NewsPrimary SchoolSport

Dorp gaan armer wees sonder Renier

Trane loop toe spannetjie hoor afrigter verhuis

Middelburg gaan armer wees sonder Renier Harmse (41).
Die trane het reeds geloop nadat jong rugbyspelertjies gehoor het hulle afrigter verhuis na Umhlanga.
Renier is die afrigter en mentor van talle jong atlete en rugbyspelers op die dorp.

Junior Springbok-kleure

Hy is ’n Middelburger in murg en been.
’n Laerskool Kanonkop onderhoofseun wat aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe deelgeneem het in gewigstoot, eerste span rugby en krieket gespeel het en boonop onderhoofleier van die Jakaranda Landsdiensspan was, wat aan die nasionale kamp deelgeneem het. Hy het Junior Springbok-kleure vir landsdiens verwerf en ook in die senior koor gesing.

In Hoërskool Kanonkop het hy weer aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe in gewigstoot deelgeneem en tweede in die land geëindig.
Vanaf graad 10 speel hy vir die eerste rugbyspan en verteenwoordig Mpumalanga van graad nege tot graad 12. In matriek was hy kaptein van die eerste rugbyspan, het Cravenweek gespeel en was onderhoofseun vir sport.

’n Inspirasie

Vandag is hy ’n inspirasie vir oud en jonk.
Oor die afgelope vyf jaar het hy 96 kilogram afgeskud, reeds drie half-Ysterman en een volle Ysterman byeenkomste voltooi.

In 2009 het hy by Hoërskool Middelburg begin werk en ook met afrigting gehelp.
Hy rig tans gewigstoot en diskus af vir leerders van verskeie skole op die dorp. Rig ook stoei af, is afrigter van Laerskool Middelburg se o/11A-rugbyspan en van die Middelburg Junior Rugbyklub se o/9-span.

Carli van Niekerk is een van die Suid-Afrikaanse kampkoenskappe deelnemers wat deur Renier Harmse afgerig is. FOTO: Laerskool Kanonkop.

Met gewigstoot en diskus het hy verskeie atlete help ontwikkel wat op SA-vlak presteer het, waaronder Carli van Niekerk van Laerskool Kanonkop.
Haar pa, Christo, wat self op die hoogste vlak rugby gespeel het, het net lof vir sy dogter se afrigter.
“Jaarliks het ek ongeveer nege kinders na die Suid-Afrikaanse kampioenskappe geneem, waarvan sommige as die beste in die land geëindig het.”

“Gaan haal dit”

Sy sportleuse en lewensleuse is eintlik dieselfde: “Jy moet hard werk vir wat jy in die lewe wil hê. Niks wat die moeite werd is, kom maklik nie. Gaan haal dit.”
En vanwaar sy sukses? “Ek was geseën met uitstekende mentors. My ouers staan eerste – albei is ongelukkig nie meer met ons nie. In afrigting het Oom Willie Oosthuizen en Piet Bothma ’n groot rol in my lewe gespeel en my baie geleer.”

Grootste hoogtepunt

Hy verhuis na Umhlanga waar hy as besigheidsontwikkelingsbestuurder vir Dhar Agro gaan werk.
“Daar was soveel sporthoogtepunte in my lewe, dat dit moeilik is om net een uit te sonder. As ek egter na my lewe in geheel kyk, is my grootste hoogtepunt nie ’n wedstryd, medalje of prestasie nie, maar my vrou en my kinders. Maak nie saak wat in my lewe gebeur het of hoe besig ek was nie, hulle het my altyd ondersteun en bygestaan. Hulle was daar in die goeie tye en die moeilike tye, en sonder hulle sou baie van my prestasies nooit moontlik gewees het nie. Hulle is sonder twyfel my grootste trots en my uiteindelike hoogtepunt in die lewe.”

Wat gaan hy die meeste van Middelburg mis?

“Ons vriende, die gemeenskap en veral die kinders wat ek die voorreg gehad het om af te rig. Hulle het hierdie besluit om te verhuis ongelooflik moeilik gemaak, en ek gaan hulle opreg mis.

“Uit my hart wil ek dankie sê aan elke persoon wat op een of ander manier ’n pad saam met my in Middelburg gestap het. Dit was ’n ongelooflike voorreg en ’n wonderlike tyd in my lewe. Weet dat ek elkeen van julle saam met my sal dra vir die res van my lewe.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button