Middelburgers besig met herstelwerk na verwoestende wind- en haelstorm
'n Wind- en haelstorm wat veral deur Kanonkop en Dennesig getrek het, het duisende rande se skade aangerig.
Gholfbalgrootte haelkorrels aangedryf deur ‘n stormsterkte wind het huise se vensters uitgeslaan en dakke vol gate geslaan.
Die storm het kort na 17:00 uitgebreek en alhoewel talle inwoners van Kanonkop, Dennesig en net buite Middelburg op die Stoffbergpad erge skade opgedoen het, was daar gedeeltes wat nie eers ‘n druppel reën gekry het nie.
Donker wolke het vanaf 16:00 na ‘n snikhete dag begin saampak en het ‘n windstorm gevolg.
Kort na 17:00 het dit geklink of klippe uit die hemel op huise se dakke neerkom in die boonste gedeelte van Kanonkop en ‘n strook in Dennesig, asook op die Stoffbergpad.
Malie Combrink het in Zebrastraat gholfbalgrootte haelkorrels na die storm opgetel.

Mense het van oraloor af laat weet dat vensters flenters geslaan is. Op een van die noodgroepe is gevra vir hulp nadat ‘n muur omgeval het en in Maroela- en Steve Bikostraat (in Kanonkop en Dennesig onderskeidelik) is groot takke van bome afgeskeur.




Mariëtte Stapelberg (Koos de La Reystraat) meld dat die windstorm hul buurman se motorhuisdak bo-op hul huis gegooi het, waarna hulle en die bure se huisvensters stukkend geslaan is met die hael. ‘n Glasdeur is ook stukkend geslaan by die Stapelbergs.


Hul bure in Koos de la Reystraat, Glen Aslett, meld dat buiten stukkende vensters, daar letterlik gate in hul dak geslaan is deur die hael.

Nadat die Observer daaroor berig het, het een gesin laat weet dat 15 van hul huis se vensters stukkend geslaan is in Harry Gwalastraat (Dennesig).
Op die Stoffbergpad het die Els-gesin se vierjarige dogtertjie begin huil nadat haar kamervenster gistermiddag met die hael stukkend geslaan is. Die afdak voor die huis is ook flenters geslaan.
Sover as wat die joernalis vandag gery het, het boomtakke en blare oral rondgelê in hierdie twee uitbreidings.
Inwoners van die res van die dorp, soos Aerorand, Gholfsig, Clubville en die Sentrale Sakegebied sê hulle het net die wind gekry, maar dat dit glad nie by hulle gereën of gehael het nie.


- Volgens die weervoorspelling (Google Weather) kan daar weer laatmiddag ‘n donderstorm met gepaardgaande reën verwag word.
