NewsSport

Die blesbok is dood, lank lewe die Blesbok…

Om hierdie trui te besit moes jy hom gesteel het

Die renoster kan nog gered word, die blesbok nie.
Hy het lankal uitgesterf.
Professionele rugby het hom die doodskoot gegee.
Daar was ’n tyd in Suid-Afrikaanse rugby waar elke provinsie ’n B-span gehad het.
Die Noord-Transvaal B-span van die jare 70 en 80, sou die meeste Curriebeker spanne van vandag geklop het.

Die verskillende wapens wat vir die Suidoos-Transvaal Blesbokke gebruik is. FOTO’S: Verskaf.

Suidoos-Transvaal se B-span was bekend as die Blesbokke.
Daar was iets spesiaal aan hierdie span, miskien omdat spelers met uitsonderlike name soos Koffie van Staden, Pierewiet Ackerman, Kapokkie Erasmus, Ghitaar de Jager, Vlooi du Toit, Boerpens Strydom, Bakkies Lourens, Boertjie Barnard, Olaf Bergh, Mannetjies Bezuidenhout, China Vorster en Kleintjie Venter vir hulle gespeel het.

Die Suidoos-Transvaal grys trui met varkoor en die Blesbok trui. FOTO: Verskaf.

Kleintjie was ’n reus van ’n man. Dit was amper soos wanneer jy ’n olifant Tiny noem.
Kapokkie, Vlooi en China, het in 1980 vir ’n onvergeetlike oomblik op Loftus Versfeld gesorg.
Suidoos-Transvaal het daardie dag in die halfeindstryd van die Curriebeker teen Noord-Transvaal gespeel. Die Blesbokke was in die voorwedstryd in aksie.

Marius Noeth het die Blesbok laat herleef. FOTO: Verskaf.

Die meeste spelers was nie lus om ’n Noord-Transvaal B-span te pak, met die swaargewig bokser Kallie Knoetze en gereelde Noord-Transvaal Curriebeker spelers soos Edrich Krantz, Ewoud Malan, John Knox en Pierre van Zyl in hulle geledere nie.
Buitendien was die Suidoos seisoen verby en die Blesbok spelers was twee tot drie maande laas in aksie.

Die beriggie in die Middelburg Observer wat Marius Noeth insipreer het. FOTO: Verskaf.

Die Vrydag is ’n span bymekaar geskraap. Gereelde tweede en derde span spelers Tonie van Tonder, Sieg Stander, Arrie Myburgh en Hannes Joubert, is gevra om die magtige Noord-Transvaal B-span aan te durf.
Knoetze het ’n slag bly lê en die groot skare het begin tel “een, twee, drie, vier, vyf…”. Met die telling op nege was die swaargewig op sy voete.

Die Blesbok span wat op 27 September 1980 teen Noord-Transvaal se B-span op Loftus Versfeld uitgedraf het. Voor: Klasie la Grange, Willie Meintjies, Julius Weber (Sekretaris), Piet Craven (Kaptein), Hennie Erasmus (President), Rautie Rautenbach (Spanbestuurder), China Vorster, Arrie Myburgh.
Middel: Jan Tonkin, Jan Harris, Tonie van Tonder, J Henderson (Sy naam is nie bekend nie), Sieg Stander, Vlooi du Toit, Manie Meintjies, Piet Bruwer, Kapokkie Erasmus.
Agter: Ben Schoeman, Hantie Lombaard, Hannes Joubert.

Na vyf minute was dit 6-0 in Noord-Transvaal B se guns, nadat Pieter Cronjé gedruk en Lourens de Jager, met die doelskop geslaag het. ’n Drie het vier punte getel.
Met 20 minute verstreke, was dit al 30-3 en die skare het gewag vir ’n slagting.
Maar toe skop Tjokkie teen Kapokkie vas, die witkop agsteman van Witbank, Tonie van Tonder, raap die bal op en druk onder die pale.

Die skare het gejuig.
Skielik was hulle bankvas agter die Blesbokke.
Elke beweging van die klomp Suidoosters is toegejuig.
Wanneer daar oor die luidsprekerstelsel aangekondig is Kapokkie lê aan pale toe, kon die gelag tot by die uniegebou gehoor word.

Die Blesbok het dalk ook gepronk

En wanneer Vlooi se naam genoem is, is daar verder gelag.
My China, mens kan amper sê dit was die dag toe Vlooi en Kapokkie, die Loftus skare in vervoering gehad het.
Die Blesbokke het steeds met 64-19 verloor.
Maar die Blesbok het dalk ook gepronk, want bekende Suidoos-Transvaal spelers Ben Badenhorst, Marius Bosman, Nan Broekman, Richard Cooke, Hendrik Crafford, Piet Craven wat kaptein was teen Noord-Transvaal B, Jan Erasmus, Roy Greybe, Chris Grobler, Gawie Hugo, Hendrik Koekemoer, Jorrie Jordaan, Hein Mentz, Terence Moll, George Minnaar, Daan Otto, Louis Pietersen, Hennie van der Spuy, Frank Sullivan en Bertus van Eeden, het vir die B-span gespeel.

Nuwe lewe

Net toe die Blesbok finaal in die vergetelheid verdwyn, het hy die afgelope tyd weer nuwe lewe gekry.
Dit het alles begin by ’n beriggie in die Middelburg Observer onder die opskrif “Die Blesbok gaan dalk herleef”.
Dit was nadat organiseerder Jakes van der Merwe jare gelede besluit het om oor nostalgiese redes Blesbok truie te maak en ’n Nashua uitnodigingspan tydens die jaarlikse sewes toernooi by Hoërskool Middelburg, daarin te laat speel.

Die berig het by Marius Noeth vasgesteek, wat vir Bethal, Elektrapark en Witbank, op voorry gesak en in 1989 vir die Blesbokke uitgedraf het..
Hy het begin om ’n lys van spelers saam te stel, wat vir die Blesbokke gespeel het en ’n Suidoos-Transvaal B-span Facebookblad begin.

So skaars soos hoendertande

Die belangstelling het ontplof.
Daar was net een probleem, Blesbok truie is so skaars soos hoendertande.
In die vroeë jare van amateur rugby was daar nie geld nie.
Dit was nie die rojale rugbylewe van vandag nie.
Na Blesbok wedstryde is die truie teruggeneem, laat was en weer gebruik.

Blesbok truie op bestelling

Suidoos-Transvaal sekretaris, Julius Weber, het seker gemaak dat van nommer 15 tot nommer een in die kleedkamer agterbly.
Daar was nie geld om nog truie te koop nie.
“As jy nie ’n trui gesteel het nie, het jy nie ’n trui gehad nie,” sê Gert Martin.
Hy het begin om Blesbok truie op bestelling te maak, omdat dit so gesog is.
Die rugbyversamelaar, Willem du Preez, sê hy het ’n Blesbok trui, maar daar is ook ’n Suidoos varkoor op die trui.

Die Blesbokke span wat op 4 Junie 1983 teen Noord-Transvaal se B-span op Witbank gespeel het.

Geskiedenis nie opgeteken

Nog ’n probleem; die Blesbokke se geskiedenis is nie opgeteken nie.
Waar en wanneer is besluit om die naam Blesbok te gebruik?
Wie was die eerste Blesbok span.
Hoeveel wedstryde het hulle gespeel?
Wat was die tellings?

Suid-Afrikaanse rugby statikus, Eddie Grieb, het by navraag gesê dit is net Noeth wat inligting het.
Selfs in die boek oor Suidoos-Transvaal se geskiedenis, wat Grieb saam met Heinrich Schultze geskryf het, is daar nie interessanthede oor die Blesbokke nie.

Met die soeke na inligting is daar op nog ’n interessante stukkie inligting afgekom.
Die Puma professionele span, wat later in pienk gespeel het, was nie die eerste span wat die kleur pienk gebruik het nie.

Pienk varkoor

Martin sê die o/21 en o/23 Suidoos spanne van destyds het ’n pienk varkoor gehad.
Volgens hom is die versamelstuk wat Du Preez het ’n trui waarop sakwapens vasgewerk is.
Met die Blesbok wat skielik weer, danksy Noeth, gallop, is dit duidelik dat die trotse span van weleer, nog lank nie vergete is nie.
Ja, die blesbok is dalk dood, maar lank lewe die Blesbok…

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button