My gewete staan voor die deur en die Scott in die kamer
Eers was dit wilde ding en toe klop, klop, klop, aan die hemeldeur.
“Ek is hier!” Het gewens daardie WhatsApp-boodskap sou nie Saterdagoggend op my selfoon verskyn nie. Gehoop dat Piet van my sou vergeet. Dit is 6:00. Tyd vir laatlê.
Maar nou staan my gewete voor die deur en die Scott is in die kamer. Die Scott wat Jaap Beyers as bemiddeling verskaf het om my by die Alzu 100 myler bergfietswedren te kry. Gaan saam met Piet (Swanepoel) die Alzu 50 myler aandurf.
Die 100 myler is vir manne en vroue met meer murg in hulle pype as verstand. Ons ry die ou Belfastpad.
Fout! Iemand sal ’n bord moet opsit: “Verwyder valstande voor jy die pad ry”.
By die Alzu Petroport staan fietsryers en bewe van die koue. ’n Vrou merk op “my man bewe soos ’n hond wat gif ingekry het”. Warm klere word uitgetrek.
Ons spring weg, die 100 en 50 myl saam. Die eerste bultjie waar my ketting die vorige keer afgegly en Cobus Fourie my genadiglik gehelp het, word dié keer behendig uitgetrap.
Ons draai regs, noordoos, na Arnot Stasie waar ek sebore is, verby die pan waar pa-hulle altyd visgevang het. Nogal nostalgies. Almal is vrolik, gesels.

Skielik begin die Scott dans soos ’n dronk ou by ’n troue. Dis sand, dik sand. Van agter adviseer iemand “hou aan trap!” Ek trap, maar die Scott skiet voor hom in. “Sorry!”
Dan weer noordwes, ek dink. By ’n waterpunt deel Andries Sebona sjokolade en melkies uit. Daarna is dit stttaampp… sppringgg… Alles wat kan skud, skud… My waterbottel skiet doer die pad in… Los hom net daar.
Weer suid, dan wes. Ons ry en ry, in onse ma se maai in. Ons tref ’n slegte paadjie al langs die spoorlyn af.
Net daar verdwaal Kebbie (Johan Stofberg). Hy eindig later by ’n plaashuis waar die honde se geblaf hom weer laat koers kry.
Dit voel of ons amper weer terug is op Middelburg. Oor die ou Belfastpad. Plaaspaaie, mynpaaie. By die volgende waterpunt het Pine (Pienaar) vir my ’n waterbotteltjie gelos. (Dankie).
Die man wat vir my marteling verantwoordelik is, kom ry tot hier langs my. Oor sy musiekstelsel weerklink “Wild Thing”. Skielik is daar nuwe lewe in ’n paar ou bene. Wille ding!
Toe is dit “Pretty Belinda”. En daar gaat hy die verte in. Dis net jy en die Scott. Net voor Corn en Cob is Jaap weer daar. Midnight Oil se “Beds are burning” laat die speke sing.
How can we dance when our earth is turnin’? How do we sleep while our beds are burnin’’ Dit word opgevolg met Gé Korsten se “Seeman” (Agge nee man).
Weet nou waarom sê hulle jy ry net 50 myl. 80 Kilometer is skielik baie ver. Die ergste is jou sitvlak. Dit voel soos die dag toe meneer Lukas van der Merwe ons ses van die beste gegee het, omdat ons hare te lank was.
Eintlik is die seer erger. Daardie dag kon ons nog na die tyd spog met pers-blou hale. Nou is dit ’n pyn diep in jou gebeentes. Jy sit links, jy sit regs, jy staan op uit die saal. Niks help nie, jy moet maar deur die pyndrempel.
Jy dink “Beyers jou b…likskottel”. ’n Moegheid slaat jou soos ’n ou snoek. Waar is die Petroport?
O, hemel!
Guns ’N Roses se “Knock, knock, knockin’on heaven’s door” bereik jou ore. En dis al wat jy hoor…
Knock, knock, knockin’ on heaven’s door…
Knock, knock, knockin’ on heaven’s door…
Was nog nooit so bly om ’n Petroport te sien nie. My hart klop, klop, klop… Die skon skyn helder in die ooste, of was dit die weste? Is dankbaar en tevrede. Genade is die rede…
