Die Week In Middelburg Erfenis – 6 Julie 2026
Luitenant Rainy Anderson – Soldaat met twee grafte!
Een van die mees indrukwekkende oorlogsgrafte in die Middelburg-Wes (Ou Begraafplaas) is die van lt. Rainy Anderson, maar ook ’n graf met ’n interessante stertjie!
Vir vele besoekers het die praalgraf, met sy besondere regalia, laat wonder of ’n belangrike generaal uit die Anglo-Boereoorlog daar begrawe lê. Wie was Rainy Anderson, wat Woensdag presies 125 jaar gelede hier oorlede is?
Biografiese data
Rainy Anderson, gebore 3 September 1873, was die enigste seun van dr James Rainy Anderson ’n staf-chirurg in die Royal Navy en Susannah Anderson (née Bucklee), ten tye gestasioneer in Frankryk. Hy gaan skool aan die Neuenheim College en die Dr Northcott skool in Ealing.
Op sy 16e verjaardag word hy toegelaat tot die Royal Military Academy in Woolwich en ontvang sy kommissie as offisier in die Fortress Company, 26th Company, Royal Engineers in Februarie 1892 en word November 1895 bevorder tot luitenant. Hy word beskryf as lief vir sport en ’n goeie spreker. Hy dien in Chatham, Portsmouth, Ceylon en Plymouth.


Rol in die Anglo-Boereoorlog
Hy vertrek op 27 Oktober 1899 na Suid-Afrika, 20 dae na die Britse Leer opdrag ontvang het om te mobiliseer. Hy dien onder generaal majoor Sir John French en generaal majoor Sir Charles Tucker, in die aanmars na Bloemfontein en daarna Pretoria. In die periode is hy in beheer van elektriese beligting.
Na die val van Pretoria word hy toegedeel tot brigadier Generaal Stuart Brownlow Beatson se kolomme as die waarnemende inligtings-offisier. Beatson was ’n gerespekteerde kavallerie offisier van die Indiese Leër met streng dissipline. Hy is teenwoordig by verskeie operasies in die Hoëveld.
Op 6 Julie 1901 rapporteer die inligtings-offisier (waarskynlik lt. Anderson) dat daar ’n mag van ongeveer 200 man onder bevel van kaptein Jack Hindon ontplooi is by Mooiplaats (191) en die kommando’s van generaal Muller, kommandant Trichard en Veldkornet Vercueil, noord van Middelburg.

Die Britte het inligting rapporteer dat kommandant Stephanus Trichard se laer by Buffelspoort (198), sowat 40 kilometer noord van Middelburg is. Beatson besluit om ’n verrassingsaanval op die laer te doen. Op 7 Julie 1901 begin die kolom met ’n opmars uit Middelburg, kamp die nag by Keerom, en trek die volgende dag verder.
Op 9 Julie 1901 raak die Britte eers slaags met die Hindon verkenners en lt. Anderson se perd word onder hom geskiet in ’n operasie teen die verkenners. In die aanval op die laer, spat die Boere uitmekaar en ontsnap deur ’n kloof na Avontuur (134) en dan na Roodepoort (78). In die voorval word lt. Anderson se optrede beskryf as “he behaved with great gallantry, and owing to his dash a large capture of arms and ammunition was made”.

Drie burgers word krygsgevange geneem, en waens en vee gebuit.
Die Slag van Wilmansrust, as aanloop tot Rainy se verwonding
Op 11 Junie 1901 slaan die 5th Victorian Mounted Rifles, ’n Australiese koloniale eenheid, onder bevel van majoor CJU Morris, kamp op by Wilmansrust, suid-oos van Middelburg. Die nag bekruip generaal Chris Muller met ongeveer 120 burgers van die Middelburg-Kommando, met die plaaseienaar as gids, die kamp. Hulle val die slapende kamp aan en 15 Australiërs sneuwel, 42 word gewond en majoor Morris moet oorgee voor hy enige weerstand kan organiseer. Die Boere buit twee pom-pom kanonne, 250 perde en wapens en ammunisie. Generaal Muller val terug met die kanonne na Middelburg en trek met sy mag noord in die rigting van die huidige Loskopdam. Beatson laat tree al die oorlewende Australiërs aan en verskree hulle as “fat-arsed, pot-bellied, round-shouldered lot of wasters and white livered curs”. Dit lei tot ’n muitery tussen die troepe en ’n ernstige internasionale insident tussen die Britte en die nuwe Australiese Federale regering.
Verwonding en dood
Die Beatson kolom probeer nou genl. Muller inhaal om die gebuite pom-pom kanonne te probeer terug neem.
Op 10 Julie 1901 is Lt. Anderson as deel van ’n voorhoede kolom betrokke in ’n geveg by Zeekoegat (naby die huidige Loskopdam) en word dodelik gewond. Die skermutseling was met die agterhoede van genl. Muller se mag, wat besig was om noord te onttrek. Die Britse kolom keer terug na hulle kamp by Doornkop en hy sterf op 11 Julie 1901 aan sy wonde. Hy was 27 jaar oud. Genl. Beatson noem dat hy “deeply regretted his loss” en hy word beskryf as “he rendered good service – none more gallant than he”. Hy word “mentioned in dispatches” deur Lord Horatio Kitchener op 23 Junie 1902 in die London Gazette.




Volgens die amptelike verslag is hy begrawe in die Middelburg Wes-begraafplaas.

Met sy dood was sy vader waarskynlik oorlede, aangesien die verslag net meld dat sy moeder in kennis gestel is en word daar later na haar as mev. Darling-Barker verwys. Sy laat rig ’n baie indrukwekkende grafsteen op, op die graf van haar enigste seun. Die graf het ’n marmer blad, rus op ’n graniet blok, met ’n helmet en swaard uit marmer op die blad. Die graf en die twee naasliggende grafte is omring deur ’n gietyster raamwerk. Die piek en wapen van die helmet is ongelukkig geplunder en die swaard se handvatsel gesteel, as ook die reliëf van lt. Anderson wat in die los plaak gemonteer was.


Daar word ook ’n gedenksteen vir hom aangebring in die kelder (crypt) van St. Pauls Katedraal in London op 6 Januarie 1902.




Tweede Graf
Dan kom die eienaardige stert! Bo-op die berge op die plaas De Voetpadkloof by Kranspoort is ook ’n graf vir lt R. Anderson van die Royal Engineers wat op 11 Julie 1901 oorlede is aan wonde wat hy by Zeekoeigat opgedoen het. Hy was 27 jaar oud! Plaaslike inwoners vertel dat daar ’n vrou van oorsee elke ongeveer vyf jaar gekom het, die graf skoongemaak het en blomme op hierdie graf geplaas het! Alhoewel rekords aandui dat hy op Zeekoegat gewond is, is die twee plase aangrensend en dit is moontlik dat die skermutseling op Voetpadkloof plaasgevind het.

Interessant dat die twee grafte aan weerskante van lt. Anderson in die Ou Begraafplaas, Sgt Tpr T Burnett wat op 12 Julie 1901 en Pvt H Childs wat op 14 Julie 1901 in Middelburg oorlede is, beide in presies dieselfde periode. Dit sou sin maak dat as lt. Anderson by Doornkop gesterf het op 11 Julie, hy ’n dag of twee later in Middelburg begrawe is omdat die liggaam eers afgevoer moes word. So hierdie graf is dus onwaarskynlik ’n herbegrafnis vanaf De Voetpadkloof as gevolg van die datums.
Is die indrukwekkende grafsteen in die Middelburg-Wes begraafplaas die werklike graf en die steen op De Voetpadkloof bloot ’n grafmonument vir lt. Anderson op die plek waar hy verwond is, of is hy dalk werklik op De Voetpadskloof begrawe?
Hoekom twee grafte vir dieselfde persoon? Niemand weet nie!
’n Jong man met ’n blink toekoms, enigste kind, sterf 125 jaar gelede in ’n Imperiale konflik!
Bibliografie beskikbaar vanaf die Outeur