Man sterf in trompop botsing met trok op Stoffbergpad
Verkeer was gisteraand vir ure ontwrig op die Stoffbergpad na 'n trompop botsing wat die lewe van een persoon geëis het.
‘n Man is dood en twee ander ernstig beseer in ‘n ongeluk gisteraand net buite Middelburg op die Stoffbergpad.
Volgens Arthur Hill (Dagpatrollie) het die ongeluk omstreeks 19:55 sowat 12km buite Middelburg op die R555 (Stoffbergpad) gebeur.
Hy en nog Dagpatrollielede, waaronder een van hul lede wat as paramedikus opgelei is, het na die ongelukstoneel gery om hulp te gaan verleen.
Met hul aankoms op die toneel, het omstanders vertel wat gebeur het.
Daar is gesê dat ‘n Volkswagen Polo besig was om ‘n Nissan NP200 bakkie verby te steek, toe die VW Polo trompop met ‘n trok gebots het. Dit blyk dat die VW Polo kort voor impak probeer uitswaai het en die NP200 ook getref het. Beide voertuie het langs die pad tot stilstand gekom.
Die bestuurder van die VW Polo is opslag dood en beide insitttendes van die NP200 het ernstige beserings opgedoen. Hulle is per ambulans hospitaal toe geneem.


Arthur meld dat hulle gehelp het om verkeer te reguleer, aangesien die trok ‘n groot gedeelte van die pad versper het en nie geskuif kon word tot na die polisie se forensiese afdeling hul werk gedoen het nie.
Verkeer is later op die grondgedeelte langs die pad verbygelei, aangesien dit vir kilometers opgedam het na die ongeluk.
Die oorledene is nog nie geïdentifiseer nie.
- Vroeër vandag het drie vroue en ‘n kind gesterf in ‘n ongeluk op die N11 tussen Doornkop en De Voetpadkloof.
- Daar was ook ‘n ongeluk op die R35 (Bethalpad) waar twee vroue se lewens gered is deur barmhartige samaritane nadat hul voertuig op sy dak in die rivier beland het toe ‘n agterwiel gebars het.
