News

KYK: Vrou dalk deel van bende wat hekmotors steel!

Duidelike kringtelevisie beeldmateriaal wys dat ’n vrou heel moontlik deel vorm van die hekmotorbende wat tans voor die voet hekmotors in veral Kanonkop steel.

Die hekmotorbende het vanoggend in die vroeë oggendure wéér toegeslaan in Kanonkop en hierdie keer is daar duidelike beeldmateriaal wat wys hoe die groep van vier, waarvan een na alle waarskynlikheid ’n blonde vrou, saamwerk.

Terwyl hadida’s kliphard skree en honde aanmekaar blaf, het die groep ongestoord voortgegaan vir bykans 10 minute om ’n hekmotor in Zebrastraat los te woel en oor die hek vir mekaar aan te gee.

Twee van die booswigte het omstreeks 01:23 oor die muur gespring en begin karring aan die hekmotor. “Hulle het ’n bietjie gesukkel, maar aangehou totdat hulle dit los gekry het,” het die huiseienaar, wat anoniem wil bly, gesê.

Die diewe aan die binnekant van die erf het ’n ruk gesukkel om die hekmotor los te kry. Foto: Skermskoot van videomateriaal.

Die huismense het op ’n stadium wakker geword van die honde in die omgewing se geblaf, maar weer aan die slaap geraak, omdat hulle alarm-ogies oral in die tuin het. “Om een of ander rede het die alarm nie afgegaan nie.”

Op die beeldmateriaal word gesien dat die twee diewe aan die binnekant van die erf albei klapmusse dra. Een lê vir ’n geruime tyd op sy sy, terwyl sy makker die drade ontkoppel en aan die hekmotor ruk en pluk om dit los te maak. Die een wat gelê het, staan dan op en lig die hekmotor uit die grond met wat lyk soos ’n koevoet.

’n Mens kan duidelik op die videomateriaal sien dat hulle klapmusse gedra het. Aan die anderkant van die hek is die man met die wit baadjie met kappie (hoodie). Foto: Skermskoot van videomateriaal.

Terwyl die twee aan die binnekant van die erf werskaf, kom ’n man in die straat opgestap na die hek toe en bly aan die buitekant van die hek staan. ’n  Mens kan sien dat hy ’n wit baadjie met kappie (hoodie) dra. Hy praat ’n rukkie met die twee aan die binnekant, maar loop dan oor die straat en praat met iemand wat teen die muur aan die oorkant van die pad teen die muur hurk.

Die oomblik toe die hekmotor los is, lig die klapmusdraers die hekmotor oor die hek en kom die man met die wit hemp vinnig aangestap om dit aan te vat. Dit is dan wat ’n mens nog ’n vierde figuur uit die skaduwees van oorkant die pad sien aangeloop kom. Dié figuur kom tot teen die muur, en as die kop draai, sien jy duidelik dat dit ’n blonde, kleingeboude persoon is met hare wat saamgevat is in ’n bolla — waarskynlik ’n vrou.

Die diewe aan die binnekant gee die gesteelde hekmotor aan vir hul makker. Foto: Skermskoot van videomateriaal.

Nadat die hekmotor aangevat is deur die twee aan die buitekant van die hek, spring die ander twee oor die muur en die vierstuks verdwyn op in die straat.

Die hekmotordiewe spring oor die muur. Foto: Skermskoot van videomateriaal.

Daar is laat weet dat die diewe nog ’n hekmotor in dieselfde straat probeer steel het, maar dat hulle dit nie kon loskry nie en geepad het.

Dit is die vierde hekmotor wat vanaf Vrydag in Kanonkop gesteel is. Twee is Vrydag en een is Maandag in die vroeë oggendure gesteel. Die slagoffers het laat weet dat die diewe meer as een keer by hul huise toegeslaan het.

@middelburgobserver

CCTV footage from early this morning clearly shows a person with blonde hair in a bun, possibly a woman, with a group who are targeting gate motors in Kanonkop, Middelburg. Kanonkop, MiddelburgObserver, GateMotorTheft, Middelburg, CrimeWatch, CommunityAlert

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button