DA parlementslid omgekrap omdat tolk nie beskikbaar was vir opspraakwekkende saak
Die LUR vir Justisie het gewaarsku dat herhaalde vertragings in die geregtelike doodsondersoek na Maryka Kleinhans die vertroue in die regsproses skade berokken.
Die uitstel van ’n geregtelike doodsondersoek in die Middelburgse Landdroshof weens die afwesigheid van ’n Afrikaanse tolk het skerp kritiek ontlok van Damien Klopper, Lid van die Parlement op die Portefeuljekomitee vir Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling en Politieke Hoof van Chief Albert Luthuli.
Klopper het in ’n formele brief aan die kantoorbestuurder van die Middelburgse Landdroshof sy ernstige kommer uitgespreek oor die jongste uitstel, wat plaasgevind het net voordat Awie Geldenhuys sou getuig in die geregtelike ondersoek na die dood van Maryka Kleinhans.

Volgens Klopper is dit onaanvaarbaar dat ’n saak van hierdie erns op so ’n kritieke stadium vertraag word weens administratiewe tekortkominge wat, volgens hom, voorkombaar behoort te wees. Hy het gewaarsku dat geregtigheid wat vertraag word, in werklikheid geregtigheid ontken.
Hy het verder daarop gewys dat hy tydens verskeie besoeke aan die Middelburg Landdroshof meegedeel is dat daar nié ’n tekort aan tolke is nie en dat ’n poel van tolke beskikbaar behoort te wees om verrigtinge te laat voortgaan.
Die saak is Woensdag uitgestel omdat daar nie ’n Afrikaanse tolk beskikbaar was toe Geldenhuys moes getuig nie. Hoewel Geldenhuys aangedui het dat hy bereid is om in Engels te getuig, het die voorsittende beampte dit nie goedgekeur nie en die saak tot Mei uitgestel.
Maryka het die aand van 27 Januarie 2019 in Kranspoort gesterf nadat sy saam met Geldenhuys in sy voertuig was.

In getuienis wat voorheen gelewer is in die ondersoek, het getuies gemeld dat Geldenhuys later op die toneel sou gesê het dat sy agter gesit het en toe hy omkyk was sy weg. Daar is al talle bewerings deur die jare gemaak dat sy uitgespring of uitgestamp is.
Die Onafhanklike Polisie Ondersoekdirektoraat (OPOD) sou Dinsdag hul getuienis bring in die ondersoek, wat oor drie dae in die hof geplaas is, maar hulle was nie daar nie. OPOD het in 2022 hul ondersoek afgehandel.
Deur die jare is talle daar bewerings gemaak dat sy óf uit die voertuig gespring het óf uit die voertuig gestamp is.
Klopper het in sy brief versoek dat skriftelike redes verskaf word oor waarom geen tolk beskikbaar was nie, en dat duidelike maatreëls ingestel word om te verseker dat soortgelyke uitstelle nie weer voorkom nie.
Die Observer het die brief ook gestuur aan die Nasionale Vervolgingsgesag se mediakantoor vir kommentaar, maar daar is nie ’n antwoord verskaf voor publikasie nie.
