Die vraag word dikwels gevra waar was die kanon van Kanonkop en wat se tipe kanon was dit? Dit was nie net ’n kanon nie, maar ’n omvattende fortifikasie op ’n koppie. ’n Unieke nuwe Britse blokhuis-stelsel word ook op Middelburg ontwerp.
Die Britse opmars na Middelburg
Na die val van Pretoria tydens die Anglo-Boereoorlog begin Lord Frederick Roberts met die opmars van die massiewe mag in die rigting van Middelburg. Na die noordekant van die spoorlyn ruk lt. gen. Ian Hamilton op en na die suide van die spoor lt. gen. JPD French van die Kavallerie Divisie van hoofsaaklik Dragoon en die gevreesde Lancers en gen. maj. ETH Hutton van die 1st Mounted Infantry Division met veral Kanadese en Australiese troepe. In die middel is die opmars van die 11e Divisie onder lt. gen. Reginald Pole-Carew CB met sy mag wat al langs die spoorlyn af beweeg het.

Die massiewe 11e Divisie op pad na Middelburg bestaan uit ongeveer 6000 lede (of 6000 bayonets):
- 1st (Guards) Brigade onder bevel van gen. maj. Inigo Jones:
- 3rd Grenadier Guards
- 1st Coldstream Guards
- 2nd Coldstream Guards
- 1st Scots Coldstream Guards
- 18th Brigade Onder bevel van gen. maj. Theodore E Stephenson:
- 1st Essex Regiment
- 1st Yorkshire Regiment
- 2nd Royal Warwickshire Regiment
- 1st Welsh Regiment
- Artillerie:
- 83rd, 84th en 85th Royal Field Artillery
- 2 – Vloot 4,7 duim (11,9 cm) kanonne (onder meer die Lady Roberts kanon)
- 2 – Vloot 12 ponder (7,62 cm) kanonne
- 2 – 5 duim (12,7 cm) Vesting kanonne
- 7th en 12th Imperial Yeomanry
- •Berede Troepe:
- 2nd Western Australia Mounted Infantry
- Struben’s Scouts
- Prince Albert’s Guard
- 12th Coy Royal Engineers
Die mag het bo en behalwe die treine, ongeveer 300 ossewaens met 5000 osse gehad, waterkarre met twee osse elk, ambulanswaens met agt muile elk en dan slagvee wat saam aangejaag is. Voer vir die massa beeste en perde is per trein aangery en is uit onder meer Argentinië ingevoer (Die bron van die kakiebos en die kosmos blomme!).
Die Boere magte val redelik ordeloos terug voor die mag in die rigting van Belfast, en die Britse intelligensie rapporteer dat die pad uit Middelburg na Belfast ’n konvooi van Boere waens en perdekarre, troppe vee en burgers te perd is wat probeer wegkom voor die mag.
Na ’n wye veeg-beweging deur genl. French al langs die Wilgerivier, beset hy op Vrydag 27 Julie 1900 Middelburg. Die inname verloop vreedsaam en die oorgawe van die dorp deur waarnemende landdros JWS van Woudenberg vind plaas voor die landdroskantoor in OR Tambostraat (toe Markstraat), teenoor die Witkerk (waar die Hooggeregshof tans is).
Verdediging van Middelburg
Die dorp word nou die hoofkwartier vir die Britse magte en die massiewe mag met hul voorraad waens, trekdiere en kanonne trek die dorpie binne. Die eenhede ontplooi in of om die dorp. Die Britse bevelvoerder vestig sy hoofkwartier in Highbury Hall in Walter Sisulustraat. Terwyl die verskillende eenhede van die 11e Divisie oral in en om die dorp ontplooi. Op elke oop area word tente opgeslaan. Verdere magte kom aan om die kommunikasielyne te beskerm, terwyl Roberts sy mag opbou vir die aanmars na Machadodorp – die tydelike hoofstad van die Zuid-Afrikaanse Republiek.

Hoewel die dorp beset was, was die oorlog nie verby nie. Die Boere-magte val terug in die rigting van Belfast en verskeie Boere Kommando’s was nog in die omgewing. Die Britse besettingsmag begin dadelik om hulle te verskans deur verskeie strukture, fortifikasies en sangers in te rig. Vele van dié is slegs tydelike verskansings en wagposte. Verskeie strukture is opgerig op die hoë grond om die dorp, maar veral die noord-oostelike gebied word as kwesbaar beskou weens die terugval van die Boeremagte na Belfast en die Boeremagte in die Stoffberg en Bothasberg omgewing.


Blokhuise
Een van die eenhede in die 11e Divisie is van die 23rd (Field) Company, Royal Engineers, ’n troep van die 12th Royal Engineers, wat onder meer verantwoordelik is vir die bou van blokhuise onder bevel van maj. Spring Rice RE.

Met sy aankoms in Middelburg, net voor die begin van die guerilla-fase van die oorlog, is veral agtkantige blokhuise gebou, wat hout en sink benodig het. Maj. Spring Rice se tweede in bevel, kaptein George Fowke RE, kom met die idee om ’n ronde blokhuis te bou uit gebuigde sinkplaat, bestaande uit ’n dubbel wand van sink met die ruimte tussen die twee lae gevul met klippe en grond. Die strukture is baie vinniger om op te rig as die vorige strukture en het nie hout, wat skaars was, benodig nie.


Die Troep kry ’n sinkroller masjien om watertenks te buig en kaptein Fowke begin eksperimenteer om blokhuise van sink te bou. Hulle vestig hul vervaardigingsfasiliteit in Middelburg wat die sink rol, voorberei en dan elke sinkplaat nommer, om dan gemonteer te word op strategiese punte. Die blokhuise was ongeveer 4,5 m in deursnee. Die sink is ingevoer uit Wolverhampton in Brittanje, is per trein tot in Middelburg vervoer en dan in die fasiliteit in die omgewing van die stasie gerol. Die produksie was ongeveer twee blokhuise per dag! In totaal word meer as 9000 blokhuise in Suid-Afrika opgerig. Hierdie tipe blokhuise staan bekend as Rice Pattern Blokhuise, vernoem na maj. Spring Rice, alhoewel dit Fowke se idee was.



Die eerste twee van hierdie ronde sink blokhuise is op 31 Januarie 1901 aan beide kante van die treinbrug oor die Klein Olifantsrivier op pad na Belfast opgerig.
Kanonkop
Op ’n onbekende datum, waarskynlik circa Augustus 1900, word die eerste fortifikasie op die hoogste punt van die koppie noord van die dorp opgerig. Die Jeppe kaart uit die periode dui geen naam aan vir die koppie nie, terwyl die Britte na Wagonhill verwys. Die hoofpad vanaf beide Stoffberg en Lydenburg het in die periode oor Keerom na Meijerbrug gestrek. Die strategiese posisie op die koppie bied nie net ’n panoramiese beeld van noord na suid oor die dorp nie, maar sou ook ’n ideale verdedigingspunt gewees het om ’n padlangse aanmars te stuit.

Die blokhuis was ’n tipiese “Peperpot” ontwerp van gebuigde sink met gruis en klippe tussen die wande en dan versterk met ’n grond en klipwal.

As deel van Militêre-gesag word ’n aandklokreël op die dorp ingestel, wat inwoners verbied om na donker op straat te wees. As deel van die afdwing van die aandklokreël is twee soekligte op die blokhuis gemonteer, wat na donker oor die dorp beweeg het. Die soeklig was aangedryf deur ’n kragparaffien dinamo met ’n koolstof-boogvlam lig en was besonder kragtig. Elektrisiteit opwekkers is ook bedryf deur die Royal Engineers. Twee verdere kleiner blokhuise aan die kante het waarskynlik die dinamo’s gehuisves.


Kaptein Jack Hindon beskryf dat die soeklig van ongeveer ’n uur na sononder aangeskakel is en oor die dorp willekeurig gevee het vir die hele nag. Hindon noem dat die lig hul verblind het en dat hulle hulle in die omgewing van Meyerstraat by die stasie, hul perde omgedraai het as die lig aankom, om te voorkom dat die perde se oë reflekteer. As die afstand van die posisie na die dorp in ag geneem word, is dit ’n aanduiding van die lig se sterkte.
Die lig moes ’n reikafstand van ses kilometer gehad het om effektief die sentrale deel van die dorp te kon bereik. Koch verwys dat dit etlike myle ver geskyn het.

By die blokhuis/fortifikasie op die kop is ’n kanon (of kanonne) geplaas. Geen inligting kan opgespoor word oor die spesifieke kanonne nie. Dit was waarskynlik 12 ponder of 15 ponder veldkanonne, wat die werkesels van die Britse Veld Artillerie was. Daar bestaan wel ’n foto van die kanon in die fortifikasies by Standerton en daar kan met redelike sekerheid aanvaar word dat die kanonne op Kanonkop in soortgelyke stellings geplaas is en noord en noord-oos kon vuur. Daar was wel twee vyf duim (12,7 cm) massiewe vesting kanonne in die 11e Divisie. Die swaar kanonne, wat meer as 2 000 kg elk geweeg het, was bedoel vir die beleg van Pretoria, maar is nooit gebruik nie. Die kanonne met ’n reikafstand van agt kilometer was te lomp vir veldoperasies, maar is wel gebruik in die slag van Bergendal. Of dit later terug gebring is na Middelburg is onbekend. Die veldkanon of kanonne moes beman gewees het deur die Royal Field Artillery, terwyl die Vloot kanonne deur die Naval Brigade beman is. Royal Horse Artillery het saam met Kavallerie beweeg, en sou onwaarskynlik kanonne in statiese posisie gelaat het.


Die reikafstand van die kanonne in gebruik deur die Britse magte:
- 15-Ponder:
- Tyd-slagdop: 3,7 km
- Perkussie rondte: 5,1 km
- 12 Ponder:
- Tyd-slagdop: 3,3 km
- Perkussie rondte: 5,4 km
Henri Slegtkamp beskryf hoe die Hindon se verkenners ’n groot trop beeste van die Britte geroof het in die area noord-oos van die dorp, in die area tussen die Konsentrasiekamp (wat ten tye op Kanonkop was) en die spoorlyn. ’n ”Bom” het tussen hulle geland, terwyl hulle die beeste oor die verdere hoë grond noord van Kanonkop gejaag het. Hy gaan dan voort om te beskryf dat die kanonne dan op hulle vuur, maar dat hulle oor die kop trek met die trop beeste.

Hierdie Blokhuis of fort was uniek aangesien dit waarskynlik die eerste was wat deur maj. Rice en kapt. Fowke ontwerp en gebou is en as prototipe gedien het vir verdere Blokhuise. Dit was ook toegerus met ’n soeklig wat met elektrisiteit gewerk het, terwyl daar nog geen elektrisiteit in Middelburg was nie. Die plasing van ’n kanon of kanonne by die posisie sou ’n naam aan ‘n nuwe woonbuurt van die dorp gee.
Wat word van die blokhuise?
Alhoewel daar volgens rekords 9229 Blokhuise tydens die oorlog gebou is, het baie min behoue gebly. Van die wat behoue gebly het is besig om te verval of geplunder te word. Die enigste agtkantige blokhuis is onlangs met ’n stootskraper platgestoot!
Hier in Middelburg waar die konsep ontwikkel is en die vervaardiging van honderde plaasgevind het, is geen voorbeeld van ’n Rice Pattern blokhuis behou nie.

Daar is tans nog enkele Blokhuise in hoë risiko posisies wat na bewaringspunte geskuif moet word, om hierdie produkte van Middelburg en die oorlog te bewaar. Daar is ’n geleentheid om so ’n Rice Pattern blokhuis, wat hier gebou is, terug te skuif na Middelburg en saam met ’n sinkroller vir die nageslag as voorbeeld van innovasie te bewaar. Middelburg Erfenis probeer tans die projek van die grond af kry en soek ’n geskikte plasingspunt vir uitstalling.
Ongelukkig het die blokhuis en kanonstelling, waarna Kanonkop vernoem is, met die jare verval tot slegs ’n hoop klippe. Die fondamente is egter nog sigbaar.


Die bron van Kanonkop se naam vir altyd verlore!
Middelburg Erfenis het ’n Blou Erfenis Bordjie by die terrein geplaas.
Dalk kan ’n Blokhuis weer in Middelburg vertoon word?
- Bibliografie beskikbaar vanaf die outeur.