Die Week in Middelburg se Geskiedenis 13 Julie 2026
Middelburg in die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881)
Middelburg se rol in die Eerste Vryheidsoorlog is ’n onbekende stuk van ons erfenis met interessante karakters en gebeure.
Middelburg teen 1880
In 1860 is Lydenburg (Mashishing) ’n aparte Republiek! Die dorp is die belangrikste nedersetting in die oostelike deel van die land en sou ’n belangrike rol speel in die Eerste Vryheidsoorlog.
Die Volksraad van hierdie Republiek van Lydenburg neem op 25 Oktober 1859 ’n besluit om ’n nuwe dorp te stig en dit Middelburg te noem. In 1860 hou die Republiek Lydenburg op bestaan en smelt dit saam om die Zuid-Afrikaanse Republiek te vorm, met Pretoria as hoofstad. Niks kom van hierdie dorpstigting nie.
Op 28 Januarie 1864 koop die Nederduits Gereformeerde Kerk Lydenburg die plaas Sterkfontein vir die stig van ‘n kerkdorp, dit wil sê ‘n sentrum vir die kerk en bestuur deur die kerk, met die naam Nazareth. Dinge ontwikkel maar baie stadig. Op 13 Mei 1867 besoek Direkteur Wangemann van die Berlynse Sendinggenootskap Nazareth/Middelburg en noem dat daar slegs ’n hut was en die huis van Theodore Rooth, wat as agent vir die verkoop van erwe opgetree het.
Eers op 30 Oktober 1871, vyf jaar later, word ’n besluit deur die Volksraad, nou van die Zuid-Afrikaanse Republiek, aanvaar om Nazareth as ’n distrik goed te keur en op 24 Februarie 1872 proklameer die staatspresident Thomas Francois Burgers, Nazareth as distrik. Op 24 Augustus 1872 word AB Joubert as die eerste landdros van Nazareth aangestel tot hy op 2 Januarie 1874 uit diens tree. Hy word opgevolg deur JJ Meintjies as landdros en OC Weeber wat waarneem in 1876.
Die enigste staatsgeboue in Middelburg was nou die kruithuis wat in 1875 voltooi is. Die landdroskantoor was gesetel in ’n huis wat van Matthian Coetzee gehuur is. Hierdie huis sou ewe eens ’n belangrike rol speel in die Eerste Vryheidsoorlog.

Oorlog teen Sekhukhuni, gee valse hoop vir die Britte
Konflik ontwikkel tussen die Bapedi Hoofman Sekhukhuni en die Zuid-Afrikaanse Republiek, onder president TF Burgers. Op 16 Mei 1876 word oorlog verklaar teen Sekhukhuni en word die Middelburg Kommando gemobiliseer. Die impi van Sekhukhune was egter baie goed bewapen as gevolg van wapensmokkelary deur Delagoabaai en ook deur die goudvelde, en dat werkers op die Diamantvelde deur Sir Henry Barkly vergoed is met gewere vir hul arbeid.
Middelburg speel ’n sentrale rol in die voorbereiding tot die oorlog. Veldkornet Van Reede van Oudtshoorn van Middelburg Kommando het aanvanklik maklik 100 burgers byeen gekry en veldkornette Kruger en Ferreira het ook nie probleme met opkommandering in hul wyke van burgers vir die oorlog nie. Die burgers is egter nie geneë om die berge van Sekhukhuniland binne te trek nie. ’n Vrywilligerkorps van Middelburg onder Ignatius Philip Ferreira word nou in Middelburg gevorm vir hierdie kampanje. Die Korps kom op 10 Oktober 1876 in Middelburg byeen en bestaan uit 42 wit en 51 swart lede. Die Korps vertrek na Fort Weeber (vernoem na Orman Carel Weeber, waarnemende landdros van Middelburg) naby Burgersfort en speel ’n sentrale rol in die oorlog. In 1877 word ’n wankelrige vrede gesluit sonder ’n oorwinning.
Hierdie onvermoë van die burgers om ’n klinkklare oorwinning te behaal, laat by die Britte ’n vals indruk van beperkte Boere vermoë en ’n onwilligheid tot offensiewe optrede, wat lei tot vals gerustheid in die opbou tot die Eerste Vryheidsoorlog.
Britse Anneksasie
Op 12 April 1877 annekseer sir Theophilus Shepstone die Zuid-Afrikaanse Republiek as die Transvaal namens die Britse Kroon. Die anneksasie is met gemengde reaksie begroet. President TF Burgers teken wel protes aan, maar verder word die anneksasie redelik gedweë aanvaar. Die Britse mag bereik Pretoria sonder weerstand en word geesdriftig deur die inwoners van die dorp verwelkom. Dit gee vir Shepstone ’n vals gerustheid dat die Transvaalse bevolking die anneksasie in stille berusting aanvaar.
Na ’n bespreking word besluit om wel ’n deputasie bestaande uit SJP (Paul) Kruger en dr EJP Jorrison na Brittanje te stuur om beswaar aan te teken, met die hoop om die Britse Minister van Kolonies, lord Carnarvon te oortuig om die anneksasie te herroep. Kruger en Jorrison voer vanaf 5 Julie 1877 vyf onderhoude met lord Carnarvon. Hulle kon hom nie oorreed om ’n volkstemming te hou nie en ook nie dat hul namens die meerderheid van die Transvaalse bevolking praat nie. Na afloop van die laaste vergadering skryf Carnarvon egter aan Shepstone dat Kruger en Jorrison onherroepbaar met die Britse anneksasie tevrede is. Dit versterk Shepstone se gerustheid.
Shepstone stel in 1877 John Scoble aan as magistraat vir Middelburg. Hy was skynbaar ’n Middelburger want na die Britse Besetting tree hy op as onderwyser vir die Anglikaanse kerkskool. Shepstone besoek in Augustus 1877 self Middelburg en besoek die skool in die sink-en-hout kerkie van die Nederduits Hervormde Kerk in OR Tambostraat. Met alle verrigtinge wat in Engels plaasgevind het! Die klomp Afrikaans/Hollandse kindertjies, met hul Hollandse onderwyser moes met sy vertrek God Save the Queen vir hom sing – toesprake en sang waarvan hulle waarskynlik bloedweinig van verstaan het.
Op 7 Januarie 1878 is die Eerste Deputasie terug in Pretoria en gee terugvoer aan ongeveer 1500 Boere oor die werksaamhede. Hulle het berig dat Carnarvon skynbaar werklik geglo het dat net ’n minderheid Boere teen die Britse bestuur gekant is. Kruger stel voor dat hulle by wyse van versoekskrifte aan Carnarvon moes toon dat hy onder ’n wanindruk verkeer.
’n Kommissie van 15 man is uit die teenwoordige Boere verkies om die deputasie by te staan om oor verdere optrede te besin. JH Jacobs is die Middelburg leier van hierdie Versetbeweging. In Februarie en Maart 1878 besoek die Kommissielede Middelburg. Alle burgers was egter nie bereid om die petisie te onderteken nie. Eerwaarde Alexander Merensky van Botshabelo skryf “that many are now signing memorials against British rule because they are cowed by others”. Daar is 125 afskrifte van die versoekskrif deur die Transvaal gesirkuleer en 6591 burgers onderteken dit. ’n Tweede Deputasie bestaande uit PJ (Piet) Joubert en Paul Kruger met WE (Willem) Bok as sekretaris, word aangewys om die versoekskrif aan Carnarvon te gaan voorlê. Carnarvon is egter intussen deur Sir Michael Hicks Beach as Minister vir Kolonies vervang, en dié het skynbaar aanvanklik nie Carnarvon se sentimente gedeel nie. Niks kom egter uit die onderhandelinge nie. Interessant is dat sir Bartle Frere, Britse Hoë Kommissaris vir Suider Afrika Hicks gewaarsku het dat gewapende opstand moontlik is.
Die verset is nou geleidelik aan die opbou in Middelburg. Van alle amptenare is verwag om ’n eed van getrouheid aan die Britse Kroon af te lê.
Matthian Coetzee, die geswore waardeerder van die dorp en ’n bouer in die dorp, weier om die eed af te lê, wat ’n aanduiding begin gee van die lydelike verset wat teen die Britte aan die opbou was. Ook die Kerk raak betrokke. Op 5 Oktober 1878 besluit die Kerkraad van die Nederduits Gereformeerde Kerk dat geen Engelse troepe in die kerk toegelaat sal word nie en dat geen kerkdienste in Engels gehou sal word nie. Dit het gevolg na ds. DF Bosman, die leraar, ’n diens in Engels vir die troepe gehou het – waarop die Britse beampte opmerk “they refuse to love us”!
Toe JH Jacobs, die leier van die verset, voor landdros John Scoble in die hof moes verskyn, daag daar 50 boere by die hof op, wat dreig dat hulle beide die landdros en aanklaer uit die dorp sou sleep as Jacobs skuldig bevind word van aanranding op ’n bediende genaamd Oribi.
Die Boere weier nou om belasting te betaal as teken van verset. Nieteenstande die verbod dat burgers nie ammunisie mag besit nie, slaan hulle toe op die besighede van Engelssprekendes in die dorp, soos White en Co en lê beslag op ammunisie. Scoble is magteloos. Daar word 15 klagtes van roof en plundering by hom ingedien en na ’n verhoor betaal elkeen R10 boete. Verset met ammunisie bou op!

Interessant is dat Eerwaarde Alexander Merensky by Botshabelo hom by die Britte geskaar het en sy volgelinge aangemoedig het om teen die Boere te veg. Dit sou weer gebeur tydens die Anglo-Boereoorlog.
In 1880 word Carl von Brandis aangestel as magistraat. Dit sou sy taak word om Middelburg te verdedig tydens die Eerste Vryheidsoorlog.
Kruger en Joubert se terugkeer na die Transvaal, val saam met die uitbreek van die Anglo-Zoeloe-oorlog op 10 Januarie 1879. Na die Britse nederlaag en slagting by Isandlwana, vrees Shepstone aanvanklik dat die Transvaalse Boere van die Britse verleentheid gebruik sou maak om die anneksasie met wapengeweld omver te werp. Hy verander egter van opinie en skryf ’n paar dae later “these people are much given to talk and brag and their professed intentions may after all not be carried out”.
Shepstone word in Maart 1879 deur sir William Owen Lanyon as Administrateur van die Transvaal opgevolg. Ook hy tas rond in die donker oor moontlike volksverset.
Die volksvergaderings eers by Kleinfontein (Benoni) en dan in Desember 1879 by Wonderfontein (Carletonville) volg, asook die opstand in Potchefstroom oor uitstaande belasting in November 1880. Die Wonderfontein vergadering word deur 404 Boere uit Middelburg onder leiding van Daniel Schutte bygewoon. Die finale Volksvergadering by Paardekraal volg in Desember 1880, die klipstapeling vind plaas en oorlog is op hande.
Gaan die eerste skote klap?
Toe die eerste skote van die Eerste Vryheidsoorlog op 16 Desember 1880 geklap het, was die Britse Militêre owerhede in Pretoria allermins op ’n gewapende stryd voorberei. In Augustus 1880 was daar in die hele kolonie slegs 2911 troepe, dit verminder verder so dat met die uitbreek van die oorlog daar net 1759 beskikbaar is. Deel van die redes vir die afname is die groot getal Britse soldate wat in 1880 gedros het. In die Transvaal Government Gazette van 14 September 1880 verskyn ’n lys van 235 drosters. Dit is ’n tendens wat ook in die 1888-89 Anglo-Zoeloe-oorlog voorgekom het, toe onder meer Jack Hindon gedros het uit die Leër. Verder is troepe na Potchefstroom verskuif na die belasting dispuut, en 300 troepe is na Basoetoland geskuif.
Die berigte van die beplanning vir die Volksvergadering by Paardekraal, laat die Britse Owerhede teen tweede helfte van November 1880 besluit om as voorsorgmaatreël die maksimum troepe in Pretoria saam te trek.
Garnisoen vanaf Lydenburg trek deur Middelburg
Die Britse Garnisoen in Lydenburg (Mashishing) het bestaan uit die hoofkwartier en twee kompanies van die 94th Regiment of Foot, onder bevel van luitenant-kolonel Philip R Anstruther. Lanyon, as Administrateur van die Transvaal, besluit om hierdie garnisoen dringend na Pretoria te ontbied.
Ongelukkig het nog hy, nog sy stafoffisier, rekening gehou dat die enigste kommunikasie die weeklikse poskar na Lydenburg was, wat net op Dinsdae vertrek en dat dit as gevolg van die reënweer ’n hele paar dae sou neem om Lydenburg te bereik. Toe die opdrag uiteindelik op Dinsdag 23 November 1880 uitgereik is, was die poskar reeds weg.
’n Sersant met ’n perd is gestuur om die poskar in te jaag, maar kon dit nie inhaal nie. Hy bereik Middelburg met ’n stokflou perd, Na groot moeite kry hy ’n plaasvervanger perd, en kom hy eers Saterdag 27 November in Lydenburg aan, twee dae na die poskar.
Die boodskap word aan Anstruther oorhandig en hy begin dadelik met voorbereidings. Hy het egter ’n tekort aan waens aangesien hy kort tevore ’n gedeelte van die 94th Regiment na Standerton gestuur het, met al die regering se waens. Hy begin waens by die Boere soek, maar hulle sien wat kom, en is glad nie gretig om hom te help nie. Hulle laai hul tariewe en eis waarborge teen verliese as gevolg van vol riviere. Hulle eis ook volle waarborge vir die waens en osse as Boere beslag lê op die waens. Alhoewel die Leër regulasies slegs 12 waens toelaat, beplan Anstruther ’n reuse konvooi van waens met voorrade, ver meer as wat toegelaat is. Hierdie gesoek na ekstra waens het ’n verdere vertraging tot gevolg – min wetende dat sy besluit om ekstra voorrade saam te neem, die Boere tyd gee om na Paardekraal te organiseer en direk sou bydra tot die rampspoed wat vir hom voorlê by Bronkhorstspruit.

Daar is verdere vertraging. Hy hou tot eers ’n afskeidsbal voor hul vertrek uit Lydenburg.
Sy mag is eers agt dae later, op 5 Desember 1880 gereed om met die opmars na Pretoria te begin. Hy laat luitenant Walter Long agter met ’n deel van die garnisoen om die dorp te beveilig. Lt. Long sou ’n kritiese rol vervul in die beleg van Lydenburg deur die Boere tydens die komende oorlog.
Sy konvooi bestaan nou uit 29 bagasie waens met minstens 464 osse, met 60 swart drywers en touleiers, ’n muilwa met agt muile, ’n waterkar met twee osse en ’n ambulanswa met nog agt muile. Die paaie was nat en die riviere vol. Elke span van 16 osse met ’n wa van twee metrieke ton, het ’n nat pad in ’n modderbad verander. Die lang konvooi van twee kilometer vertraag sy vordering verder terwyl hulle voort ploeter deur ’n moeras.
Die mag sluit verder nege offisiere met die enigste nege perde en 252 onderoffisiere en manskappe wat moes marsjeer van Lydenburg tot in Pretoria – meer as 300 kilometer! Dit sluit ook soldate onder detensie met hul wagte en drie vrouens in. Die konvooi word begelei deur ’n orkes.

Die konvooi vorder teen 15 km per dag en bereik Middelburg op 14 Desember 1880 – 10 dae na hulle Lydenburg verlaat het. Sy konvooi kom die dorp binne vanaf Keerom deur die drif net oos van die huidige Meijerbrug. Dit moes ’n gesig gewees het om die militêre orkes, oor die twee honderd marserende Britse soldate, in hul rooi uniforms en wit helms en ’n konvooi van 32 rytuie en trekdiere, die ou dorpie te sien binne kom. Ten tye van die Eerste Vryheidsoorlog het die Britte nog in rooi uniforms geveg.

Hulle word egter vriendelik ontvang en slaag daarin om rantsoene van die plaaslike besighede te koop en herstelwerk aan die waens te laat doen. Die mag moes in die dorp kamp opgeslaan het. Anstruther kom verskeie Boere teë wat sê dat hulle op pad is na ’n volksvergadering wes van Pretoria – dit wil sê Paardekraal. Dit het hom geensins onrustig gestem nie. Sommige Engelssprekende lojale Boere waarsku hom ook dat hy langs die pad aangeval gaan word – hy maak dit af as alarm makery.
Vroegoggend van 16 Desember verlaat die konvooi Middelburg, ongelukkig vir ’n groot aantal van die soldate op pad na hul dood.
Slag van Bronkhorstspruit
Die konvooi bereik die Olifantsrivier (Lepelle rivier), wat in vloed was. Hy oorweeg om ’n brug of vlot te bou maar dit materialiseer nie. Op 18 Desember het die water genoeg gesak, dat hulle die drif kon aandurf.
Terwyl hy rivier oorsteek, word ’n skrywe van die stafoffisier in Pretoria by hom afgelewer, dat twee groepe gewapende burgers by Paardekraal weggebreek het na ’n onbekende bestemming. Verskeie bronne waarsku hom teen ’n aanval, wat hy afmaak met “die Boere sal vlug by die eerste slaan van die groot drom”. Die swak reputasie van die Boere krygers sedert die Sekhukhuni oorlog het waarskynlik verder tot sy oorversekerheid bygedra.
Hulle bereik Watkins se plaas buite Bronkhorstspruit teen 20 Desember 1880. Die troepe plunder die boord van perskes, en die offisiere ry na die opstal om verskoning te vra en skadevergoeding aan te bied. Daar staan ’n groot aantal opgesaalde perde by die opstal, maar die Britte slaan geen ag daarop nie. Hulle vertrek ongeveer 12 uur vanaf Watkins se plaas.
Anstruther en ’n paar offisiere was aan die voorpunt, gevolg deur die orkes van 30 man wat ongewapen was, ’n kompanie van 70-80 man, ’n kwartier wag van 13 man, die provoos begeleiding met die 23 gevangenes, die waens met ongeveer twee soldate aan elke kant en die agterhoede van 20 man. Die Desember-son was ongenadig warm en die soldate het hul rooi baadjies oopgeknoop en hul gewere op die waens gegooi. Elke man het net 30 patrone gedra in plaas van die voorgeskrewe 70 en dis onseker of die ammunisiekiste opgeskroef was aangesien daar later berig is dat dit my byle oopgekap moes word – die les van Isandlwana.
Die Boere wat Anstruther by Bronkhorstspruit voorgelê het was onder bevel van Frans Joubert, die kommandant van Pretoria en ’n oom van kommandant-generaal Piet Joubert. Hulle vertrek op 18 Desember uit Heidelberg tot vlak buite Pretoria op veldkornet Daniel Erasmus se plaas, waar veldkornet SPE (Fanie) Trichard met sy deel van die Middelburg Kommando aangesluit het. Veggeneraal NJ (Nicolaas) Smit en Erasmus self sluit ook by hulle aan. Die aand van 19 Desember oornag hulle in Bothasnek, ongeveer halfpad tussen Pretoria en Bronkhorstspruit.

Die res van die Middelburg Kommando is ook gemobiliseer onder tydelike kommandant Piet Joubert en het parallel met Anstruther se kolom weswaarts beweeg, maar is nie deur die Britte opgemerk nie.
In totaal is ongeveer 300 Burgers nou byeen. Die Boere leiers besluit om die Britse kolom te stuit. Daar is egter verskil oor waar die mees geskikte plek sou wees.
Die Britte marsjeer voort, vaandels ontbloot, met die orkes wat speel en die troepe wat saamsing, hulle vermoed niks nie. Alhoewel verkenners verwys na perderuiters op die horison, maak Anstruther deur sy verkyker dit af as beeste. Skielik verskyn die Boere in ’n lang linie, Anstruther merk dit eers op toe die orkes skielik ophou speel en hy probeer vasstel hoekom.
Die Boere stuur tolk en rapportryer Paul de Beer onder ’n wit vlag vorentoe met ’n brief, waarin Anstruther versoek word om sy opmars te staak. Hy kry vyf minute om sy besluit te maak, hy besluit egter hy gaan voort marsjeer na Pretoria.
Kort hierna breek die geveg uit. Die Britte probeer uitsprei, terwyl die Boere hurk en akkuraat vuur op die bloedrooi baadjies en wit helms. Die Britse offisiere is ’n teiken en twee luitenante word gewond, een noodlottig. Nog ’n Britse offisier spring van ’n wa en land in die vuurlyn van ’n Britse soldaat en word dodelik gewond. Die Boere doen ook ’n omvleueling operasie en val van alle kante aan. Veral die Britse agterhoede is swaar getref. Hulle vuur op die ammunisie waens wat met rooi vlae gemerk was en om die waens sneuwel verskeie Britte.

Tydens die geveg is die twee vaandels van die 94th Regiment of Foot deur twee onderoffisiere omhoog gehou om die manskappe tot onwrikbaarheid aan te spoor. Anstruther probeer eers sy manskappe aanmoedig, deur met sy gevelde sabel tussen die troepe te jaag en hul aan te moedig. Hy word verskeie kere in sy bene gewond, maar besef gou dat dit vrugteloos is. Hy gee die beuelblaser bevel om die staak vuur te blaas en die witvlag word gehys.
Die totale geveg duur ongeveer 10 minute. Die Boere beskryf dit as ’n afgryslike geveg met kermende sterwendes en dooies, met osse en muile wat bloei. In totaal sterf 77 Britte. In die geveg is een offisier dood en al agt die ander offisiere gewond. Nog twee is dieselfde dag dood en twee ander, onder wie Anstruther binne die volgende drie weke, waarskynlik as gevolg van infeksie in hul wonde. 56 manskappe het gesneuwel en 92 gewond, van wie nog sewe binne volgende drie weke aan hul wonde oorlede is. Dit is ’n absolute slagting!


Aan Boere kant sneuwel een boer – Albert Wilhelm Kieser van Balmoral-omgewing en een – Cornelius Coetzee is dodelik gewond en na ’n naburige plaas afgevoer waar hy oorlede is. Vyf is lig gewond – H Coetzee; CP Minnaar; P Roos; J (of N) van der Merwe en W Neethling. Dit is onbekend of enige van hierdie gewondes van Middelburg Kommando was.

Direk na die witvlag gehys is het kommandant Joubert na vore getree en Anstruther se hand geskud. Hy het hom meegedeel dat hy jammer is dat hy gewond is. Hulle drink saam ’n glasie sjampanje – ’n standaard behandeling ten tye vir gewonde offisiere. Die Boere betoon besondere menslikheid deurdat voorrade van die waens vir die dokter aangedra is en tente vir die gewondes opgeslaan is.
Hulp vir die gewondes het eers die 22e uit Pretoria opgedaag en hulle was ten tye in ’n treurige toestand. Die gesneuweldes is op die slagveld begrawe.



Besetting van Middelburg
Op 19 Desember 1880, na die vertrek van luitenant-kolonel Anstruther se kolom uit Middelburg, besluit die nuwe magistraat CFPJ (Carl) von Brandis om die dorp teen ’n moontlike Boere aanval te verdedig. Hy laat die landdroskantoor (’n huis wat gehuur is waarskynlik in Walter Sisulustraat) aan die binnekant met 100 mielie sakke verskans. Hy stuur ook die hofbode na Botshabelo om te vra vir swart werkers om klipskanse te bou rondom die kantoor wat hy uitgemerk het. Op 21 Desember roep hy al die dorp se inwoners byeen om hul in te lig en 25 besluit om hul lot by die Britte in te werp. Net hierna daag 37 arbeiders van Botshabelo op en almal begin bou aan die skanse. Terwyl hulle besig was bereik die nuus van die Slag van Bronkhorstspruit hulle. Von Brandis, wat ’n offisier in die Oostenrykse Leër en later in die Britse Leër was, besef alle verset sal sinneloos wees en die werk word gestaak.
Namiddag 22 Desember daag twee burgers van kommandant SP Grové, die bevelvoerder van die Middelburg Kommando op en eis die sleutels van die landdroskantoor. Von Brandis oorhandig dit. Die volgende oggend ry kommandant Grové met 150 burgers van die Middelburg Kommando die dorp binne, hys die Vierkleur voor die landdroskantoor en lees ’n proklamasie voor. (Kommandant Grove het op Vlakfontein aan die Wilgerivier geboer). Die Boere lê beslag op 33 gewere, 12 530 agterlaaier patrone en twee waens. Grové konfiskeer ook al die seëls by die posmeester en die £41 in die hofkas. Enkele Brits-gesinde Middelburgers is gearresteer en na Heidelberg gestuur vir aanhouding, aangesien Middelburg nog nie ’n tronk gehad het nie. Heidelberg is na die Volksvergadering by Paardekraal tot tydelike hoofstad van die ZAR verklaar.

Die kommando beset die dorp vir die duur van die oorlog en geen kommunikasie met die buitewêreld is toegelaat nie. Goedere is gekommandeer waarmee die oorlog-poging gefinansier is, maar oor die algemeen is daar goeie verhoudings.
Die Middelburg Kommando is daarna betrokke by verdere gevegte by Utrecht en by Laingsnek. Op 25 Januarie 1881 bewaak die Middelburg Kommando die laer by Utrecht, en 24 Januarie is 50 burgers van die Middelburg Kommando by die Drakensberge. Op 27 Januarie was die Boere gereed vir hul aanval by Laingsnek en het ’n afdeling van die Middelburg Kommando onder kommandant Lodewyk Fourie van Ermelo teen die nek af beweeg vir ’n posisie in ’n diep kloof. Op 15 Februarie 1881 kom nog ongeveer 200 Middelburgers aan by Schuinshoogte. Cachet rapporteer verder dat daar dan teen 21 Februarie ongeveer 300 burgers van Middelburg by Majuba ontplooi was.
Afloop van die stryd
Na die Slag van Majuba is ’n voorlopige vredesooreenkoms is op 23 Maart 1881 onderteken. Op 3 Augustus 1881 word die vrede gesluit.

Die Middelburgers keer terug na die dorp en hul plase. Von Brandis verloor sy pos as landdros en op 9 Augustus 1881 word JC Human as landdros aangestel.
’n Kortstondige oorlog waarin Middelburg ’n sentrale rol gespeel het. Die dorp keer terug na normaliteit onder landdros Human, wat ’n besondere bydrae maak tot die ontwikkeling van plaaslike bestuur in die dorp.
’n Ope vraag is as Anstruther langer gesloer het kon die Slag van Bronkhorstspruit dalk op Middelburg plaasgevind het, want dit was waarheen die Boere kommando vanaf Paardekraal op pad was.
Dit was landdros Human, wat na hy na Krugersdorp verplaas is, die inisiatief geneem het om die Paardekraal Monument op te rig – die simbool van die volksverset en die Eerste Vryheidsoorlog!
Bibliografie beskikbaar van Outeur.