Hof vries rekeninge na R21.5m Absa kuberslenter
Miljoene tydens oproep met wolf in skaapklere gesteel.
‘n Plaaslike besigheid, Jormid Electrical is uit R21.5 miljoen geswendel met die eienaars wat laat glo is dat die Absa teenbedrog eenheid hulle wou help om ‘n string verdagte transaksies op hulle besigheidsrekening wou stop en omkeer. Hulle het nie.
Die bedrieërs was al die tyd skelms wat hulle as ondersoekers van die bank se teenbedrog eenheid voorgedoen het.
Op 21 Mei die jaar was Jormid se finansiële bestuurder ongeveer vier ure lank op die foon, met wat gedink is, ‘n bedrogondersoeker van Absa is.
Dit het egter gou aan die lig gekom dat daar intussen R21.5 miljoen ui die besigheidsrekening verwyder is.
Daar is vinnig vasgestel dat R21.5 miljoen in verskeie bankrekeninge deur ‘n rekening van Lavender Lane versprei is.
Nege bankrekeninge is geïdentifiseer en die rekeninge is almal gevries. Agt maatskappye is later aan die rekeninge gekoppel.
Die bankrekeninge is: LNH Investment World, ZA Trading, Basanta Trading, Azuri Distribution, Vistratech Investments, Tony Traders, Excelede Group, Alinlam Trading en Lavender Lane Guest House.
Tydens die vier uur lange oproep met die skelm, is skakels gestuur om op te kliek om glo die transaksies te blok. Dit het nie.
Die transaksies is met elke kliek goedgekeur.
Die slenter loop al jare, en aanvanklik is bankrekeninge van Jan Alleman geteiken, maar besighede is nou in die visier.
Die probleem is die oproepe is so oortuigend omdat die bank uit die bloute skakel en voorgee dat hulle jou as kliënt wil beskerm. Die transaksies vind ook nie eenmalig plaas nie, dit is gewoonlik in sarsies van verskillende bedrae terwyl die bedrieërs op die foon met die rekeninghouer is.
Die name agter die maatskappye wat ook beteken is word tans weerhou.
Jormid het nie op oproepe of boodskappe gereargeer nie.
