News

Help! Is daar iemand in die Kaap wat ’n tandemfiets het vir Badprop?

Versugting: Het ons maar Oupa se 1927 fiets gehou!

Die eindstryd nader nou vinnig vir die oud-Affie-hoofseun, Andru van Zyl (18), om sy epiese fietsrytog van Polokwane na die Kaap te voltooi. Daar is nog net ses dae se trap oor. Hy het vanoggend van Mosselbaai na Stilbaai gery.

Maar nou wil die seun wat die inspirasie vir sy poging is, Mandré (Badprop) de Jager, die laaste dag saam met hom trap. Die probleem is: Mandré kort ’n tandemfiets.

Steyn du Plessis, wat die eerste twee weke vanaf Polokwane saamgetrap het en nou weer by Andru aangesluit het, het ’n boodskap aan Kapenaars:

“Ons is op soek na ’n tandemfiets om te leen in die Kaap-omgewing vir die laaste paar dae vanaf die Paarl na Kaapstad. Pieter de Jager en sy seun Mandré, wat vandag na sy vierde chemo-behandeling ontslaan is, wil graag Kaap toe vlieg om die laaste dag, op 22 Januarie, saam met Andru te ry. Andru het baie vermag vir Mandré en duisende ander kinders wat tans deur CHOC (Childhood Cancer Foundation SA) teen kanker veg.”

As daar enigiemand is wat kan help of weet van iemand wat kan uithelp, skakel asseblief 082 696 3414. “Iets tussen M en XL, daarmee sal ons ’n plan kan maak.”

Lene van Leeuwen het ook geskryf:

“@Lamps on Wheels het ’n vuur in ons almal aangesteek. Ons as gesin het gebroke gevoel toe Mandré, alias Badprop, met Ewing-sarkoom gediagnoseer is, maar God het in Sy krag ’n gesin van vreemdelinge bymekaar gebring. Ons staan in verwondering oor alles wat gebeur het en die wonderwerke waarmee ons geseën is.

“Andru en die matriekleiers van Affies 2025 het Mandré by die onkologie-eenheid besoek, en toe het Andru besluit om van Polokwane na Kaapstad te ry vir ’n bewusmakingsveldtog en fondsinsameling vir CHOC. Mandré wil die laaste paar kilometer saam met Andru ry om sy ondersteuning en waardering te toon.

“Ons is nie seker hoe sterk hy na hierdie week se chemo is nie, maar sy pa, Pieter, en ’n paar vriende het vrywillig aangebied om saam met hom op ’n tandemfiets te trap. My oupa het in 1927 ’n tandemfiets vir sy broers gekoop om skool toe te gaan. Ek wens ons het dit gehou, maar nou hoop ons dat daar iemand in Kaapstad sal wees wat ’n tandemfiets het wat ons vir 21 en 22 Januarie 2026 kan huur. Dit is vir Badprop, maar ook vir CHOC en kinders wat teen kanker worstel.”

Inwoners van Groblersdal tot Middelburg, Bethal, Standerton en Bethulie het reeds hulle harte wawyd oopgemaak vir die poging. Laat hoor van julle, Kapenaars!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button