Man en baba sterf in ongeluk na voertuig wal tref in digte mis
Twee mense, waaronder ’n baba, is dood in ’n ongeluk in digte mis op die Carolinapad.
’n Man en ’n baba het vanoggend in ’n ongeluk gesterf waar ’n voertuig ’n wal getref het op die Carolinapad, sowat drie kilometer vanaf die N4.
Na wat verneem word is daar onlangs ’n ompad gebou op die pad en dit blyk dat die voertuig in die digte mis waar die ou pad by die nuwe pad aansluit, reguit aangery het en ’n wal getref het.

Die ongeluk het omstreeks 05:45 plaasgevind en het die man en baba op die toneel gesterf. ’n Vrou is ernstig beseer en per ambulans na die Belfast Hospitaal, sowat 30km vanaf die ongelukstoneel, geneem.
Moeti Mmusi (mediawoordvoerder van die Departement van Gemeenskapsveiligheid en Sekuriteit) was onbewus van die ongeluk en het gesê hy sal navraag doen by die polisie rakende die gebeure.
Dit is die derde noodlottige ongeluk in die Belfast omgewing in net meer as ’n jaar waarin jong kinders gesterf het.
- Op 16 Desember verlede jaar het Sybrand (28) en Clarissa van Dyk (23) en hul babaseuntjie, Hendrè, in ’n ongeluk op die N4 gesterf. Hulle was vanaf Carolina na eMalahleni onderweg toe die ongeluk naby die Woestalleen afrit gebeur het.
- Op 31 Desember 2024 is sewe mense, waaronder ’n sesjarige kind en ’n baba dood in ’n ongeluk op die N4 tussen Sunbury en Wonderfontein.
