Iemand word ryk uit hekmotors!
Diewe word tot R2 000 per hekmotor betaal, maar daar is verskeie planne om hierdie lonende bedryf hok te slaan.
Iewers in Middelburg is iemand besig om skatryk te word uit inwoners se hekmotors!
Die Observer weet van ten minste 52 hekmotors wat tussen 1 Januarie en 1 April gesteel is, maar daar kan vele meer wees, want nie almal laat weet die koerant dat hul hekmotors gesteel is nie.
Eers Kanonkop en Dennesig, skuif daarna na ander uitbreidings
In Januarie en Februarie was dit veral Kanonkop en Dennesig wat deurgeloop het, maar met die laaste diefstalle het hekmotors ook in Mineralia en Aerorand begin verdwyn.
Met die diefstal ‘n paar weke gelede by Morgan Lewis in Morkelstraat, het die booswigte omtrent 20 minute spandeer om eers gebukkend die alarm-ogies te ontwyk en daarna versigtig die hekmotor los te skroef.

‘n Lonende bedryf
Johan Oberholzer, operasionele bestuurder by Mid Alarms, sê dit is ’n baie lonende bedryf, aangesien die diewe net agter die nuwe Centurion Smart hekmotors aan is.
Om een van die hekmotors te installeer, beloop tussen R9 000 en R13 000, na gelang van watter tipe geïnstalleer word en watter maatreëls aangewend word om dit stewig te anker in die grond.
Dit beteken dat sou ’n gesteelde hekmotor op die swartmark vir net R4 000 verkwansel word teen 10 ’n week, het die ‘handelaar’ R40 000 in sy sak!
Diewe kry R2 000 per hekmotor
Johan meld verder dat hulle inligting gekry het dat die diewe R2 000 per hekmotor betaal word, wat ‘n winsgewende bedryf is vir beide die dief en die sindikaat wat aan die hoof van die bedryf staan.
Planne om dit moeiliker te maak vir diewe
Stanley Hunter (Hunter Steelworx) sê hy moet gereeld vir mense hekmotors vervang, wie slagoffers was van hekmotordiefstalle.
Hy bou die hekmotor toe met staal om dit vir die diewe moeiliker te maak. “As ek later dalk aan daardie hekmotor moet werk, sal ek self met ’n kantsnyer die staal moet afsny. ’n Dief gaan egter ook sukkel, want die huiseienaar sal wakker word as ’n dief dit met ’n battery-aangedrewe kantsnyer probeer oopsny.”
Baie inwoners het die afgelope tyd gesê dat alhoewel hierdie tipe hekmotors almal alarms in het, die diewe daarvan bewus is en presies weet hoe om die hekmotor uit te haal sonder dat die alarm afgaan.
Stanley sê om dit net nóg moeiliker te maak vir die diewe, vra mense ook vir ’n ekstra alarm op die hekmotor, dat wanneer daar gepeuter word deur dit byvoorbeeld te skud of op te lig, dit dadelik afgaan.
Johan sê nóg ’n idee om hekmotors te beveilig, is om alarm-ogies op te sit, asook kameras wat gemoniteer word deur ’n sekuriteitsfirma.
Johan en Stanley is van mening dat mense hul adresse op die hekmotor en die motortjie self moet graveer. Sou dit dan dalk later teruggekry word, kan hulle met die graveerwerk dit uitken.
Arthur Hill (Dagpatrollie) sê hy het ook ‘n oplossing met ‘n miniatuur opsporingstelsel wat hulle in die hekmotor installeer. Sou die hekmotor gesteel word, kan ‘n mens dit volg.
Vastrek nie maklik nie, maar nie onmoontlik nie
Johan sê dat dit nie maklik is om hekmotordiewe vas te trek nie, omdat ’n mens hulle omtrent op heterdaad moet betrap.
“Om die hekmotordiewe te vang, gaan nie maklik wees nie, maar dit is nie onmoontlik nie!” sê Johan positief. “As hulle net voor jou erf staan, mag ons niks aan hulle doen nie.”
Hy glo dat as al die sekuriteits- en straatgroepe, polisie, asook ander rolspelers gereeld patrollies doen, die hekmotordiewe een van die dae hul rieme gaan styfloop.
Johan het genoem dat hulle verlede week ‘n verdagte vasgetrek het in die veld met inbreektoerusting, wat waarskynlik ook gebruik word om hekmotors te steel. Omdat die persoon nog nie iets gesteel het nie en ook nie in ‘n erf was nie, is daar bykans geen klagtes wat teen hom in die hof kan staan nie.
Die verdagte het ‘n bobbejaanspanner, sysnyer (side cutter) en Okapi mes by hom gehad.

Minder hekmotors gesteel
• Die afgelope sowat drie weke was dit heelwat stiller op die noodgroepe rakende klagtes oor hekmotors wat gesteel word. Die vermoede bestaan dat die patrollies wat noodgroepe en sekuriteitsfirmas in al die uitbreidings doen, ‘n daadwerklike invloed daarop het.
• Die Observer is besig om ’n databasis saam te stel van hekmotors wat in die dorp gesteel word. As ons nog nie van jou weet nie, stuur jou naam en van, adres, wanneer die hekmotor gesteel is en watter tipe hekmotor dit is, na 072 248 3855.
