Saggeaarde seuntjie sterf in fratsongeluk by pa se werk
’n Dag nadat Christiaan Moolman sy 11de verjaardag vier, word sy negejarige boetie, Mynhardt, begrawe.
’n Gebroke Tiaan en Evette Moolman het vanoggend vertel van hul saggeaarde seuntjie, Mynhardt (9), wat Saterdag tydens ’n fratsongeluk by sy pa se werk gesterf het.

“Christiaan (11), sy ouer boetie, het reg langs hom gestaan, toe die ongeluk gebeur het. Christiaan verjaar Donderdag en Vrydag begrawe ons sy boetie,” het hulle hartseer gesê.

Mynhardt, wat ’n graad vier leerling van Laerskool Middelburg is, en Christiaan, het gereeld saam met pappa Tiaan na sy werk toe gegaan. Die twee boeties was onafskeidbaar.
Tiaan verduidelik dat hulle graag “met die klippies en ystertjies gespeel het” en saam met ’n karretjie op die perseel gery het.
Die egpaar wou nie uitbrei oor die gebeure nie, maar na die fratsongeluk het Herco Minnaar, Ivan Mokwana en Chris Maytham vir Tiaan op die toneel gehelp. Mynhardt is opslag dood. “As dit nie vir hulle was nie, sou ek dit nie kon doen nie.”
As Evette en Tiaan aan hul seuntjie dink, dan is dit sy besondere geaardheid. “Hy is die een wat almal wat seergekry het, kantoor toe gehelp het. Hy was ’n saggeaarde, liefdevolle, vrolike en vriendelike kind.”
Tiaan het bygevoeg dat toe hulle deur al sy foto’s gegaan het, hulle opgemerk het, “dat daar nie een foto is waar hy nie smile nie. Dit is hoe Mynhardt was, hy was altyd gelukkig.”
Hul seuntjie het ook baie gehou van visvang en om saam op die boot te ry. Mynhardt was op sy gelukkigste om alles te doen wat sy pappa doen.

Buiten sy ouers en boetie, word Mynhardt ook oorleef deur sy grootouers, Evert en Suzette Calitz en Chris en Karen Moolman.
• Die egpaar wil graag die Middelburg gemeenskap bedank vir al hul liefde, boodskappe en die kos wat sedert hul seuntjie se dood “net by ons opdaag. Ons weet nie wie almal is nie, maar baie dankie.”
