News

Die week in Middelburg se erfenis – 17 Augustus

KRUGERDAM

Met die aanlê van Middelburg word melding gemaak dat die dorp aangelê sal word langs die eerste spruit van die [Klein] Olifantsrivier. Dit word later nader bepaal as anderkant Klipspruit en duskant (Oos) van die eerste spruit van die [Klein] Olifantsrivier. Die lae ligging van die rivier en die tegnologie van die era, het water voorsiening uit die rivier aan die dorp egter beperk. Daar word dus bepaal dat Klipspruit en Keerom spruit uitsluitlik vir water vir die dorp geoormerk is en nie herlei mag word nie.

In die aanvanklike dorp uitleg is water voorsiening aan die dorp dus hoofsaaklik uit spruite wat ontspring by hoërliggende fonteine beplan. By die koop van die plaas Sterkfontein vir die dorp word daar weereens na water verwys, deurdat twee “watererwe” aan Lodewyk de Jager toegestaan word d.w.s erwe wat toegang het tot water uit die spruite. Vir huishoudelike gebruik het verskeie huise putte gehad waaruit drinkwater met handpompe verkry is.

Dit word egter gou duidelik dat die spruite en fonteine onvoldoende water vir die dorp voorsien, en veral na die voltooiing van die spoorlyn in 1894 word meer water benodig vir die stoomlokomotiewe. Die lokomotiewe neem 6900 liter water in vir die rit tot by Wonderfontein of Uitkyk stasies – ongeveer 420 liter water/km! In 1896 rig die Landdros Gert du Toit ‘n skrywe aan die Staatsekretaris, gerugsteun deur ‘n versoekskrif deur die inwoners, oor watervoorsiening.

In 1897 laat die Zuid-Afrikaanse Regering ‘n dorpsdam suid van die dorp bou, met ‘n gravitasie vloei na die dorp. Die dam kos destyds £3 400.

In 1918 word ‘n verdere dam, die Alfred Robertsondam, suid-wes van die dorp gebou teen £1 280 om veral die stasie van water te voorsien vir die toenemende spoorverkeer.

In 1930 word die Athlone dam teen £2740 net bo die ontvang area van Krugerdam gebou om drinkwater aan die dorp te voorsien. Die Pienaardam (Vaalbank) word in 1937 gebou vir £7 000.

BOU VAN KRUGERDAM

In 1896 gee die Staatsekretaris goedkeuring aan Landdros Gert du Toit om ‘n dorpsdam te bou. Publieke Werke het beraam dat 9700 m3 grond nodig sou wees vir die dam. 9 Wit werkers en 10 swart werkers is in diens geneem om die damwal te bou. Om die grondwal verder te versterk is die damwal met stene geplavei. Daar kan aanvaar word dat grond met behulp van Skotskarre ingery is. ‘n Skotskar was ‘n twee-wiel houtwa, dikwels toegerus met ‘n tip bak, wat deur twee osse getrek is. Die grond sou verder met ‘n os-damskrop opgewerk gewees het vanuit die dam na die wal en dan ook opgewerk is na die kante van die dam. ‘n Os-damskrop was basies ‘n raam met ‘n metaal bak wat deur twee tot vier osse gesleep is en so grond opgewerk het na die wal.

Skotskar soos waarmee grond vir die Krugerdamwal aangery is (Foto: Prins Albert Museum)
Os Damskrop soos waarmee Krugerdam se wal gebou is (Foto: You Tube)

Die dam vorder fluks onder beheer van EP Scheepers en teen 20 Junie 1889 is die dam geïnspekteer en goedgekeur. Wanneer die besluit geneem is om die nuwe dorpsdam Krugerdam te noem, is onbekend. Paul Kruger is in 1888 vir ‘n tweede termyn as President van die Zuid-Afrikaanse Republiek verkies. Hy was op 23 Desember 1889 in Middelburg en kon moontlik by die geleentheid die dam geopen het. Hy beantwoord by die geleentheid vrae oor die spoorlyn en die vestiging van die Tweede Volksraad, maar daar is nie rekord van ‘n toespraak nie. Daar word egter algemeen aanvaar dat die dam na SJP Kruger (1825-1903), vernoem is.

Die oorloop stelsel van die dam bestaan uit ‘n klip gepakte kanaal wat met sement uitgevoer is. Die oorloop is aan die westekant van die dam gebou met ‘n kanaal wat eindig in ‘n ronde vloei breker om die krag van vloedwater te breek, voor dit dan trapsgewys uitloop in ‘n leivoor na die dorp, met res van die water wat in die spruit afloop. ‘n Beton bruggie strek oor die oorloop area na die damwal.

Oorloop kanaal en vloei breker van Krugerdam (Foto’s: Rudi van Wyk)

Vanuit die dam het ‘n leivoor water gelei na die dorp waar dit in leivoor-kanale verdeel het wat parallel met die ou strate geloop het. Die leivore is van uitkeer sluise van hout voorsien, waar die water dan in ‘n erf ingekeer is vir tuinmaak tydens die erf se leibeurt. Water is op verskillende dae in die leivore gelei na ‘n spesifieke deel van die dorp. ‘n Water fiskaal was verantwoordelik om die vloei uit die dam te koördineer en dan verskillende erwe hul leibeurt volgens tyd toe te ken. Leivore het onder deur die straatkruising in duikers gevloei.

Spruit onderkant Krugerdamwal (Foto: Rudi van Wyk)

Leibeurte en “steel” van ‘n buurman se leibeurt het tot vele kwaai vriendskappe en konflik tussen bure gelei. Binne die erf was die eienaar verantwoordelik vir sy eie leivore wat water na die beddings gelei het. Die leivore eindig in die rivier, so water kon deur die dorp tot by die rivier vloei.

Leiwaterkanaal langs Markstraat (OR Tambo straat) – hoek met Joubert straat (Foto: Epstein Poskaarte – Rex Hilligan)
Leiwaterkanaal langs Markstraat (OR Tambo straat) – let op die bruggies by elke huis (Foto: Rex Hilligan)
Leiwaterkanaal in Lang straat (SADC Straat) (Foto: Rex Hilligan)

In die laat 1950 ’s is die leiwater gestaak en in die sestiger jare is die leivore met stormwater pype vervang.

KRUGERDAM TYDENS DIE ANGLO-BOEREOORLOG

Op 27 Julie 1900 beset die Britse magte Middelburg en die massiewe 11e Divisie met 6000 man, met ongeveer 300 ossewaens en 5000 osse, trek die dorp in. Die verskillende eenhede van die Mag slaan hul kampe op elke oop area in en om die dorp op. Die massa trekdiere benodig drinkwater en van die leivore word suipings vir perde, terwyl die osse hoofsaaklik by die rivier suip. Die Britse kampe om Krugerdam begin die dam gebruik om wasgoed te was. Toe dit warmer geword het, word Krugerdam ook ‘n gewilde swemplek vir soldate.

Teen Desember 1900 word die Konsentrasiekamp in Middelburg suid van die spoorlyn gevestig. Drinkwater is nou kritiek, en ses putte word gegrawe vir die inwoners. ‘n Deel van die kamp na die weste moet egter water uit die leivoor vanuit Krugerdam gebruik vir drinkwater. Met die Britte wat in water swem en wasgoed was, perde wat in water van die leivoor staan en suip, is die water erg gekontamineer.

Hoof Leiwaterkanaal na Dorp vanaf Krugerdam langs Coetzee straat (John Magagula straat) tydens wasdag vir die Konsentrasiekamp (Foto: Tinus le Roux)

Na die Vredesluiting vestig die massiewe Imperiale Garnisoen in Middelburg in die Clubville area. Daar bestaan geen rekord van waar die water vir die area vandaan gekom het nie, maar met Krugerdam as enigste bron ten tye, moet aanvaar word dat water uit dam na die Kantonnemente gelei is.

Krugerdam circa 1904 – alhoewel die byskrif Reservoir aandui is Athlone dam wat toe as die Reservoir bekend gestaan, het eers in 1930 gebou (Foto: Laver Poskaarte – Rose Antrobus)

In die periode na die Anglo-Boereoorlog heers daar in amptelike kringe ‘n anti-Kruger sentiment. Of die dam wel toe amptelik Krugerdam was, is onbekend, maar in al die dokumente en koerant berigte uit die periode word die naam nooit gebruik nie en word daar na “the lake” verwys. Alle foto’s verwys ook na “the lake”.

KRUGERDAM AS ONTSPANNINGSOORD

Na die Oorlog begin die dam geleidelik ontwikkel as ‘n ontspannings-area vir inwoners. Aanvanklike rekords verwys na die pan by Panstasie aan die oostekant van die dorp as die piekniek plek vir inwoners.

Piekniek en bootrit by Pan 1908 – let op die kleredrag vir ’n piekniek (Foto: Laver Versameling – Rose Antrobus)

Die Stadsraad rig nou ‘n grasdak lapa net wes van die wal vir ontspanning op. Die lapa is voorsien van ‘n kiosk waar versnaperings verkoop is.

Lapa by Krugerdam circa 1929 – ‘n deel is later gesloop  – Onbekende geleentheid (Foto: Laver Versameling – Rose Antrobus)
Krugerdam lapa en kiosk in voorgrond, voëlhokke links en die nuwe ontspanningsaal in die agtergrond 1964 – let hoe laag die watervlak is. die swemarea het geen water in nie. (Foto: Eeufees Publikasie – KI Gerestoureer en gekleur)

‘n Sement wal word deur die Noord-Westelike hoek van die dam gebou as ‘n swemplek. Vir baie jare is hierdie area, en die watergate in die rivier, die enigste swemplek vir die dorp.

‘n Foto in Die Observer van 31 Januarie 1930 wat verwys na die swemgala wat in die dam aangebied is op 22 Januarie 1930 – Let daarop dat die lapa nog nie vergroot is nie (Foto: Die Observer)
Swem-area by Krugerdam circa 1929 (Foto: Laver Versameling – Rose Antrobus)

‘n Hout stellasie met duikplanke word op die wal opgerig, en baie brawe seuns van die dorp demonstreer hul durf deur van die boonste duikplank af in die water te spring, om die nooiens op die wal te beïndruk.

‘n Foto uit die Observer 1930 waar die damwal en duikplank duidelik sigbaar is ((Foto: Die Observer – KI Gekleur)

Die Stadsraad bou ook ‘n grasdak boothuis waar roeibote en kano’s gehuur kan word om op die dam te roei. Die roeibote was vir baie jare in gebruik as ontspanning vir inwoners. ‘n Groot voëlhok met duiwe en ander voëls word opgerig aangrensend tot die lapa en poue word op die terrein gevestig. ‘n Speelpark vir kinders met swaaie en ‘n “foefie-slide” is baie gewild.

Boothuis en Roeibote 1928  (Foto: Publikasie – Rex Hilligan – KI Gekleur)

In die sestiger-jare verskyn die eerste motorbote in Middelburg. Die swem-area van die dam word nou afgesper met ‘n ketting met gekleurde dromme om motorbote uit die swem-area te hou. Saterdae en Sondae spog inwoners soos Dolf Ross met sy motorboot, wat waterskiërs deur die dam trek. Die boomryke walle aan die westekant is ‘n gewilde piekniek area. ‘n Kinderswembadjie word direk noord van die kiosk opgerig.

Krugerdam 1928 – (Foto: Publikasie – Rex Hilligan – KI Gekleur)

Die Stadsraad bou ‘n aantal rondawels wat verhuur word en lê ‘n karavaanpark uit. Krugerdam word nou ‘n vakansieoord vir die omgewing.

Karavaanpark en rondawels 1964 (Foto: Eeufees Publikasie – KI Gekleur)

1970 word deur die Regering tot Waterjaar verklaar. Dit behels groot ontwikkeling by Krugerdam as deel van die Waterjaar projek. ‘n Nuwe ontspanningsaal met kleedkamers word gebou en die fasiliteit kan gehuur word vir danse en troues. Dit word ‘n sosiale mekka vir ‘n deel van die dorp se inwoners. ‘n Groot moderne swembad word opgerig en die ou fasiliteite in die dam of verwyder of verval in onbruik. Water sirkuleer ook deur ‘n groot spuitfontein terug na die dam om die water te oksigineer.

Raadslid Pikkie Coetzee, Burgermeester, open die swembad as deel van die Waterjaar Februarie 1970 (Foto: Die Observer)

‘n Wildkamp word op die weste van die terrein gevestig en veral Oorbietjie bokkies word hier vertoon.

Teen die middel 1970’s is die Krugerdam ontspanningsoord ‘n gevestigde ontspannings fasiliteit met saal-geriewe, swembad en rondawels om in tuis te gaan.

ALFRED ROBERTSONDAM

In 1918 word die Alfred Robertsondam in Merryspruit gebou en die water herlei na die stasie om water aan die stoomtreine te voorsien. Dit het algemeen bekend gestaan as die Spoorwegdam. Die dam is vernoem na Alfred George Robertson (1867 – 1929) wat die Administrateur van Transvaal van 1917 tot 1924 was.

Alfred George Robertson (1867 – 1929) (Foto: Wikipedia)

ATHLONE DAM

Soos die behoefte aan water toeneem, word die Athlone dam in 1930 as primêre bron van drinkwater gebou in die boonste opvangsgebied van Krugerdam. Die dam is vernoem na Alexander Cambridge, 1ste Graaf van Athlone, die Goewerneur Generaal van die Unie van Suid-Afrika 1924–1930. Aanvanklik bekend as die Reservoir, word dit amptelik geopen deur die Goewerneur Generaal.

Alexander Cambridge, 1ste Graaf van Athlone (1874-1957) (Foto: Wikipedia)

Die Goewerneur Generaal – die verteenwoordiger van die Britse Koning in die Unie van Suid-Afrika en sy eggenote Prinses Alice, kom op Saterdag 15 November 1930 in Middelburg aan. Hulle word buite die dorp deur ‘n perde kommando onder bevel van majoor Scheepers verwelkom. Die Graaf word ‘n perd aangebied deur Daan Bosman en hy ry die dorp binne te perd. Op Rooth Plein (later van Blerk plein) inspekteer hy ‘n kadet-parade van die kadette van die twee Laerskole, die Hoërskool en die Ambagskool. Die Girl Guides and Brownies is ook teenwoordig. Hy word verwelkom deur die Burgermeester JD Minnaar en ontvang ook ‘n adres van LA Bhadha namens die Indier gemeenskap. Die parade, insluitend ‘n aantal Oudstryders uit die Eerste Wêreld oorlog, defileer hierna verby die Goewerneur Generaal. Na ‘n ete in die Imperial Hotel word die Athlone Dam amptelik geopen. Besighede in die dorp is versier vir die Goewerneur-Generaal se besoek.

Verskeie verdere aktiwiteite word aangebied ter viering van die besoek, soos ‘n swemgala in Krugerdam, ‘n babaskou en die aand ‘n dans in die Imperial Hotel. Die Maandag word tot ‘n skool vakansiedag verklaar deur die Goewerneur Generaal.

Die Goewerneur-Generaal – die Graaf van Athlone links voor, lei die perdekommando in Markstraat (OR Tambo straat) op hoek met Voortrekker Straat (Bhimy Dimane Straat) – Anglikaanse Kerk links sigbaar (Foto: Die Observer)

DIE WATERWERKE

‘n Watersuiwering-aanleg word noord van die wal van Krugerdam gebou en met ‘n pyplyn met Athlone dam verbind.

Plaket by die Waterwerke 14 September 1956 (Foto: Rudi van Wyk)

SLOT OPMERKING

Ongelukkig begin die tyd die Kruger dam kompleks inhaal, en die klem vir ontspanning verskuif na TV-kyk en vinniger motors wat langer ritte moontlik maak, en deftiger behoeftes vir akkommodasie en funksies. Die Oord verval vinnig en getalle neem af in ‘n bose kringloop van verval en laer besoekers getalle.

Krugerdam 2026 (Foto: Rudi van Wyk)

In hul wysheid besluit die stadsvaders om die Oord te sluit en op die end te verkoop aan ‘n privaat ontwikkelaar. So eindig ‘n nostalgiese era van piekniek met toebroodjies, frikkadelle en hardgekookte eiers, roeibote, swem uitstappies en motorbote op die dam. Jammer, maar die era is vir altyd verby!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button