News

Mense het humor tydens die Covid pandemie gebruik om angs beter te hanteer

Die mees verlore dag is die een waar jy nie gelag het nie

Al teister misdaad, korrupsie, swak dienslewering en die hoë petrolprys Suid-Afrikaners, bly hulle hoopvol.
Dit is ook ’n land waar daar gereeld en baie gelag word.
Na ’n stortvloed grappies, videos en memes oor die hoë petrolprys, het ons gaan kers opsteek by professor Tharina Guse.
Departementshoof: Sielkunde, aan die Universiteit Pretoria, waarom Suid-Afrikaners in die mees onmoontlike situasies tyd maak om te lag.

Baie kragtige hulpbron

Professor Guse is ’n oud Middelburger.
Sy sê humor is universeel en ’n baie kragtige hulpbron om ons te help om krisisse en struikelblokke te hanteer.

“Die bekende Viktor Frankl beskryf humor as essensieel tot menswees – ’n meganisme wat ons help om afstand te kry van die probleem/krisis wat ons moet hanteer.”
Volgens prof. Guse word humor al jare lank vanuit verskillende vakgebiede bestudeer, en navorsing toon dat humor verskillende velde van ons lewe, asook ons gedrag, kan beïnvloed. Dit bevorder sosiale interaksies, verstewig emosionele veerkragtigeid, help ons om emosies te prosesseer, spesifiek om negatiewe gebeure meer positief te hanteer.

Relatief hoë telling

“’n Onlangse studie het humor style onder 28 lande ondersoek. Die Suid-Afrikaanse steekproef het ’n relatief hoë telling getoon, op die gebruik van selfenhancing humor. Mense wat hierdie styl gebruik, gebruik dit om hulleself op te beur, selfs al is hulle alleen. Deelnemers van Hongarye en Indonesië se tellings was soortgelyk, maar die Japannese groep s’n was die laagste van al die lande.”

Wim Bosman het ’n boek uitgegee met sy Bosveldbure se streke in. Hierdie is die boek se voorblad.

Suid-Afrika is bekend vir Van der Merwe en selfs Ou Maaik grappies, maar is dit uniek aan ons, om baie en lekker te lag?

“Hoe mense humor ervaar en gebruik, word deur verskillende faktore en kontekste beïnvloed, soos ouderdom, geslag, politiek, godsdiens, asook sosiale en kulturele aspekte. In Suid-Afrika sal ons unieke grappies hê, wat bekend is vir mense van byvoorbeeld ’n spesifeke en kulturele groep (Van der Merwe is so ’n voorbeeld in die Afrikaanse volksmond).


Waarom doen mense dit? Om humor te soek in die mees traumatiese en selfs tragiese gebeure soos tydens die Covid pandemie?

“Humor help ons om negatiewe emosies te prosesseer. Daar is heelwat navorsing gedoen oor humor tydens Covid. Dit blyk dat mense humor gebruik het om hulle angs rondom die pandemie te hanteer. Dit was ook ’n teenvoeter vir gevoelens van hopeloosheid. Maar hoe werk dit? Wanneer ons lag, ontlok dit positiewe emosies wat angs verminder en afstand gee van die negatiewe gebeure. Deur saam te lag, versterk ons sosiale kohesie en interpersoonlike verhoudinge. Ons voel dus nie so alleen in die krisis nie – juis daarom sien ons soveel memes en grappies wanneer daar gebeure is wat ons almal raak (soos die petrolprys en die politiek).

Lou Henning en Andries Botha het ’n boek gepubliseer met Mike Schutte se grappies in met die titel “Ou Maaik”. Die strokies is ook deur die Middelburg Observer aangekoop.

Waar staan Suid-Afrika op die Hoop Barometer?

“Ons gaan steeds voort met die projek en Suid-Afrika se vlakke van hoop bly konsekwent hoog, in vergelyking met die meeste Westerse lande.”
En daar het jy dit. ’n Lag ’n dag laat die dokter wag.
Of soos E.E Cummings verklaar het: “The most wasted of days is the one without laughter.”

Lees ook:

Petrolprys is geen grap nie, tog is dit ’n groot grap

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button