Hoërskool Middelburg is die o. 15-seweskampioene van Mpumalanga na ’n naelskraapse oorwinning oor Nelspruit, terwyl die Laevelders die bordjies verhang het in nog ’n naelbyter deur Middies te klop in die o. 17-afdeling.
Die Kampioen van Kampioene-toernooi is by Hoërskool Hoogenhout op Bethal beslis en die o. 15-toernooi is by Penryn op Mbombela aangebied.
Is dit dalk die voorspel tot volgende jaar se vyftienmanrugby in die Bekerafdeling van die Noordvaal Virsekerbeker?
Dinge gebeur by die Wit Bulle met MJ Mentz wat die kitaar slaan en by die skool in groen is dit Christiaan Gouws wat die leisels vasvat.
Hy is ook pas aangestel as hoofafrigter van die Puma Cravenweekspan terwyl Mentz die Grant Khomo-span gaan brei.
Rugby-entoesiaste kan nie kwalik geneem word dat hulle die slapies aftel totdat die 2027-seisoen afskop nie.
As daar een bepaling is waarna uitgesien word, is dit tussen Nelspruit en Middelburg se spogrugbyskole.
In hulle opmars na die titel het Nelspruit se o. 17-sewesspan die volgende spanne geklop:
- Wen 35-19 teen Piet Retief
- Wen 22-10 teen Hoogenhout
- Wen 21-5 teen Standerton
- Wen 21-7 teen Ligbron
Semifinaal:
- Wen 35-19 teen HTS Middelburg
Eindstryd:
- Wen 17-12 teen Hoërskool Middelburg
Hoërskool Middelburg se uitslae was:
- Wen 33-0 teen Barbarians
- Wen 35-0 teen Ermelo
- Wen 29-5 teen Secunda
- Wen 19-0 teen HTS Middelburg
- Verloor eindstryd 17-12 teen Nelspruit
Hoërskool Middelburg se o. 15’s-uitslae was:
- Wen 24-12 teen Ermelo
- Wen 22-17 teen Ligbron
- Wen 38-0 teen die Barbarians
- Wen 29-5 teen Secunda
- In die semifinaal klop hulle Piet Retief 29-7.
- Die eindstryd is met 28-26 teen Nelspruit gewen.
