Observer Daller

Loskopvallei-geskiedenis: Voortrekkers tot prospekteerders

Die Observer Daller delf dieper in die Loskopvallei se geskiedenis en ontdek die verhale van die eerste Voortrekkers en pioniers.

Die geskiedenis van die Loskopvallei is dikwels fragmentaries en moeilik om volledig na te vors. Talle argiewe het oor die jare verlore gegaan, terwyl baie verhale saam met die streek se eerste Voortrekkers en pioniers die graf in is.

Die Observer Daller begin daarom ’n reis om die Loskopvallei se geskiedenis te versamel, te bewaar en vas te vang sodat hierdie waardevolle erfenis nie verlore gaan nie.

In hierdie eerste artikel word daar gefokus op die Voortrekkers, pioniers en prospekteerders wat die grondslag van die Loskopvallei se geskiedenis gelê het.

Voortrekkers vind ’n nuwe tuiste

Reeds vanaf ongeveer 1840 het Voortrekker-pioniers hulle gevestig in die gebied waar die Loskopdam vandag geleë is.

Volgens oorlewering het hierdie eerste Trekkers hulle weg na die distrik van Groblersdal gevind ná die Britse anneksasie van Natal. Hulle het oor Vegkop na Marico getrek en van daar oor Bronkhorstspruit na Kruisrivier, Lydenburg en Ohrigstad gereis.

Ohrigstad het egter nie lank hul tuiste gebly nie. Die gevreesde malariakoors het die gebied geteister en talle gesinne gedwing om verder te trek. Onder leiding van Cornelius Johannes Vermaak het die groep uiteindelik ’n nuwe vestigingsplek in die omgewing van die latere Loskopdam gevind.

A black-and-white photo of a man in a hat and suit riding a horse. He is in a wooded area, exuding a calm, contemplative mood.
’n Tipiese boerekryger op sy perd gedurende die Tweede Vryheidsoorlog. FOTO: Marie Barnard/Loskop Inligtingsgids

Prospekteerders arriveer in die Vallei

Teen 1865 het die Loskopvallei die aandag van prospekteerders begin trek. ’n Onderneming bekend as Charter Kompanjie, Anderson, Pott & Kie het mineraalregte bekom en twee kobaltmyne in die gebied ontwikkel.

Malaria het egter weer sy tol geëis en verskeie boere het hul plase verlaat. Gedurende hierdie tyd het ’n uitlander, bekend as “Maurice”, glo verskeie van die verlate plase “geannekseer”.

Vandag is daar steeds oorblyfsels van sommige van hierdie ou kobaltmyne sigbaar, hoewel die kobaltwasserye reeds in 1939 vernietig is.

Saam met Maurice het ’n man bekend as “Whitehead” ook kobalt ontgin teen die rante tussen Kruisrivier en Goedgedacht. Volgens oorlewering is goud selfs soms onder die dekmantel van kobaltvervoer uit die gebied gesmokkel.

Langs die Kruisrivier bestaan daar steeds bewyse van vroeë kobalt- en kopermynbedrywighede, terwyl kopererts ook laer af langs die Olifantsrivier blootgelê is.

Black and white image of two people walking towards a rocky cave entrance surrounded by grass. The scene conveys curiosity and exploration.
Hennie Sadie en sy vrou, Miema, by die ingang van een van die kobaltmyne op die plaas Kruisrivier. Die foto is geneem in 1969. FOTO: Loskop Inligtingsgids

Die dag toe Orkaan die eerste motor sien

Een van die bekendste staaltjies uit die vroeë geskiedenis van die Vallei dateer uit 1904.

’n Groep prospekteerders, waaronder Jim Hart van Johannesburg, het destyds die gebied besoek. Hulle het onderweg oor die Kruisrivier by J. van der Smit aangedoen, wat reeds in vorige jare ’n dispuut met Maurice gehad het oor die beweerde anneksasie van plase.

Terwyl Van der Smit besig was om in ’n mielieland instruksies aan ’n werker bekend as “Orkaan” te gee om die bobbejane weg te hou van die gewasse, het die prospekteerders met hul motor daar stilgehou.

Van der Smit het saam met die besoekers in die voertuig geklim en in die rigting van De Wagendrift vertrek.

Vir Orkaan was die gebeurtenis egter iets ongekend. Dit was die eerste motor wat hy ooit gesien het. Volgens oorlewering het hy verskrik na mev. M.E. van der Smit gehardloop en uitgeroep dat hy daardie dag “die Here gesien het” en dat die Oubaas saam met Hom weg is.

Trekboere ontdek die vrugbare grond

Die Loskopvallei se vrugbare grond het ook die aandag van trekboere getrek.

Gedurende die wintermaande het boere vanaf die Hoëveld met hul vee na die Winterveld verhuis. Hier het hulle ontdek dat die grond besonder geskik was vir koringverbouing.

Met verloop van tyd het sommige boere al langer in die gebied vertoef en uiteindelik permanent gevestig geraak. Die ontwikkeling van die streek is egter telkens deur malaria-uitbrekings en veesiektes vertraag.

Transportryers het gereeld koring in die Vallei gekoop teen ongeveer een pond per leersak en dit daarna na Pietermaritzburg vervoer. Hierdie reise was lank en moeisaam en het gemiddeld een maand en 22 dae geduur.

Die Tweede Vryheidsoorlog laat sy merk

Die Anglo-Boereoorlog, ook bekend as die Tweede Vryheidsoorlog, het tussen 1899 en 1902 plaasgevind en het ook die Groblersdal-omgewing geraak.

Een van die bekendste gevegte in die streek was die Slag van Rhenosterkop, wat op 27 November 1900 plaasgevind het. Volgens beskrywings was Rhenosterkop ongeveer 30 km noord van Bronkhorstspruit en naby die huidige Groblersdal-omgewing geleë.

Verskeie interessante verwysings na die gebied kan gevind word in My Reminiscences of the Anglo Boer War, gebaseer op die dagboekinskrywings van genl. Ben Viljoen. Die streek se rol tydens die oorlog word verder beskryf in Roland Schacherling se Commandos Courageous, waarin verskeie gevegte en voorvalle uit die omgewing opgeteken is.

Illustration of a battle scene showing a heroic soldier raising an arm amidst chaos. Surrounding troops appear engaged in combat. The mood is intense.
Die Slag van Rhenosterkop. FOTO: My Reminiscence of the Anglo Boer War

Verhale wat nie verlore mag gaan nie

Hoewel baie van die Loskopvallei se geskiedenis met verloop van tyd verlore gegaan het, leef talle verhale steeds voort deur mondelinge oorlewering, familiegeskiedenisse en historiese publikasies.

Die Observer Daller se doel is om hierdie verhale te versamel en te bewaar sodat toekomstige geslagte steeds kan kennis neem van die mense, uitdagings en gebeurtenisse wat die Loskopvallei help vorm het tot die streek wat dit vandag is.

Help ons om die Loskopvallei se geskiedenis te bewaar

Die Observer Daller nooi inwoners, families en geskiedenisentoesiaste uit om deel te word van hierdie projek om die Loskopvallei se ryk geskiedenis te bewaar.

Indien jy oor ou foto’s, dokumente, familieverhale, interessante staaltjies of enige geskiedkundige inligting oor Groblersdal, Marble Hall, die Loskopvallei of omliggende gebiede beskik, word jy aangemoedig om dit met die Observer Daller te deel.

Deur hierdie herinneringe en verhale vas te vang, kan ons saam help om te verseker dat die geskiedenis van ons gemeenskappe nie verlore gaan vir toekomstige geslagte nie.

Persone wat geskiedenis, verhale of staaltjies wil deel, kan die Observer Daller kontak by news@daller.co.za of 082 575 7016. Alle bydraes, groot of klein, kan waardevolle stukke van die Loskopvallei se geskiedenis help bewaar.

Lees ook: Oud-Daller mik vir Mnr SA

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Janine Saayman

Janine has been working as a journalist/photographer since 2014 at the Daller in Groblersdal. She was awarded the O.H. Frewin Upcoming Journalist of the Year in her first year as a journalist. Janine has a passion for photography, writing, being creative and doing things to the best of her ability.
Check Also
Close
Back to top button