News

Dit is al…ja, dit is al…

Hulle wil praat - maar niemand wil luister nie

Dis al deur Jan F.E. Celliers
Dis die blond,
dis die blou:
dis die veld,
dis die lug;
en ’n voël draai bowe in eensame vlug –
dis al
Dis ’n balling gekom
oor die oseaan,
dis ’n graf in die gras,
dis ’n vallende traan –dis al…

Ja, dit is al.
Dit is al…
Na ’n week waar soldate hulle harte oopgemaak het oor die grensoorlog, kan jy ’n paralell trek met Celliers se gedig.
Celliers het hierdie kort maar kragtige gedig geskryf as kommentaar op die Anglo-Boereoorlog.

Gebuite ammunisie, voertuie en wapens by Xangogo. Bruikbare toerusting is vir Unita gegee en die res is vernietig. FOTO: Verskaf.

Dit beeld die weemoed uit van ’n terugkerende Boer wat die bekende landskap aanskou – die herkenbare toneel (“dis die blond, dis die blou…”) teenoor die persoonlike verlies (“dis ‘n graf in die gras, dis ’n vallende traan”).

Celliers was ’n bittereinder op kommando onder generaal De la Rey en het later in ballingskap in Switserland naby Paul Kruger in Clarens gewoon.
Later het hy Kruger in ’n gedig vereer as ’n onwrikbare figuur.

Attie Roeloffze as sekretaris van die geneesheer generaal. FOTO: Verskaf.

“Dis al” se strofe een (Die omgewing): Dit skets ’n somber prentjie van die veld (blond) en die lug (blou) met ’n enkele voël wat eensaam in die lug draai. Dit beklemtoon die stilte en leegheid.

Strofe twee (Die menslike verlies): Dit handel oor die terugkerende soldaat se persoonlike hartseer, die graf in die gras (van geliefdes), en enkele trane wat val.
So het skutter Floris Cornelius Smit se graf in die gras vergete gelê.
Vergete vanaf 24 Augustus 1981.

Nog gebuite ammunisie, voertuie en wapens by Xangogo in Angola. FOTO: Verskaf.

In die ou begraafplaas in Gholfsig se heldeakker.
Dis ’n graf in die gras,
dis ’n vallende traan –dis al…


Nog ’n ongeval van ’n oorlog waaroor min mense vandag wil praat.
Familielede weier om na te luister.
Politici stry wie was die oorwinnaars.

Die plakkaat was in die hoof Russiese raadgewer/bevelvoerder se kantoor. FOTO: Verskaf.

Boeke geskryf wat Suid-Afrikaanse soldate uitbeeld as die muishonde en ander as helde.
Boeke soos “An unpopular war – from afkak tot bosbefok”.
Daarin vertel Jeremy Mansfiled sy belewenis van die “army”.
Het hom na die eerste hoofstuk opgeskeur en in die vullisdrom gegooi, waar hy hoort.

Dan is daar Tenk van Pieter Stoffberg.
Het hom begin lees, deur die nag, tot hy klaar was.
Toe ware grensoorlog helde die week begin praat, was dit soos die Vaaldam se sluise wat oopgemaak is.
Daar is nog ’n reuse behoefte van hierdie ware grensoorlog helde om hulle storie te vertel.
Soos Attie Roeloffze wat in sy ou albums gaan delf het.

Vele oud soldate het ook iewers ’n fisiese herinnering.
’n Balsak in die garage.
’n Ou rantsoenpak.
’n Boshoed.
’n Webbing.
Iets wat van Angola af kom.
Maar veral ’n hart vol onthou.
Maar niemand wil luister nie.
Die helde het muishonde geword.
Die “terroriste” vryheidsvegters.
Dit was die grensoorlog…
Dis al…

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Check Also
Close
Back to top button