Kind rol in pyn tussen lyke rond, maar ambulans kom nie
’n Ernstig beseerde kind het Saterdag tussen lyke in pyn rondgerol, terwyl daar vir bykans ’n uur vir ’n ambulans gewag is!
Lizette Snygans sal nooit die kinderlykie met die wit tekkies en blou denimpie vergeet nie of die ernstig beseerde kind wat in pyn tussen die lyke rondgerol het nie.
’n Ontstoke me. Snygans het vanoggend die Observer geskakel en vertel van die ontstellende gebeure Saterdag op die N11 waar drie vroue en ’n kind gesterf het.
“Die bestuurder van die voertuig het geskree: ‘I killed my mom!’ Hy het die een deur oopgeruk en gegil: ‘She is still alive!’, maar teen die tyd wat die ambulans gekom het, was daardie vrou ook dood.”
Sy het na aaanleiding van die oproepe wat sy gemaak het, die presiese tye bepaal hoe lank daar gewag is.
Hulle was op pad in Groblersdal se rigting, toe hulle om ’n draai kom en sien dat daar ’n ongeluk was.
Sy het presies om 11:04 die 112 Vodacom noodnommer geskakel, wat haar deurgesit het na ’n beheerkamer in Middelburg.
“Daar is vir my gesê daar is nie ’n ambulans beskikbaar nie, maar dan moet hulle tog die polisie, verkeer en brandweer stuur, maar niemand het opgedaag nie! Sy het ook nie geweet waar is die N11 nie. Ek het duidelik gesê dit is 28km buite Middelburg op die N11, Groblersdalpad.”
Me. Snygans onthou hoe warm dit was. “Die lyke en die beseerde kind het in die bloedige son gelê. Ons kon nie help nie, want nie een van die mense wat gestop het, het enige noodhulp-ondervinding gehad nie.”
Uit radeloosheid het sy ’n nommer van ER24 ambulansdienste in die hande gekry en gevra hulle moet asseblief uitkom na die toneel toe. “Die persoon wat geantwoord het, was baie behulpsaam en hulle het my selfs later weer teruggeskakel om te laat weet dat hulle ‘n ambulans gestuur het.”
Teen 11:30 was daar nog nie enige ambulanse op die toneel nie en het sy besluit om te ry, aangesien haar kinders steeds in die kar was en dit vir hulle ook baie traumaties was om die toneel te sien. Sy het egter vir die ander mense gevra om haar te laat weet sodra ’n ambulans opgedaag het.
Om 11:46 het iemand haar geskakel om te laat weet dat ER24 op die toneel is en die beseerdes help.
Wat haar ook ontstel is mense wat op die toneel gestop en foto’s en videos geneem het van die beseerdes en oorledenes.
• Die beseerde kind is dieselfde aand per helikopter oorgeplaas na ’n hospitaal in Alberton. Die helikopter het op die krieketveld van Hoërskool Middelburg geland om die kind, wat per ambulans vanaf die hospitaal soontoe geneem is, op te pik.

• Die klagtes is gestuur aan Christopher Nobela, die mediawoordvoerder van die Departement van Gesondheid. Sodra hy antwoord op ons vrae, sal die berig opdateer word.
