MIDDELBURG ERFENIS: Die week in Middelburg se Geskiedenis – 6 April
Die Van Riebeeckfees - 6 April 1952
Agtergrond
In 1952 is die driehonderdjarige eeufees van die aankoms van Jan van Riebeeck (6 April 1652) landwyd met die van Riebeeckfees gevier.
Reeds op 6 April 1950 het dr TE Dönges, toe Minister van Binnelandse Sake, aangekondig dat ’n gemeenskapsfees met staatsteun in 1952 gehou sal word en dr. AJ van der Merwe, ’n NG-predikant en latere moderator, is as voorsitter van die Sentrale Reëlingskomitee aangewys. 300 Plaaslike komitees is gevorm in samewerking met die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV). Die tema vir die fees was Ons bou ’n Nasie.
Deel van die feesbeplanning was ’n simboliese trek. ’n Roete, met poskoetse deur perde getrek, is van verskeie punte in die land na Kaapstad beplan. Sewe replika-poskoetse, gebaseer op die ontwerp van die Zeederberg koetse, is spesiaal vir die fees gebou: ses deur De Haan Bakwerk van Elsiesrivier teen £675 per koets en die sewende deur die Pretoria Munisipale Werkswinkel. Die Zeederberg-broers het aan die einde van die negentiende eeu ’n uitgebreide poskoetsdiens in Transvaal en Rhodesië gehad met Abbot Downing-koetse wat uit die Verenigde State van Amerika ingevoer is. Die oorspronklike planne van daardie koetse is gebruik vir die bou van die replika-koetse. Die De Haan-bakwerkbouers het met die hulp van hul broer in Nederland die koetse gebou.
Die koetse is bruin geverf met eenvormige goue letterwerk. Die Van Riebeeck-feeswapen is op al die deure aangebring. Die koetse het beide kante deure gehad, met oop vensters waaroor seile afgerol kon word. Plek vir bagasie was tussen die banke op die dak of op ‘n bagasieblad agter aan die koets.
Die koetse het elk ’n koetsier en drywerbank voor gehad, met banke op die dak vir drie passasiers wat vorentoe gekyk het en drie passasiers op die dak agter, wat agtertoe gekyk het. Binne was sitplek vir 12 passasiers op gestoffeerde banke.
Die koetse is deur verskeie stede geborg, naamlik:
- Johannesburg
- Pretoria
- Germiston
- Bloemfontein
- Kaapland (nie Kaapstad nie)
- Durban
- Setlaarskoets geborg deur Port Elizabeth, Oos-Londen, King Williams Town, Umtata en Uitenhage.

Die koetse het van sewe punte uit die land op roetes na Kaapstad vertrek:
- Windhoek – die Kaapland-koets
- Messina – die Pretoria-koets
- Groblersdal – die Johannesburg-koets
- Sabie – die Bloemfontein-koets
- Ohrigstad – die Germiston-koets
- Amsterdam – die Durban-koets
- Port St. Johns – die Setlaarskoets
Die koetse is getrek deur spanne van ses tot agt perde of muile en het teen gemiddeld agt km/uur beweeg en tussen 48 en 56 km per dag afgelê.
Dorpe reg deur die land is versoek om die geskiedenis van die dorp in boekvorm vas te lê en aan die koets te oorhandig.
Opening van die fees
Die opening van die fees het in Ohrigstad, as die mees noordelike punt wat deur die Voortrekkers bereik is, plaasgevind. Op 4-5 Januarie 1952 word die fees geopen deur dr D.F. Malan, eerste minister van die Unie van Suid-Afrika. Na ’n toespraak deur dr Malan, het hy 21:00 die kerkklok gelui. Dit is oor die radio uitgesaai en in alle dorpe het die kerkklokke begin lui. Dit moes ’n besonder aandoenlike geleentheid gewees het. Hy oorhandig hierna ’n fakkel aan die Voortrekkers wat dit na Kaapstad neem en vreugdevure word terselfdertyd op koppies en mynhope aangesteek.
Hy versoek daarna die ritmeester van die Germiston-poskoets, ds. Grobler, om na Kaapstad te vertrek, met oudstryder T.J. Swart as drywer. Die koets word tot voor die kerk getrek waar dit oorstaan vir die nag om die volgende oggend na Lydenburg te vertrek. Dit was ’n katastrofe – helaas! Die ongeoefende span perde kon die koets slegs omtrent 40 km uit Ohrigstad trek, toe was hulle stokflou. Die insleepvoertuig (Tow Truck) is uit Lydenburg ontbied, en die poskoets aan die insleeptrok vasgemaak, maar ná vier kilometer het die trok oorverhit en gaan staan. ’n Span muile van die Lydenburg munisipaliteit (wat na oorlewering gewoonlik die nagkar getrek het) het toe die koets kom trek! So kom die volksplanting agter die nagkarmuile in Lydenburg aan.


Aankoms in Middelburg
Die komitee vir Middelburg was onder voorsitterskap van dr N.T. Blignaut, hoof van die Hoërskool. Ondermeer dien mev. Lena Joubert, eggenote van dr Pierre Joubert, mev. P.P. van Blerk, eggenote van P.P. van Blerk (latere burgemeester), ds. Willie Barnard, Gertjie Wassenaar, Daan Bosman en Mike van Niekerk op die komitee – almal bekende name in kultuurkringe van die tyd.
Die kerkklokke van Middelburg sou ook gelui het op 5 Januarie 1952 om 21:00 wat besonder moes gewees het en gewoonlik is vreugdevure op die koppie aan die westekant van die dorp aangesteek. Ongelukkig is geen inligting bekend nie.
Hierdie Germiston-koets bereik Middelburg op Saterdag 12 Januarie 1952 om 15:00 vanaf Wonderfontein. By Arnot word die koets oorgeneem en deur ’n span perde van Daan Bosman getrek en deur ’n perdekommando met Piet Minnaar as kommandant begelei. Die koets, ’n optog met historiese sierwaens van die skole en ’n optog van motors van die afgelope 50 jaar van De Kock se Garage, beweeg vanaf die huidige Cowan Ntulistraat deur (die huidige) OR Tambostraat na die Burgermonument voor die Witkerk.


Die verrigtinge vind plaas op, die ten tye Rooth Plein, voor die Witkerk. Drie sarsies saluutskote word gevuur onder leiding van kmdt A. van der Merwe.
Die koetsspore en perdehoewe is in klam beton, wat voorberei was deur die Hoër Tegniese Skool, vasgelê in ’n blok direk langs die betonblok van die Simboliese Ossewatrek van 1938 se was- en ospootspore, direk suid van die monument.

Die koets vertrek hierna suid in OR Tambostraat na die Skouterrein, met onder meer as passasiers burgermeester Harry Laver (Jr.) en mev. Gladys Laver, ’n aantal bekende dames onder andere tantes Malie Postma, Mossie van Heerden en J.F. Vercuell, almal vroue verbind met Middelburg se geskiedenis; eerwaarde W.J. Bruwer en F.A. Grundling het op die koetsdak gesit. By die hoek van Cowen Ntuli stop die koets en Harry Laver (Jr.), die burgermeester, herdoop Bovenstraat na Jan van Riebeeckstraat (nou Cowen Ntulistraat).


’n Program volg hierna op die Skouterrein, wat ten tye was waar die Burgersentrum tans gebou is. Patriotiese liedere onder andere “En hoor jy die magtige dreuning” en ’n aantal Psalms onder meer “Uit dieptes gans verlore” is gesing. Mike van Niekerk en Dons de Lange is die bekendes wat die samesang gelei het.
Mnr. F.A. Grundling, afgetrede skoolhoof van Laerskool Middelburg het die geskiedenis van Middelburg aan die ritmeester van die poskoets, ds. Grobler, oorhandig. Hierdie boekie is tans nog een van die enigste bronne oor sekere aspekte van Middelburg se geskiedenis.
Die Vroue Reddingsdaadbond, ’n welsynsorganisasie wat gestig is om die armblanke- vraagstuk aan te spreek, het verversings verkoop – ’n tipiese aksie van die tyd om fondse in te samel.
Na die aandverrigtinge trek die seuns van Hoërskool Middelburg die koets terug na die Burgermonument voor die Witkerk en dit word naglank bewaak deur die kadette van die Hoërskool en die Hoër Tegniese Skool.


Die aand vind ’n volkspelevertoning en fakkelloop op die Hoërskoolterrein plaas. Die Sondagmiddag is ’n gesamentlike kerkdiens in die Witkerk gehou.
Op Maandag 14 Januarie 1952 word die poskoets getrek deur ’n span muile van Dan Morkel (wat die afleweringsdiens vir steenkool in die dorp met muilwaens gelewer het). ’n Oggenddiens word eers gehou by die Konsentrasiekamp Gedenksaal (tans op die Hoër Tegniese Skool-terrein) deur ds. W.J.G. Lubbe en daarna vertrek die koets na Witbank. Dit is by Spookspruit aan Witbank oorhandig.
’n Tipiese volksfees uit ’n era met saluutskote, perdekommando’s, volkspele en samesang van patriotiese liedere, ’n era wat vir altyd verby is!
