‘Sukkel, sukkel, stroop’ in Middelburg se mielielande
Laat reën, hoë dieselpryse, mieliediefstal en ’n tekort aan kunsmis plaas druk op die landboubedryf in en om Middelburg.
Boere in Middelburg en die omliggende omgewing staar vanjaar ’n uitmergelende stroopseisoen in die gesig. Dit volg na onlangse laat reëns, hoë dieselpryse, mieliediefstal en stygende insetkoste wat swaar druk op plaaslike produsente plaas.
Boere moes reeds in Maart bontstaan om genoeg brandstof vir die strooptyd te herberg, nadat die skokkende dieselpryse heelwat hoër as verlede jaar se begrotings uitgedraai het.
Nou hou dié versadigde lande talle boere terug.
In die begin van Mei is sowat 140 mm reën in een aand op ’n plaas buite Middelburg gemeet, wat lande deurnat gelaat het. Hoewel toestande nié so ekstreem soos die historiese nattigheid van die vorige seisoen is nie, bemoeilik die vogtige grond tans veral die stroop van sojabone.
Intussen moet sommige produsente hulpeloos toekyk hoe die bone op die land begin oopspring omdat die grond te nat is om met die swaar stropers in te gaan.
Klimaatsverandering?
Sojaboonprodusente plant gewoonlik verskillende kultivars met uiteenlopende groeitye om die strooptydperk te versprei. Die aanhoudende nat toestande veroorsaak egter dat groot dele van die oes nou gelyktydig gereed is vir die stropers.
Volgens Gerrie Gerrits, ’n plaaslike boer, het hy in al sy jare op die land nog nooit sulke uitdagende toestande beleef nie.
“Ons stroop, ons sit vas, ons trek uit, en dan begin ons weer van voor af,” vertel hy. “Dit moet seker maar klimaatsverandering wees.”
Gerrits waarsku ook dat die huidige nat La Niña-siklus later vanjaar na El Niño-toestande kan omswaai, wat ’n skerp kontras vir die volgende seisoen kan bring weens die groot moontlikheid van baie droër weersomstandighede.
Benewens die nat lande en hoë brandstofkoste, sê Gerrits dat huidige wêreldwye kunsmistekorte reeds vrese aanwakker en geweldige finansiële druk op die beplanning vir die nuwe seisoen se insette plaas. Volgens hom tref internasionale konflikte en die gevolglike ontwrigting van invoerkanale die Suid-Afrikaanse landbousektor swaar.
Ten spyte van die uitdagings bly hy positief: “Ons klou vas aan ons geloof en hoop.”
Patrollies teen mieliediefstal
Plaaslike produsent Hannes de Beer (jr) van JM de Beer Boerdery, sê hul lande lyk steeds goed ondanks die nattigheid. Hoewel georganiseerde mieliediefstal ’n voortslepende probleem in landbougemeenskappe is, sê hy dat sake die afgelope tyd darem ietwat rustiger op dié front gelyk het.
“Op my plaas ontplooi ons elke nag verskeie spanne om die lande dop te hou,” sê hy.
Sy pa, Hannes de Beer (sr), het vroeër ook sy frustrasie met mieliediefstal uitgespreek: “Ons plant nie om diewe se sakke vol te stop nie. Elke sak mielies wat gesteel word, beteken harde werk en geld wat verlore gaan.”

Gunstige graanpryse
Attie van den Berg van Blinkwater Meule bevestig dat die plaaslike landboubedryf deur wêreldwye makro-ekonomiese uitdagings geraak word, hoewel die graanpryse tans ’n welkome hupstoot kry.
“Die mielieprys het onlangs met byna R200 per ton gestyg,” sê hy.
Volgens van den Berg het internasionale konflikte ’n direkte invloed op Suid-Afrika se landbou-ekonomie en die prys van insette. Hy meld dat boere reeds begin het om proeflopies met stropers te doen waar lande dit enigsins toelaat.
“Soya is tans die prioriteit. Daarna begin die mieliestropery volstoom.”
Hy meen ook dat die algehele oesskattings moontlik nog opwaarts aangepas kan word namate meer lande uiteindelik gestroop word. In dele van die Middelburg-distrik is daar reeds byna 900 mm reën vir die omvattende seisoen aangeteken.
“’n Boer maak altyd ’n plan. Selfs al is dit sukkel-sukkel, sal die oes van die lande af kom,” sluit van den Berg hoopvol af.
