News

Lewe, liefde en perfekte Lewies

’n Middelburg-ma se eerlike en emosionele boodskap oor die werklikheid van ouerskap en outisme raak harte.

Ter viering van Wêreld-Outismebewustheid, het Anri Groenewald, wat ook ’n bekende fotograaf in Middelburg is, ’n spesiale portret-projek aangebied om aanvaarding en bewusheid van outisme te bevorder.

Haar seun, Louis – beter bekend as “Lewies”, is met vlak 3-outisme gediagnoseer.

“Ons kan nie ons kinders verander nie, maar ons kan probeer, om die wêreld se siening van hulle te verander,” sê dié mamma.

Louis Groenewald (Lewies). Foto: Verskaf.

Volgens statistiek is ongeveer een uit elke 36 kinders op die outisme-spektrum, waarvan baie intensiewe en lewenslange ondersteuning benodig.

Sy sê ouers van kinders met outisme leef dikwels met ’n voortdurende bekommernis oor hul kinders se toekoms. “Ons lê nagte wakker en wonder wat eendag van ons kinders gaan word wanneer ons nie meer hier is nie.”

“Wie gaan na hulle omsien?”

“Gaan iemand hom kan liefhê soos ek, hom verstaan en die geduld hê wat nodig is?”

Juis, omdat daar nie ’n afskakelknoppie of pouse vir outisme is nie. “Dit verg aandag, tyd en opofferings – nie net van ons, as ouers nie, maar ook van sy sussies,” vertel sy.

Nicole, Edward en boeties, Caleb en Edward Jr. van der Westhuizen. Foto: Anri Groenewald.

Sy verduidelik dat hierdie werklikheid ’n impak op die hele gesin het. Sy en haar man maak hul dogters groot met die wete dat een van hulle moontlik eendag na hul broer sal moet omsien.

Dit is ’n groot verantwoordelikheid om op ’n kind se skouers te plaas, want, “hulle sien hoe die wêreld soms, wreed teenoor Lewies optree, terwyl hulle eintlik net kinders moet wees.”

Lente, Lewies en Milane Groenewald. Foto: Anri Groenewald.

Lewies se sussies, Milané en Lente, is reeds ’n stem vir hom, in tye wanneer hy nie kan praat nie. Dié twee moes leer wag, leer deel en leer verstaan – lank voor ander kinders.

“Tog, kies hulle elke dag steeds hul boetie. Nie omdat dit maklik is nie, maar omdat dit onvoorwaardelike liefde is.”

Lente en Milane Groenewald. Foto: Anri Groenewald.

Hoewel die uitdagings soms so groot soos berge voel, word dit oorskadu deur die krag van familie en ondersteuning.

“In hierdie huis, tussen die ‘chaos’ en die moeilike dae, is daar ook sagte drukkies, lagsessies en ’n lojaliteit wat nie opgee nie,” sê sy.

Louis en Anri Groenewald. Foto: Verskaf

Sy het onlangs foto’s van die projek gedeel en haar dank teenoor die gemeenskap wat deelgeneem het, uitgespreek. “Dankie uit my hele hart, aan elkeen wat tyd gemaak het om deel te wees, om te praat, te luister en ander te help om outisme te verstaan,” sê sy.

Hierdie projek was nooit net oor foto’s nie, dit gaan oor kinders, nes Lewies, se stories, ouers se waarheid, om deur gemeenskap gesien en verstaan te word.

Luan Stevenson, Martin Stevenson, Mari-Elize Stevenson, Elize-Mari Stevenson. Foto: Anri Groenewald.

Die mamma se hoop bly, om saam ’n wêreld te bou met méér begrip, méér aanvaarding en méér liefde vir elke kind en gesin wat die pad met outisme stap.

“Lewies is nie ‘anders’ nie – hy is net homself, en hy is perfek!”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Carmia Jansen van Vuuren

Carmia is an up-and-coming junior journalist at the Middelburg Observer. She has a burning passion for creative writing and poetry. She is a qualified language educator but fiercely enjoys the challenges that writing and reporting offer. Her focus spreads over different fields, including human interest, hard news, investigative reporting, and sports.
Back to top button