Valk val op dak ná windbuks-skietery in Groenkol
Inwoners van Groenkol in Middelburg, is geskok oor ’n valk wat op ’n huis se dak geval het, nadat dit waarskynlik met ’n windbuks geskiet is.
Volgens inwoners in Zuidstraat, het hulle omstreeks 12:00 ‘n harde slag gehoor. Met ondersoek is die beseerde roofvoël op die dak gevind. Dié uitsonderlike dier het kort daarna gevrek.
Die valk het glo nog ’n kuiken se veertjie in sy bek gehad, wat vermoedens laat ontstaan dat die voël moontlik geteiken is deur iemand wat hoenders aanhou.
DA-wyksraadslid, San-Mari Wait, sê die voorval is nie ’n geïsoleerde geval nie, máár deel van ’n ontstellende en wrede patroon van dieremishandeling in dié area.

“In die afgelope tyd is twee uile ook in Frame- en Damstraat doodgeskiet,” het sy gesê.
Boonop is daar verskeie klagtes ontvang oor katjies wat vermis raak en later dood langs die pad gevind word – almal met tekens wat dui op windbuksskote.
Volgens die Dierebeskermingswet is dit ’n strafbare oortreding om enige dier onnodig te beseer óf onmenslik dood te maak. Dit sluit die gebruik van ’n windbuks in.
Die afvuur van ’n windbuks in ’n woongebied is ook onwettig. Die Middelburg Dierebeskermingsvereniging waarsku gereeld dat roofvoëls soos valke en uile beskermde voëls is.
Die skiet van enige dier, selfs met ’n windbuks, kan as dieremishandeling beskou word en tot vervolging lei.
Enige persoon wat inligting het oor wie verantwoordelik is vir die skietery van die voëls pf katte, kan rdl. Wait by 083 250 5968 of die DBV, by 013 246 1201 skakel.
“Ons kan nie toelaat dat diere só in ons woonbuurte uitgewis word nie.”
Intussen tyd groei die kommer en vrees dat dit net ’n kwessie van tyd is voordat, nie net diere nie, maar ook mense in gevaar gestel word.
