Nóg twee vroue kom na vore met klagtes teen oudpolisieman
In die borgaansoekverrigtinge teen die oudpolisieman wat tans tereg staan op 37 klagtes, het dit aan die lig gekom dat nóg twee vroue na vore gekom het.
Buiten die 37 klagtes waarop ’n oudpolisieman tereg staan, het dit pas in die borgverrigtinge aan die lig gekom dat daar nóg twee vroue na vore gekom het.
Dit is nog nie duidelik presies wat die klagtes is wat die vroue gelê het nie, maar dit is bevestig dat dit ook seksueel van aard is.
Dit bring die aantal individuele klaers teen die verdagte op 15 te stand.
Klagtes is seksueel van aard
Die klagtes teen die oudpolisieman hou verband met seksdade, waaronder verkragting en seksuele aanranding, en sy naam mag eers genoem word as hy op die klagtes pleit.
Mnr. Josef van Eeden, wat die borgaansoek vir die man hanteer, het vanoggend in ’n breedvoerige dokument uitgewei waarom sy kliënt borg moet kry.
Redes aangevoer waarom borg moet kry
Van die redes was onder andere dat die klagtes baie oud is, van hulle is 33 jaar oud, dat die beskuldigde onderliggende siektetoestande het, dat die staat se sake spekulatief is en dat die media en sosiale media ’n groot dryfkrag was in die vervolging van sy kliënt. Daar is gesê dat van die vroue eers na vore gekom het nadat die media daaroor berig het en dat hulle moontlik uit persoonlike vendettas net klagtes gemaak het.
Hy het ook aangevoer dat die beskuldigde nie weet wie die klaers is nie en hulle dus nie kan intimideer nie. Ook dat sy kliënt nie die polisiemag se naam in oneer gebring het toe hy in die polisie was nie.
Redes waarom borg nie toegestaan moet word nie
In antwoord daarop het adv. Derik Rowles hofuitsprake, waaronder deur die konstitisionele hof, aangehaal, waarin daar gesê is dat enige ander sake ouer as 20 jaar nie vervolg word nie, maar dat dit seksuele klagtes uitsluit.
Hy het dit duidelik gemaak dat die staat beëdigde verklarings het van die klaers en dit beslis nie ‘spekulatief’ is nie. Verder dat siektetoestande in die tronke met medikasie hanteer kan word en dit nie ’n rede is waarom hy borg moet kry nie.
Ten opsigte van die bewering dat die media en sosiale media klaers na vore laat kom het, het adv. Rowles dit duidelik gemaak dat vroue nie hulself sal blootstel in so ’n saak om vals bewerings te maak nie.
Hy het weer beklemtoon dat die oudpolisieman sy mag as polisielid gebruik het om die meisies te oortuig om saam met hom te gaan en dat die staat nooit die polisie self in oneer gebring het nie, maar die individue wat die beskuldigde gehelp het.
Adv. Rowles het op die aanname dat hy nie weet wie die klaers is nie en hulle nie kan intimideer nie, genoem dat die beskuldigde in ’n verhouding was met twee van die klaers en hulle dus beslis ken.
- Die borgaansoek duur vanmiddag voort.
