News

Man se tone geamputeer na ernstige motorfietsongeluk

Twee van ’n man se tone is die naweek geamputeer nadat hy 10 dae gelede in ’n ernstige motorfietsongeluk betrokke was.

Gideon van Heerden (61) het ernstige been- en voetbeserings opgedoen nadat hy op 5 Desember in ’n motorfietsongeluk op die N11, Loskopdampad, betrokke was.

Gideon was vanaf Loskopdam na Middelburg onderweg en was besig om ’n voertuig verby te steek, toe ’n aankomende voertuig, wat op die skouer van die pad gestaan het, skielik weer inbeweeg het in die pad in.

Gideon het probeer uitswaai, maar die voertuig het hom steeds getref. Hy het met sy motorfiets gery tot by sy huis, waar hy die buurvrou geroep het om te kom help met die beserings aan sy voet.

Sy seun, Quentin, vertel dat, “die motorfietsongeluk hom met ernstige en lewensveranderende beserings aan sy regtervoet en onderbeen gelaat het.”

Met die impak van die ongeluk is die weefsel en bene in sy voet vergruis en geskeur met diep oop wonde en veelvuldige frakture.

Gideon is gestabiliseer in die Life Midmed Hospitaal, maar omdat hy nie ’n mediese fonds het nie, is hy oorgeplaas na die Steve Biko Hospitaal.

X-strale wys die ernstige beserings aan Gideon van Heerden se voet. Die ander foto’s van sy beserings is te grafies om te publiseer. Foto: Verskaf.

“Die dokters veg om soveel as moontlik van sy voet te red. Die trauma het ook die bloedsomloop in sy voet beïnvloed, wat veroorsaak het dat dele van die voet donkerder geword het.” Nadat hulle alles moontlik gedoen het om sy voet te red, is daar twee van sy tone Saterdag afgesit.

“My pa is allergies vir penisilien en chirurgiese staal, so hulle kon nie drade, plate of skroewe in sy voet sit nie, omdat sy liggaam dit verwerp.”

Quentin meld dat die dokters tydens die operasie gesien het dat daar nog erger beserings is aan die voet. “Dit lyk of die gangreen versprei het in sy voet in. Die dokter sê dat die weefsel wat beskadig is, soos maalvleis lyk!”

Hy sê sy pa gaan ’n lang en onseker herstelpad deurgaan. “Die dokters het gewaarsku dat hy verskeie operasies sal benodig om die skade te herstel,  insluitend moontlike rekonstruktiewe operasies, veloorplantings en intensiewe wondsorg. Daar is ook ‘n risiko dat dele van sy voet dalk nie sal herstel nie, wat tot gedeeltelike amputasie kan lei as genesing nie volgens hoop verloop nie.”

Quentin noem dat sy pa ten spyte van die pyn sterk en vasberade bly. “Hy doen sy bes om positief te bly, maar die reis wat voorlê, sal lank en moeilik wees. Hy sal voortgesette mediese behandeling, rehabilitasie en terapie benodig om hom te help om weer te loop en sy onafhanklikheid te herwin.”

Quentin het gevra dat almal saam met hulle moet bid vir genesing vir sy pa. “Ons doen alles moontlik om seker te maak dat hy die beste sorg ontvang. Almal se ondersteuning, of dit nou deur donasies, gebede of bloot die deel van sy storie is, beteken die wêreld vir ons. Elke bydrae bring ons een stap nader daaraan om hom die kans te gee om weer te genees, te loop en sy lewe ten volle te leef.”

Hulle het ’n BackaBuddy profiel begin, aangesien daar baie uitgawes gaan volg tydens die herstel- en rehabilitasieproses. Gaan in op die skakel HIER om ’n bydrae te lewer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button