Netbal is Kyra se gunsteling sportsoort
Kyra Hancke is aangewys as Hoërskool Ben Viljoen se sportvrou van die jaar, asook die veelsydigste sportvrou van die jaar vir 2024.
Kyra Hancke is nie net Hoërskool Ben Viljoen se sportvrou van die jaar nie, maar ook die veelsydigste sportvrou van die jaar.
Sy deel die veelsydigste sportvrou toekenning met Annè Marais.

Kyra is ’n graad 12 leerling en neem graag deel aan atletiek en netbal.
By atletiek geniet sy gewigstoot, diskus en 100m hekkies.
Sy het ook aan die sewekamp deelgeneem in 2024, waar sy haar staal moes wys in die 100m hekkies, 200m, 800m, gewigstoot, hoogspring, verspring en spiesgooi. Sy het die o/18 sewekamp kampioenskappe gewen!
Behalwe dat sy as doel, hulpverdediger en verdediger op die netbalbaan uitgedraf het vir die skool, was sy ook hulpdoel vir die Limpopo o/17 Morula-span.
Verder was sy in aksie by die Fast5 netbal en die Telkom netballiga.
Kyra vertel dat haar passie vir sport al van haar laerskooldae af kom.
“Mini-netbal was die begin van my een groot sportpassie. Die atletiekpassie het begin einde graad 3, toe ek vir die eerste keer hekkies voor my gesien het. My pa was my afrigter en die opgewondenheid as ek my hekkies regkry, daai gevoel, is ’n passie wat net aangehou groei het.”
Netbal is Kyra se gunsteling sportsoort. “Dis lekker om deel te wees van ’n spansport. Die gevoel van sáám wen, sáám verloor, val en opstaan, om te hoor ‘jy het dit’ as dit jou af dag op die baan is, die gevoel van deel te wees. Hierdie gevoel is my rede waarom netbal altyd my eerste keuse sal wees. ”
Vir haar is die roetine wat sport verseker ’n goeie toevoeging tot haar daaglikse lewe. “Roetine en dissipline is belangrik. Maar die positiewe wat dit bring vir my gesondheid is die belangrikste, want ek hou van lekker eet.”

Kyra vertel dat haar hele familie haar grootste ondersteuners is wanneer dit kom by haar sport. “Van my ma en pa, boeties en sussies tot my ouma en oupa is my grootste ondersteuners. Die oproep van oupa af voor elke sportbyeenkoms, my ma of pa wat sorg dat daar elke keer iemand is wat gaan kyk, al is dit moeilik, maar ’n plan sal gemaak word. My kleinboetie wat met ’n breë glimlag na my toe aangehardloop kom en sê ‘geluk!’ Sonder my familie, dink ek, sou sport nie so ’n belangrike rol in my lewe gespeel het nie.”
Haar grootste drome is om aan die Afrikaspele deel te neem vir sewekamp, en om ook vir die Proteas eendag netbal te kan speel.
Sy beoog om ná skool op universiteit verseker aan te hou met sport. “Ek sal graag vir ’n universiteit netbal wil speel of aan atletiek deel te neem by ’n klub. Dis ’n mikpunt vir my.”
Kyra vertel dat Hoërskool Ben Viljoen ’n aanwins is vir haar sport, en ook vir enige leerling wat ’n passie vir sport het.
“Ons sportgronde is verseker van die mooiste in Limpopo. Die passie wat elke afrigter het en die pad wat hulle saam met elke kind stap, maak Hoërskool Ben Viljoen ’n besonderse skool vir sport.”
Sy het ook ’n uitblink hoogtepunt gehad vir 2024: “My hoogtepunt was verseker toe ons ’n tuisbyeenkoms gehad het vir atletiek en ek net vir voorbereiding vir my sewekamp aan die hoogspring deelgeneem het en die rekord wat al sedert 1999 staan, verbeter het.”
Kyra se leuse is: “If my mind can conceive it and my heart can believe it – then I can achieve it.”
