans pleit om mnr. Mahlangu nie te skop nie, toe hulle op hom toesak.

’n Wonderwerk het gebeur toe sekuriteitswagte by die stortingsterrein opgedaag het en die kapers ’n ent weggeloop het.
Dit het hulle kans gegee om te vlug.

Hulle het na die bakkie gehardloop, wat hulle na ’n waghuisie geneem en hulle familie gekontak het.

Daar is R5 000 uit mnr. Du Toit se rekening getrek en R3 000 uit mnr. Mahlangu se rekening. Albei se skoene, selfone, mnr. Du Toit se beursie, sy bakkie en sy Garmin horlosie is geroof.

Lees ook:

https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2021/10/19/polisiemanne-hou-twee-mans-vir-ure-aan-dreig-om-hulle-dood-te-skiet/

Vrou en seun deur ‘Blouligbende’ op N12 gekaap: Mei 2021

Terwyl ’n vrou en haar sestienjarige seun vreesbevange onder ’n kussing in hul eie voertuig moes lê na ’n kaping, het sy haar hande losgewoel om aan sy gesig te vat, om hom te kalmeer.

Gerda en Joshua (16) Toms is gekaap naby die N12 afrit, nadat me. Toms hom gaan haal het by die SA Kunsaas Hengelkompetisie by Forever Loskopdam.

Hulle is omstreeks 19:40 op die N12 gekaap, deur ’n groep wat hulle voorgedoen het as polisiemanne. Daar is meer as twee ure met hulle rondgery, waarna hulle in ’n veld afgelaai is.

Me. Toms het met haar Land Cruiser gery, want hulle moes al Joshua se kamptoerusting en hengelgerei inkry.
Hulle is omstreeks 18:00 weg en het om 19:00 die N4 bereik, op pad na Kempton Park.

Sy sê dat hulle die N12 afrit geneem het en net verby die Total vulstasie was, toe sy blou ligte agter hulle opmerk en ’n polisiesirene hoor.
Me. Toms het haar venster net op ’n skrefie oopgemaak.

“My kar was in rat, sodat ek enige oomblik kon wegtrek, maar hy het my aandag afgetrek met die flitslig wat hy in die kar geskyn het.”
Terwyl hy heen en weer met die flitslig skyn, het hy gesê sy moet die kar oopsluit.

“Hulle het bo-op my en Josh gespring!”

Die boosdoeners het vir Joshua uitgehaal, ’n mes teen sy keel gesit en gedreig dat hulle hom gaan skiet.

Nadat die kapers weg is, het ma en seun in die rigting geloop waar hulle voertuie hoor ry het.

Lees ook:

https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2021/05/04/vrou-en-seun-deur-blouligbende-op-n12-gekaap/

Bruce Engelbrecht, Februarie 2021

Bruce Engelbrecht het ’n kaper aan die nek beetgekry, maar moes sy hande magteloos laat sak, sodat hy en sy seun nie doodgeskiet word nie.
Mnr. Engelbrecht en sy seun, Bradley, is op die N3 tussen die Villiers en Heidelberg tolhek gekaap en is vir etlike ure deur die kapers aangehou.

Hy het gehoor van me. Gerda Toms en haar seun, Joshua, wat net na die N12 afrit, deur die “blouligbende” gekaap is. Hy het haar gekontak en vertel dat ook hy vroeër vanjaar op dieselfde wyse gekaap is.

Mnr. Engelbrecht het gesê dat die man wat na hom toe aangestap gekom het, in vol polisie-uniform, met ’n pet en ’n polisie dienspistool aan sy sy, geklee was.

Hy ken polisiewapens, aangesien hy op ’n stadium ’n vuurwapen instrukteur was en baie polisie rekrute opgelei het.

Lees ook:

https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2021/05/04/man-vertel-van-nagmerrie-in-hande-van-12-kapers/

Polisieman gekaap: September 2014

Kol. Jannie van Tonder (Stasiekommissaris, Delmas Polisiestasie en Groepbevelvoerder) is in 2014 tussen eMalahleni en Vosman gekaap en het net buite Middelburg op die Bethalpad wakker geword.

Die dramatiese gebeure het begin toe kol. Van Tonder as groepbevelvoerder polisiestasies besoek het.

Tussen Vosman en eMalahleni het kol. Van Tonder ’n verdagte trok langs die pad opgemerk en gestop.

Daar is gesê dat daar kort daarna ’n voertuig met blou ligte en mans in polisie-uniform op die toneel gestop het. Hulle was gewapen met R5 aanvalsgewere.

Die bende het sy selfoon, dienspistool en voertuig geroof en hom met ’n wapen teen sy kop gedwing om ’n vloeistof in te neem.

https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2021/05/10/prokureur-se-bakkie-gesteel-verdagte-vinnig-vas/

https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2020/03/02/police-put-end-blue-light-terror/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Check Also
Close
Back to top button