Twee jaar gelede het Keara Botha (19) gaste by HTS Middelburg na hulle asems laat snak, toe sy met ’n rooi pakkie op haar fiets by die matriekafskeid opgedaag het.
Geen fênsie kar, geen rok wat in die stad deur ’n modeontwerper gemaak is nie, net sy, die rooi pakkie wat sy selfs ontwerp het en haar fiets.

Keara het met die rooi kortbroek aangery gekom, waarna haar metgesel vir die aand, Lorenzo Gates (ook ’n fietsryer) by die rooi tapyt haar rok se romp oor ’n fietsrybroek vir haar help vasmaak het,
Nou gaan sy Sondag as lid van Middelburg Fietsryklub aan die Mpumalanga fietsry kampioenskappe in Boksburg deelneem.
Keara is ’n bobaas fietsryer wat in 2024 eerste in haar ouderdomsgroep in Mpumalanga en vierde (ook in haar ouderdomsgroep) in Suid-Afrika geëindig het.
Sy neem Sondag aan die padwedren in die o/23 ouderdomsgroep deel waar die Protea ryer, Megan Botha van Nelspruit, ook in aksie is.
Die enigste ander lid van Middelburg Fietsryklub wat ingeskryf het is Len Sutton wat in die oor 70 jaar ouderdomsgroep trap. Hy het verlede jaar die Mpumalanga span gehaal, wat aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe deelgeneem het. Oud Middelburgers Gustav Basson en Magda Nieuwoudt neem vir Gauteng deel.
